Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Só dobbel SA deesdae – taksvry!

Sportweddenskappe is die kategorie van die Suid-Afrikaanse dobbelbedryf wat die vinnigste groei, wys syfers van die Nasionale Loteryraad. In die 2018-boekjaar was die omset van die gelisensieerde operateurs uit sportweddenskappe byna R40 miljard, teenoor R7,1 miljard in die 2012-boekjaar.

Dít terwyl die omset van casino­dobbelary en dié uit weddenskappe op perdewedrenne stagneer of daal.

Die omset uit sportweddenskappe is tans sowat 21% van die totale dobbelomset van R389 miljard in die 2018-boekjaar.

Volgens Maindhren Govender, bestuurder van sportweddenskappe by Sunbet, ’n filiaal van Sun International en een van die grootste operateurs in die veld, kan sportliefhebbers hul weddenskappe aanlyn of in van die groep se groot casino’s plaas.

Die meerderheid doen dit aanlyn en volgens John Kahn, hoofbestuurder, word meer as 70% van dié transaksies met Sunbet op selfone gedoen.

Die gewildste sportsoorte waarop Suid-Afrikaners geld verwed, is rugby, sokker en krieket, maar Sunbet aanvaar ook weddenskappe op gholf, tennis en Amerikaanse basketbal, voetbal en yshokkie.

Die uitbreiding van sportdekking op MultiChoice se SuperSport-kanale het dit vir die bedryf moontlik gemaak om ook hul aanbod uit te brei, sê Govender.

Daar is twee soorte weddenskappe, dié wat voor die afskop gefinaliseer word en die wat tydens die wedstryd plaasvind.

Sunbet het ’n paar jaar gelede die Britse weddenskapplatform Kambi aangeskaf, en die organisasie het meer as 3 000 ontleders wat op verskeie plekke in die wêreld sit en weddenskappe bestuur.

Daar is sulke groepe in Malta, Gibraltar, Brittanje en die Filippyne, sê hy.

Onder hulle is ontleders en wiskundiges wat die waarskyn­like uitslae van wedstryde beraam.

En hulle spesialiseer. Een persoon sal byvoorbeeld in krieket spesialiseer en net op boulwerk fokus.

Dis sy werk om elke bouler te ken, sy wedstrydprestasie en  sterk- en swakpunte, en te let op sy interaksie met spanmaats en teenstanders, die invloed van heersende weersomstandighede op sy vertoning en enige ander faktor wat die uitslag van ’n weddenskap kan beïnvloed.

Hy bestuur die intydse weddery en pas die waarskynlikhede aan namate die wedstryd vorder.

Wanneer die uitslag bekend is, sluit hy die toonbank, die uitbetalings word onmiddellik gefinaliseer en die geld is beskikbaar.

Tans is geld wat aan sportwedders uitbetaal word, nie in Suid-Afrika belasbaar nie, terwyl inkomste uit perdewedrenne wel is.

Weddenskappe kan wissel van minder as R10 tot honderde duisende.

Daar is weddenskappe op ál wat ’n ding is – wie die wedstryd gaan wen, wie die eerste doel gaan aanteken of die eerste paaltjie gaan vat, hoeveel viers of sesse in ’n krieketwedstryd behaal word, en baie meer.

Volgens Maindhren kan daar op tot 80 verskillende aspekte in een wedstryd verwed word. “En as iemand op iets wil wed wat ons nog nie aanbied nie, kan hulle net vir ons ’n e-pos stuur en ons sal dit oorweeg,” sê hy.

Meer oor:  Dobbelbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.