Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Smit-moorde: Allen ‘bewys onskuld’ met leuentoets

Roy Allen (72), die oudveiligheidspolisieman wat dekades lank as ’n hoofverdagte in twee opspraakwekkende onopgeloste moorde gebrandmerk is, het nou ’n poligraaftoets laat doen om sy onskuld te bewys – en die toets geslaag.

Allen se naam het destyds opgeduik ná die moord op dr. Robert Smit en sy vrou, Jean-Cora, op 22 November 1977 in hul huurhuis in Springs.

Smit het drie skietwonde en verskeie steekwonde aan sy rug gehad en sy vrou vier skietwonde en 14 steekwonde. Die kriptiese woorde “RAU TEM” is met rooi spuitverf teen die kombuismuur aangebring.

Die dubbele moord was kort voor die nasionale verkiesing waarin Smit (toe 42) as NP-kandidaat sou staan. Sedertdien is bespiegel dat die voorval ’n moontlike politieke moord kon wees, of dat die egpaar stilgemaak is omdat hulle oor plofbare inligting beskik het.

Roy Allen in 1993 op ’n formele weermag-ete. Foto: Verskaf
Sweedse eerste minister

Allen se naam het ook in verband met die moord op voormalige Sweedse premier Olof Palme opgeduik.

Palme, leier van die Sweedse Sosiaal-Demokratiese Party van 1969 tot sy dood, het op 28 Februarie 1986 kort voor middernag van die bioskoop af gestap toe hy op ’n kort afstand in die rug geskiet is.

Allen het Vrydagoggend met James Kemp, hoofredakteur van Pretoria FM se klankkoerant, oor die sluipmoorde gepraat.

“Allen het gelees dat Pretoria FM ’n poligraaftoets laat doen het op genl. Johan van der Merwe, ’n vermeende belanghebbende in die Birdeiland-sage,” het Kemp Donderdag aan Netwerk24 gesê.

“Hy het hom bereid verklaar om ook so ’n toets af te lê in die hoop dat hy kan bewys hy was nie by bogenoemde voorvalle betrokke nie.”

Allen sê al wat hom met die Smit-moorde kon verbind, is die feit dat sy verloofde in 1976 vir Robert Smit gewerk het. Allen het in daardie stadium vir die spesiale taakmag gewerk.

Allen het Donderdag aan Netwerk24 gesê hy is verlig oor die uitslag van die toetse ná jare waarin hy as ’n verdagte gebrandmerk is. Hy wou aan sy vriende en die Smit-kinders bewys hy was nie by die moorde betrokke nie.

“Van my vriende het gedink ek het dit gedoen. Nou kan ek die opname vir hulle aanstuur en sê: ‘Kyk, laat slapende honde nou slaap’.”

Allen sê veiligheidspolisiebeamptes word nie geleer om leuenverklikkertoetse te omseil nie. “Jy kan hoe goed opgelei wees, jy kan nie dit omseil nie.”

Allen het nooit enige bekentenis voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie gedoen nie.

“Ek buig nie ’n knie voor die WVK nie. Daar is geen bewyse nie,” het hy gesê.

Op die vraag wat hy sou doen as hy soos die voormalige veiligheidspolisieman Joao Rodrigues in die Ahmed Timol-saak vervolg sou word, is sy antwoord hy sal sê: “Bewys dit.”

Geen aanduiding van misleiding

Joanette Carsten, direkteur van die Poligraafinstituut van Suid-Afrika (Pisa) se integriteitsassesseringsentrum, het die poligraaftoetse gedoen.

Sy het twee afsonderlike toetse op 12 en 13 Februarie gedoen. Allen het in ’n stoel gesit met bande om sy bolyf wat sy asemhaling meet en ’n bloeddrukmeter om sy arm, terwyl Carsten hom gepeper het met vrae wat met die twee onopgeloste sake verband hou.

“Dit is ’n gestandaardiseerde wetenskaplike toets wat die waarskynlikheid van eerlikheid meet. Dit meet die afwykings wat in die liggaam plaasvind wanneer vrae gevra word,” verduidelik Carsten in die radio-onderhoud.

Hoe werk ’n poligraaftoets?

Allen is drie soortgelyke vrae vir die twee toetse gevra:

1. Het hy saam met enigeen die moorde beplan?

2. Het hy enigeen doelbewus gehelp om die sluipmoorde uit te voer?

3. Het hy die sluipmoorde uitgevoer?

Allen het op almal “nee” geantwoord en volgens Carsten is geen aanduiding van misleiding opgemerk nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.