Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Só berig buiteland oor ‘wit Zoeloe’ se dood

Suid-Afrika se “wit Zoeloe” is dood. Só lui koerantopskrifte in ander dele van die wêreld ná die dood van die sanger Johnny Clegg.

Die nuus van Clegg se dood het die voorblad van drie koerante gehaal in Frankryk, waar hy veral gewild was. Tientalle ander internasionale mediahuise, onder meer The New York Times, die BBC, The Guardian en Le Monde het Woensdag oor sy dood berig.

Die Britse Independent beskryf Clegg as ’n wit man wat geleer het om in Zoeloe te sing en praat, wat die wet oortree het deur saam met swart musikante musiek te maak in die apartheidsjare, en wat ’n simbool van die demokratiese Suid-Afrika geword het.

Die BBC berig Clegg en sy hibride musiek was ’n magtige berisping van die destydse regering en ’n herinnering dat apartheid ’n politieke keuse was wat weggevee kan word.

CNN berig Clegg se musiek het mense oor die wêreld heen geraak en dat hy sy liefde vir musiek gekombineer het met sy belangstelling in antropologie.

Verskeie buitelandse publikasies skryf oor die geskiedkundige oomblik toe oudpres. Nelson Mandela vir Clegg in 1997 op ’n verhoog in Duitsland verras het.

Daar is ’n insetsel oor Johnny Clegg se dood op Woensdag se voorblad van die Franse koerant Ouest France.
Die Franse koerant La Marseillaise verwys Woensdag op sy voorblad na Johnny Clegg as die “wit Zoeloe.”
’n Foto van Johnny Clegg is Woensdag op die voorblad van die Franse koerant Le Télégramme gebruik.Foto:

Clegg was besig om “Asimbonanga” te sing toe Mandela al dansende die verhoog opgestap het.

“Dit is musiek en dans wat my in vrede laat met die wêreld. En in vrede met myself,” het Mandela destyds op die verhoog gesê.

Hy het Clegg toe gevra om die liedjie te herhaal sodat almal saam kan dans.

“Dit was die hoogtepunt vir my. Dit was net ’n volmaakte en ongelooflike geskenk van die heelal,” was Clegg se reaksie destyds, berig The Guardian.

The New York Times berig oor hoe Clegg en sy orkeste gereeld deur die owerhede in Suid-Afrika geteister en soms selfs aangehou is. Hul vertonings is dikwels onderbreek.

Luidens dié koerant was Clegg veral gewild in Frankryk waar hy in 1991 vereer is met die Chevalier des Arts et des Lettres (ridder in die orde van kuns en letterkunde).

Hy is ook in 2015 vereer as ’n Officer of the Order of the British Empire (OBE).

Nigel Casey, die Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, het op Twitter sy medelye met Clegg se familie en vriende uitgespreek. “Vaarwel, Johnny Clegg OBE. ’n Vooraanstaande Suid-Afrikaner en ’n wonderlike siel.”

Meer oor:  Johnny Clegg  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.