Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Só het Seriti ondersoek na wapens gekelder

Die Seriti-ondersoek na die multimiljardrand-wapentransaksies het sleutelbewyse geïgnoreer en nooit die getuienis van deurslaggewende rolspelers getoets nie.

Regter Willie Seriti

So het die regsverteenwoordigers van Corruption Watch (CW) en die Right2Know-veldtog Dinsdag voor ’n volbank regters in die hooggeregshof in Pretoria aangevoer in ’n poging om Seriti se bevindings tersyde te stel. Die twee nieregeringsorganisasies vra egter nie dat die hele ondersoek onder ’n nuwe regter herhaal moet word nie, want die Seriti-kommissie het reeds “meer as R140 miljoen gekos”, het Ghalib Galant, adjunk- nasionale koördineerder van R2K, Vrydag gesê.

“As ons slaag, hoop ons die nasionale vervolgingsgesag sal met hul eie ondersoeke begin en vervolgings instel.”

David Lewis, uitvoerende direkteur van CW, stem saam dat “nog ’n uitgerekte kommissie oor die wapenprogram nie ’n prioriteit is nie”.

“Indien ons suksesvol is, sal dit die wyse vestig waarop ondersoekkommissies veronderstel is om hul taak te verrig,” sê Lewis.

Seriti het in 2016 bevind daar was geen korrupsie en onreëlmatighede in die wapentransaksies nie ondanks verskeie ondersoeke in Suid-Afrika en in die buiteland wat tot ’n ander slotsom gekom het. Die regter het alle bewerings van ongerymdhede in sy verslag aan oudpres. Jacob Zuma as “wilde aantygings” en “hoorsê” verwerp.

Verskeie lede van die oorspronklike ondersoekspan het destyds een vir een uit die Seriti-kommissie bedank. Een van hulle is regter Willem van der Merwe, wat in 2011, pas ná die aanstelling van die kommissie, onttrek het. Daarna het die bedanking van adv. Barry Skinner SC, adv. Carol Sibiya en die getuienisleier adv. Ta­yob Aboobaker gevolg. Skinner en Sibiya het aangevoer Seriti het geweier dat hulle getuies ondervra.

Die twee nieregeringsorganisasies het maande lank probeer om ’n volledige weergawe te bekom van Seriti se bevindings. Ná “oponthoude, dwarstrekkery en trae samewerking” het hulle uiteindelik in 2018 ’n beperkte hoeveelheid ontvang.

Die koste van die wapenaankope, wat op die wagbeurt van oudpres. Nelson Mandela gebeur het, is in 1999 as R30 miljard aangedui. Die mees onlangse skattings was R65 miljard en betalings moet nog tot 2022 geskied.

“Die kommissie het nie sy ondersoek behoorlik uitgevoer nie,” het adv. Geoff Budlender SC, vir die aansoekers, Dinsdag gesê.

Die kommissie het volgens hom ook nie die volledige stukke bestudeer van die hofsake teen Schabir Shaik, Zuma en Tony Yengeni nie, wat tronkstraf uitgedien het nadat hy afslag gekry het op ’n Mercedes-Benz M-klas in ’n ooreenkoms wat verband hou met die wapentransaksie, nie.

In die verslag word net een keer verwys na Shaik en nie een keer na Zuma nie.

Zuma vra tans ’n hof om die NVG se besluit tersyde te stel om hom te vervolg weens bedrog, geldwassery, korrupsie en rampokkery. Omkoopbedrae is glo in die 1990’s deur Shaik aan die oudpresident betaal.

In die Seriti-saak gee die applikante 24 redes waarom die ondersoek destyds misluk het. Dit sluit in:

¦ Aantygings van “ernstige korrupsie en bedrog” in ’n verslag van die Duitse polisie is geïgnoreer. Dit het ingesluit memorandums wat die betaling van omkoopgeld bevestig het. Die verslag – wat verband hou met die aankope van korvette van ThyssenKrupp – is in Februarie deur dr. Richard Young en ’n kolonel (Du Plooy) aan die kommissie verskaf. Hoewel Chippy Shaik, aan wie glo betalings gemaak is, wel voor die kommissie verskyn het, is die aantygings glo nie aan hom gestel nie.

¦ Die ouditeur-generaal se konsepverslag, wat grootskaalse onreëlmatigheid op verskeie gebiede van die wapenaankopeproses uitlig, is deur die kommissie verwerp.

¦ Getuies is nie toegelaat om te verwys na dokumente wat hulle nie opgestel het, of gebeure waarvan hulle nie persoonlike kennis gehad het nie. Hulle mog geen opinies uitspreek nie.

¦ Seriti het geweier om die opinies van verskeie kritici van die wapenprogram toe te laat. Dit sluit in dr. Gavin Woods, destydse voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), en David Maynier, DA-LP, wat ’n studie gemaak het van getuienis oor die getal poste en beleggings wat deur die program geskep wou word.

Terry Crawford-Browne, wapentransaksie-aktivis wat ook voor Seriti getuig het, sê hy verwelkom die jongste hofsaak. Young, wat twee weke lank voor Seriti getuig het, sê hy hou die hofsaak van ’n afstand dop, maar dink die kommissie het Suid-Afrika eerder nader aan R250 miljoen gekos as R140 miljoen.

Pres. Cyril Ramaphosa het aangedui hy sal hom neerlê by die beslissing van die hof.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.