Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
So lyk Thato se kostuum vir Mej. Supranasionaal

In ’n lemmetjiegroen broekpak en met vier reistasse het dr. Thato Mosehle, eerste prinses in die Mej. SA-kompetisie, Woensdagaand na Pole vertrek om aan die Mej. Supranasionaal-kompetisie deel te neem.

Shudu Musida, Mej. SA (wat later aan die Mej. Wêreld-kompetisie gaan deelneem), en Natasha Joubert, Mej. Heelal SA (wat die tweede prinses in die Mej. SA-kompetisie was), het haar by die lughawe gegroet voordat sy haar plek in die sakeklas ingeneem het.

Die Mej. SA-organisasie het Donderdagoggend onthul hoe die nasionale kostuum lyk wat sy in die kompetisie gaan dra. Dit is ’n swart-en-blou skepping wat aan ’n superheld-kostuum herinner en dit bevat elemente wat na Mosehle se Sotho-kultuur verwys.

Dr. Thato Thelma Mosehle met die Suid-Afrikaanse vlag op die O.R. Tambo-lughawe. Foto: Facebook/Mej. SA

Die kostuum beeld Mosehle as ’n Afrika-vegterprinses uit.

“Die Mej. Supranasionaal-organisasie het ’n nasionale uitrusting aangevra wat ’n persoonlike betekenis vir die deelnemer het,” sê Werner Wessels, kreatiewe direkteur van die Mej. SA-organisasie.

“Aangesien Thato ’n dokter is en Covid-19 help beveg, wou ons wys dat sy nie net haarself nie, maar ook al haar kollegas as vegters beskou. Ons wou ook iets persoonliks uit haar kultuur insluit, daarom het ons ’n seanamarena, ’n tradisionele Sotho-kombers, geïnkorporeer.”

Wessels sê die kombers simboliseer die warmte en trots wat sy vir haar mense voel.

“Ons is so trots om ’n uitrusting ten toon te stel wat werklik verteenwoordigend van ons land is.”

Haar nasionale uitrusting is deur Sello Medupe, eienaar van Scalo Designer, ontwerp.

“Ek is mal oor al my uitrustings. Al die talentvolle Suid-Afrikaanse ontwerpers wat my uitrustings gemaak het, het ’n manier gevind om my ongelooflik spesiaal te laat voel,” sê Mosehle.

Dr. Thato Mosehle wys haar nasionale kostuum. Dit beeld haar uit as ’n vegterprinses (’n verwysing na haar werk as dokter) en die seanamarena, die tradisionele Sotho-kombers, verwys na haar kultuur. Foto: Willem Botha

Sy sal vir die volgende twee weke Pole verken en met ander lande se verteenwoordigers meeding in verskeie uitdunrondes.

“Suid-Afrika, ek is gereed!” het sy van die O.R. Tambo-lughawe af op Instagram geskryf.

“Ek is so geëerd en opgewonde om julle te verteenwoordig en ek belowe om my absolute bes te doen. Hierdie oomblik is groter as ek, groter as enige individu en ek is ewig dankbaar dat ek gekies is vir hierdie reis! Ek bedank julle uit die diepte van my hart vir jul volgehoue ondersteuning! Kom ons gaan maak geskiedenis.”

Mosehle neem deel aan die 12de Mej. Supranasionaal-kompetisie, wat in Nowy Sacz, Pole, gehou word. Die kroningsaand is op 21 Augustus.

Sy is die eerste persoon wat onder die amptelike vaandel van die Mej. SA-organisasie aan die kompetisie deelneem. Suid-Afrika is al voorheen op die kompetisie verteenwoordig, maar het nog nooit die topvyf gehaal nie.

Die huidige kroondraer, Anntonia Porsild van Thailand, sal haar opvolger kroon.


Meer oor:  Thato Mosehle  |  Kompetisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.