Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Só is Anchen in Bishop Lavis gevind
Anchen MullerFoto: Facebook

Die 13-jarige Anchen Muller, wat Vrydag ná fyn beplanning weggeloop het, is Dinsdagaand deur die polisie in gevaarlike en haglike omstandighede in ’n sinkhut in een van Kaapstad se gevaarlike plakkerskampe gevind.

Sy het volgens inligting reeds Maandagnag daar oornag.

Woensdagoggend was daar geen teken dat Anchen nog enkele ure tevore in dié plakkershut in die Malawi-plakkerskamp, net buite Bishop Lavis, gevind is nie.

Die plakkershut waar Anchen Muller gevind is.Foto: Lulama Zenzile

Inwoners het joernaliste van Netwerk24 gewaarsku om hul selfone en kameratoerusting weg te sit.

“Hier gaan hulle julle ruk,” het een vrou gesê en die joernaliste geneem na die hut waar Anchen gevind is.

Met die oopmaak van die deur, vang die reuk van blikvuur jou. In die hut is dit stikdonker. Skemerlig vul die hut wanneer die deur op ’n skrefie oop is.

Twee beddens, een ’n driekwartbed en die ander ’n enkelbed, pas net-net in.

Carol Manuel (48) en haar seun, Marco Manuel (29), woon hier.

In die een hoek agter die driekwartbed lê ’n hoop klere. Volgens die Manuels het Anchen Maandagaand saam met ’n familielid by hulle aangekom. Hulle kon egter nie presies sê hoe sy in Bishop Lavis gekom het nie.

Manuel het wel gesê sy het ’n rugsak by haar gehad en dat sy vir hulle gesê het sy het van die huis weggeloop.

Volgens die inligting wat Netwerk24 ingesamel het, het gebeure tussen Vrydag en Dinsdag waarskynlik só ontvou:

Chelsea Estate, waar Anchen Muller saam met haar ma, tweelingsussies en haar ma se verloofde woon. Foto: Lulama Zenzile

Vrydag 18 Augustus

Anchen verlaat omstreeks 19:30 haar ouerhuis in Vredekloof, Brackenfell. Sy het vir haar ma, Hanlie Ferreira, gesê ’n maatjie se ouers sou haar kom optel. Hulle sou na ’n Bybelbyeenkoms by Butterfly World naby die Paarl gaan. Sy sou daarna vir die naweek by die maatjie in Table View kuier. Sy is vermoedelik met 'n taxi, wat sy gereël het, van haar ouerhuis weg.

Saterdag 19 Augustus

Haar selfoon is af. Haar ma vermoed haar battery is pap.

Ferreira het Dinsdag gesê dit het al voorheen gebeur dat Anchen se selfoonbattery pap word. Dit het Ferreira nog nie onrustig gemaak nie. Sy het gesê Anchen is soms agtelosig en worry nie eintlik as haar battery pap is nie.

Saterdag word Anchen in Riverstraat, Bishop Lavis, saam met ’n jong man gesien. Dis vermoedelik by dié jong man se ouerhuis waar die taxi haar afgelaai het.

Sondag 20 Augustus

Sy is steeds in Bishop Lavis.

Sondag om 22:00 raak Anchen se ma kriewelrig toe sy nie by die huis opdaag nie. Sy het egter nie ’n nommer vir die maatjie by wie Anchen die naweek sou oorslaap nie.

Sy het Dinsdag gesê 22:00 was reeds verby die afsnytyd vir wanneer Anchen by die huis moet wees.

Anchen se selfoon was steeds af.

Marco Manuel en sy ma, Carol Manuel, wat Anchen Muller Maandagaand herberg gegee het. Foto: Lulama Zenzile

Maandag 21 Augustus

Anchen se ma wag tot ná 02:00 by die ingang van die kompleks waar hulle woon, in die hoop dat haar kind by die huis sou opdaag.

Sy bel Reynhardt Muller, Anchen se pa, Maandagoggend en lig hom in dat Anchen nie by die huis opgedaag het nie. Muller gaan onmiddellik na die Brackenfell-polisiekantoor, waar hy sy kind as vermis aanmeld.

Maandag word Anchen se selfoon tot in Bishop Lavis nagespeur. Die polisie vermoed haar SIM-kaart is uit haar selfoon verwyder.

Beugon Walker (24) en sy meisie, Malikah Engelbrecht (20), ontferm hulle oor Anchen nadat die man by wie sy in Bishop Lavis was, haar uitskop.

Volgens Walker het sy vir hulle vertel dat hy vir haar gesê het sy ouers skel omdat sy daar slaap. Maar eers het hy haar selfoon, tekkies en baadjie gevat.

Beugon Walker en sy meisie, Malikah Engelbrecht, wat hulle Maandag oor Anchen Muller ontferm het.Foto: Lulama Zenzile

Hulle gaan tot in Delft waar hulle oor die radio hoor dat Anchen vermis word en dat sy eintlik 13 jaar oud is en nie 19 soos hulle laat glo is nie.

Walker sê Anchen het vir hulle gesê dat sy die jong man, by wie sy oornag het, op Facebook ontmoet het. Hy het ook gedink sy is 19.

Anchen is daarna saam met die paartjie na die Malawi-plakkerskamp, waar hulle die aand by Manuel en sy ma, Carol, oornag het.

Volgens Walker wou hulle haar die volgende dag, Dinsdag 22 Augustus, na die polisiekantoor in Bishop Lavis bring.

Sy wou egter nie gaan nie en het hulle glo gevra om haar na Kalksteenfontein te neem.

Dinsdag 22 Augustus

Die polisie spoor Anchen se selfoon omstreeks 22:00 op. Die man by wie sy in Riverstraat oornag het, word na die polisiekantoor vir ondervraging geneem. Hy is in sy 20’s.

Haar persoonlike besittings, selfoon, tekkies en baadjie word in sy besit gevind.

’n Familielid van Walker vat die polisie na die Malawi-plakkerskamp, waar hulle Anchen, Walker, Engelbrecht, Manuel en sy ma aantref, almal vas aan die slaap.

Anchen is ongedeerd. ’n Polisiewoordvoerder, sers. Noloyiso Rwexana, het Woensdagoggend gesê sy is in die sorg van haar ma geplaas.

Nie Ferreira of Muller, Anchen se ouers, het Woensdag op enige boodskappe of oproepe gereageer nie.

Die polisie wou Woensdag niks sê oor die omstandighede waarin Anchen gevind is nie.

Meer oor:  Anchen Muller  |  Bishop Lavis  |  Vermiste Meisie  |  Vermiste Kind  |  Soektog  |  Gevind
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.