Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Só het binnelanders die Lipton gevat

Die swaar weerstoestande en die groot hoeveelheid drywende plastiek in die see was die grootste uitdaging vir vanjaar se wenner van die Lipton-beker.

Joweal Claasen vier sy span se oorwinning soos hulle oor die wenstreep vaar in Tafelbaai. Die Witbank-seiljagklub het die naweek die Lipton-beker gewen. Foto: Liesl King

Die plastiek in Tafelbaai se waters het byna veroorsaak dat dié gesogte beker voor die lede van Witbank-seiljag-en-akwatieseklub van eMalahleni (Witbank) in Mpumalanga se neus weggeraap word.

“Daardie plastiek het ons amper die regatta gekos. Met die laaste resies het die plastiek om die boot se kiel verstrengel geraak. Ons moes stilhou, agteruit vaar om los te kom van die plastiek en toe verder jaag,” sê Mike Hayton, mede-skipper van die Witbank-seiljagklub, ook bekend as Nitro Racing.

“Dit is eintlik hartseer om te sien hoeveel rommel in die see uitspoel.”

Die Witbank-seiljagklub het Saterdag ’n groot opskudding veroorsaak toe hy die gunsteling en verdedigende kampioen, Royal Cape, onttroon het in die stryd om die Lipton-beker in Tafelbaai.

Die Lipton Challenge Cup word oor ’n tydperk van ses dae gehou en vanjaar het tien spanne van oor die land heen deelgeneem.

Die beker is in 1909 deur sir Thomas Lipton aan die Royal Cape-seiljagklub bemaak. Die eerste uitdaging is in 1911 gehou en is die enigste nasionale interklub-seiljagkompetisie in Suid-Afrika.

“Dit is die Curriebeker van seiljagvaarte waar die beste matrose teen mekaar resies jaag. Net die beste van die beste in Suid-Afrika neem deel en dit is waarom dit só groot ding is om te wen,” sê Hayton.

Die bemanning van die Nitro van die Witbank-seiljagklub probeer die boot plat hou. Dié span van Mpumalanga het Saterdag die Lipton-beker gewen.Foto: Liesl King

Die Witbank-klub is aan die suidwestelike oewer van die Witbankdam in die Bankenveld-bewaringsgebied geleë. Die klub het tot stand gekom in die laat 1960’s en het sowat 300 seiljaglede, waarvan so 50 mededingende lede is.

Vanjaar het spanne vir die eerste keer op die nuut ontwerpte Cape31-seiljagte om die nasionale klubtitel meegeding. Dit benodig sewe lede om te vaar, maar dan is daar ook lede wat agter die skerms werk.

Die Witbank-seilspan het op die jag Nitro met sy rooi seil deelgeneem. Nitro is ’n jaar gelede bekendgestel met die hoofdoel om die Lipton-beker te wen.

Dié klub wat met die beker weggestap het, bestaan uit 11 lede tussen 23 en 50 jaar oud. Die sewe mans wat die boot gestuur het, is David Rae (skipper), Hayton, Markus Progly, Paul Aladice, Gary Sindler, Murray Willcocks en Joweal Claasen. Die lede op die grond wat gesorg het dat alles seepglad verloop, is Shaun Ferry, Erik Bjerring, Sean van Rensburg en Caylee Cook.

Die Witbank-seilspan het op die jag Nitro met sy rooi seil deelgeneem. Nitro is ’n jaar gelede bekendgestel met die hoofdoel om die Lipton-beker te wen en het eindelik Saterdag in sy doel geslaag in Tafelbaai.Foto: Liesl King

Van Maart het die span op ’n weeklikse grondslag geoefen en die laaste twee maande drie keer per week – Woensdae en naweke – in Tafelbaai.

Die Witbank-seiljagklub seil in die wind in. Dié klub het die naweek die Lipton-beker in Tafelbaai gewen.Foto: Liesl King

Dit het baie reistogte geverg tussen Witbank en die Kaap.

Hayton voer aan die fisiese oefening buite die water was ook net so belangrik, weens die uithouvermoë wat vereis word, asook die geestelike voorbereiding.

“Geestelik was die Lipton-beker ook ’n groot uitdaging. As ’n span was ons geestestoestand een van ons sterkpunte en het ons nie toegelaat dat die sielkundige slae tussen die spanne ons onderkry nie,” sê Hayton.

“Ons het ’n benadering aangepak om nie opgewerk te raak nie. Ons moes net seker maak dat ons geestelik sterk bly, wat in die laaste resies as ’n karaktertoets gekom het.

“In ’n stadium was ons laaste en het daarom amper die hele regatta verloor. Ons moes bybly by Royal Cape. Hulle was in een stadium in die tweede plek en ons was laaste en ons moes naby hulle bly om te verseker dat ons nie die regatta verloor nie.”

Dit is die sewende keer dat die Witbank-seiljagklub deelgeneem het aan die Lipton Challenge Cup en die eerste keer dat hy met dié gesogte beker wegstap.

“Sedert die bestaan van die Lipton-beker is dit die tweede keer dat ’n binnelandse seiljagklub wen. Dit maak dit net nog meer spesiaal om te wen,” sê Hayton.

Die beker is nog in Kaapstad, terwyl daar voorbereidings getref word om dit binnekort na eMalahleni te bring.

Mike Hayton, medeskipper van die Witbank-seiljagklub, is in ekstase oor sy span se oorwinning. Foto: Liesl King
Die Witbank-seiljagklub is vanjaar die wenners van die 66ste Lipton-beker wat plaasgevind het in Tafelbaai. Dit is die eerste keer dat dié klub met die gesogte beker wegstap. Foto: Liesl King
Die Witbank-seiljagklub het Saterdag die gunsteling en verdedigende kampioen, Royal Cape, onttroon in die stryd om die Lipton-beker in Tafelbaai. Sewe lede word benodig om die Cape31-seiljag te stuur.Foto: Liesl King
Die Nitro van die Witbank-seiljagklub vaar bykans op sy sy in sterk winde en woelige seetoestande.Foto: Liesl King

Meer oor:  Lipton  |  Tafelbaai  |  Seiljag  |  Binnelanders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.