Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Só is die Boere-mag-baba verwek

Korrektiewe dienste het op topvlak toestemming gegee dat ’n Boeremaglid vanuit die tronk mag voortplant – al was dit deur kunsmatige inseminasie.

Dr. Wilhelm Pretorius (41), wat al van Desember 2002 in die tronk is, is deur bewaarders na ’n mediese instelling geneem sodat sy vrou, Riëtte, kunsmatig geïnsemineer kon word.

Riëtte Pretorius die afgelope week by die hooggeregshof in Pretoria. Sy is nou oor die halfpadmerk van haar swangerskap.Foto: Deaan Vivier

Rapport het vroeër berig dat Riëtte (36) die tronkowerhede in ’n hofsaak takel vir die reg om seks te hê met haar man in die tronk waar hulle in 2017 getroud is. Hulle het mekaar ontmoet nadat hy reeds tronkstraf begin uitdien het.

Korrektiewe dienste het dié versoek van haar geweier.

Riëtte het die afgelope week in die hooggeregshof in Pretoria onthul dat sy swanger is toe sy die hof gevra het dat haar man, swaer en skoonpa dringend vrygelaat word – onder meer omdat sy die reg ontneem word dat haar man haar bystaan met die swangerskap.

Haar swangerskap het vele laat kopkrap oor hoe dit kon gebeur het.

Dr. Wilhelm Pretorius tydens sy hofsaak.

Riëtte weier om daaroor te praat.

Maar in haar hofstukke wat sy ingedien het, verduidelik sy hulle het vroeg verlede jaar die tronk versoek om die bevrugting te reël. Aanvanklik is die egpaar se versoek hiervoor deur die waarnemende kommissaris van korrektiewe dienste, Jafta Mkhabela, in Januarie 2018 afgekeur.

Maar Mkhabela het dit ná bykomende inligting wat aan sy kantoor gegee is, heroorweeg en die versoek in Maart 2018 toegestaan.

Mkhabela het in sy brief aan Riëtte se regsverteenwoordigers gesê hulle aanvaar dis ’n gevorderde mediese prosedure en gevangenes mág private dokters konsulteer solank as wat hulle self daarvoor betaal.

Wilhelm moes dus op eie onkoste die prosedure onderneem en was ook verantwoordelik vir die koste van amptenare om hom op te pas tydens die prosedure en vir sy vervoer na en van die gesondheidsorginstelling waar die prosedure plaasgevind het, blyk uit die brief.

Riëtte se ginekoloog het ook in ’n brief aan die hof bevestig die bevrugting was suksesvol. Sy was 18 weke en ses dae swanger toe dit geskryf is. Vandag is sy 22 weke en vier dae swanger.

Riëtte sê in hofstukke sy en haar man is nie meer jonk nie.

“Ek het my man se assosiasie en ondersteuning dringend nodig. Weens my ouderdom en die feit dat ek ons eerste kind verwag, is ek bekommerd oor ’n miskraam, veral weens die stres oor my familie se aanhouding.”

Sy wil ook haar swaer Johan en skoonpa, Lets – albei mediese dokters – se sorg en raad oor haar swangerskap buite die tronk geniet, sê sy.

Riëtte sê weens haar man en twee skoonfamilielede se aanhouding word verskeie van haar regte aangetas. Dis haar reg om vrylik met hulle te assosieer en met waardigheid.

“Ek kan net met hulle assosieer in die tronk en onder toesig. Ek kan nie my reg op vryheid geniet soos ek wil nie.”

Haar man is in maksimum aanhouding. Hy kan haar net soggens bel en die gesprekke moet kort wees. Hul gesprekke is dus moeilik. Dis weens dié gesukkel oor die foon wat sy besluit het om die dringende hofaansoek te bring. Sy het ook gesê sy kan nie ’n advokaat bekostig nie en verdien net R9 010 per maand as bruto salaris by ’n skool vir gestremdes waar sy ’n onderwyseres is.

Die hof het haar beveel om die departement se regskosterekening te betaal omdat haar hofaansoek teen hulle van die rol geskrap is.

Riëtte voer verder in haar aansoek aan dat haar teoloog-man en skoonfamilie dadelik uit die Zonderwater-gevangenis in Cullinan vrygelaat behoort te word totdat ’n volgende aansoek oor die regmatigheid van hul verhoor en aanhouding afgehandel is.

  • Sy sê die volgende hofaansoek oor die Pretoriusse, wat op 18 Junie in die hooggeregshof aangehoor word, gaan oor die beweerde ernstige skending van hul grondwetlike en menseregte oor jare. Die Pretoriusse is onder die 19 Boeremag-beskuldigdes wat in 2013 gevonnis is vir hoogverraad omdat hulle ’n staatsgreep beplan het.
Meer oor:  Baba  |  Tronk  |  Vrou  |  Swanger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.