Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Só gaan SA vorentoe beweeg, sê afrigter oor Samaritaan
Mpho Mitchell, atleet van Pretoria, met die foto van hom en ’n medeatleet wat mense so aangegryp het.

Dade soos hierdie een is presies wat die land nodig het om vorentoe te beweeg.

So sê die afrigter van die landloopatleet wat Saterdag deur ’n barmhartige Samaritaan oor die eindstreep gehelp is.

Mpho Mitchell (16), ’n atleet van Pretoria, het kort voor die eindpunt op die Suid-Afrikaanse landloopklubkampioenskap in Potchefstroom inmekaargesak, maar Ronen Oosthuizen (17) van Rustenburg, wat eers verby hom gehardloop het, het hom tot by die eindstreep gehelp.

Die aangrypende foto’s, waarop dit duidelik is dat Mitchell weens hitte-uitputting baie pyn gehad het, wys hoe help Oosthuizen hom om die 6 km-wedloop te voltooi. Dit het mense se harte aangegryp.

Steve Mamasedi, Mitchell se afrigter wat die gebeure sien gebeur het, sê dit was ’n baie mooi daad om te aanskou.

“Ek leer my atlete om dieselfde te doen, want hulle weet nooit wanneer die dag kom dat hulle hulp benodig nie.

“Mpho was fiks en gereed en hy het voluit gegaan om die o.16-kampioenskap te probeer wen, maar die hitte was vir hom net te erg.”

Hulle het in dieselfde tyd, 23:55, oor die eindstreep gegaan wat aan Mitchell ’n 68ste en Oosthuizen ’n 85ste plek besorg het.

Oosthuizen het aan die o.17-wedloop deelgeneem. Die o.16’s en o.17’s het saam gehardloop.

Ronan Oosthuizen help 'n mededinger, Mpho Mitchell, oor die wenstreep. Foto: Rynardt van Rensburg, Spektor Fotografie

Mamasedi, wat Mitchell die laaste twee jaar as leerling aan die Rosina Sedibane Modiba Sport School brei, glo sy atleet het die potensiaal om dit nog ver te bring.

“Hy was reeds by die dokter wat sê hy is piekfyn. Hy gaan die week eers net rus en volgende week weer begin oefen.”

Allan Smith, nasionale verkoopbestuurder by Asics Suid-Afrika wat die foto’s van die twee atlete op Facebook geplaas het, sê hy gaan later in die week met hulle kontak maak om hulle vir ’n wedloop byeen te kry wat ook ’n verrassing vir hulle gaan inhou.

Smith se Facebook-inskrywing is ’n allemintige 14 000 keer gedeel met meer as 3 000 kommentare daarby.

Meer oor:  Atlete  |  Help
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.