Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Só romanties… maar o wee, daar trek die fotograaf!

Megan Edwards was geskok toe haar kêrel oplaas die ja-woord vra, maar glad nie so onkant betrap soos haar suster nie.

Agge nee! Daar val sy al weer. Celine Edwards het drie maal gestruikel toe haar sussie verloof raak.

Hulle was verlede Dinsdag in Kogelbaai buite Kaapstad toe die 23-jarige Celine ’n romantiese deuntjie hoor. Celine het gou snuf in die neus gekry dat hiér ’n groot oomblik kom en sy wou ’n selfoonvideo neem.

Dit was toe Megan (26) se kêrel, Ian Share (31), die groot vraag gevra het.

In die video wat die kuberruim laat skud van die lag, kan mens sien hoe die arme Celine drie maal oor ’n klip struikel in haar opgewondenheid om die gebeure af te neem.

Megan en Ian was so vasgevang in die oomblik dat hulle nie eens bewus was van wat langs hulle aangaan nie.

“Ek het nie eens besef sy het drie keer geval nie. Ek was net in die oomblik van ‘dit gaan nou rêrig met my gebeur ek het lank gewag hiervoor’,” sê Megan.

Die paartjie vier hul verlowing.

Die paartjie van Pretoria-Noord is meer as drie jaar in ’n verhouding en was met vakansie in die Kaap.

Ian het vir Megan gesê hulle gaan braai en toe sien sy die piekniek en hartjies wat op die strand reggesit is.

Maar Celine se selfoonvideo wys net sand en wolke.

Sy het drie keer gestruikel, ironies genoeg terwyl Andy Grammer se liedjie “Don’t Give Up On Me” gespeel het:

“I’m not givin’ up, givin’ up, no, not yet / Even when I’m down to my last breath.”

Ian se neef Jakkie Booysen het die gebeure van die ander kant afgeneem. Dit wys hoe Celine haar balans verloor.

Nou lag Celine darem oor die video wat haar kitsroem besorg het. Hulle is nie seker hoe die video versprei is nie.

“As familie het ons die video gehad en vanoggend toe ek op Facebook gaan, sien ek (die musikant) Appel het dit geshare en van daar gaan dit viral!

Megan en Ian se troudatum is 28 Mei 2022. Maar is dit genoeg kans vir sus Celine om haar videografievaardighede te slyp?

“Nee, glad nie!” sê Megan laggend. “Ons sal liefs ’n trouvideograaf kry.”

Meer oor:  Celine Edwards  |  Ian Share  |  Megan Edwards  |  Kogelbaai  |  Ja-Woord  |  Video
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.