SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Algemeen
Só werk Bo-Kaap se beskerming-status

Dit is amptelik. Die Bo-Kaap is nou ’n erfenisbeskermingsone nadat die aankondiging hieroor op 12 April in die Provinsiale Staatskoerant gedoen is.

Die Bo-Kaap-erfenisbeskermingsone het die Tafelberg Nasionale Park as grens aan die bokant teen Vlaeberg en loop tot teenaan die middestad waar dit die deel van Buitengracht tussen Carisbrook- en Strandstraat insluit.

Die Bo-Kaap is nou amptelik ’n erfenisbeskermingsone. Foto: Deon Raath

Sowat 600 eiendomme is by die erfenisbeskermingsone ingesluit.

Marian Nieuwoudt, burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike ontwikkeling en die omgewing, sê enige ontwikkelingsaansoeke sal voortaan meer krities geëvalueer word. Daar sal ook meer spesifiek gekyk word na wat die impak van die ontwikkeling op die erfeniswaarde van die gebou en op die gebied sal wees.

Die doel van dié status is volgens Nieuwoudt om onvanpaste ontwikkelings, herstellings en aanbouings te keer en ook sodat eienaars weet wat hulle mag doen en wat nie.

Die beskermingsone bemagtig die Kaapstadse metroraad om te sorg dat die erfeniswaarde van ’n gebou of perseel beskerm of verbeter word.

Verder kan die munisipaliteit ook van die ontwikkelaar vereis om die bouplanne aan te pas.

“Van nou af sal ons die egtheid van die geskiedkundige landskap en erfenisgebiede in die Bo-Kaap bewaar. Dit laat ons toe om die langtermynvolhoubaarheid as ’n kulturele bate vir toekomstige generasies te verseker,” sê Nieuwoudt.

Dit sal ’n impak hê op alle eiendomme in die Bo-Kaap, veral wat nuwe ontwikkelings, restourasiewerk en aanbouings betref.

Nuwe eiendomsontwikkelings mag nie teen die geskiedkundige karakter van die omgewing indruis nie, maar huiseienaars moet ook bydra om die gebied se karakter te beskerm. Huiseienaars mag die binnekant van hul huise verbou, maar die veranderings mag nie aan die buitekant sigbaar wees nie en hul verbouings mag nie die gebou se struktuur verswak nie.

Verder sal die sone die openbare dele en voetgangerbeweging langs die paaie bevorder. Hierdie styl van lewe, op die stoep na buite, is tradisioneel van die gebied en sal ook bevorder word.

Van nou af sal ons die egtheid van die geskiedkundige landskap en erfenisgebiede in die Bo-Kaap bewaar.
Marian Nieuwoudt, burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike ontwikkeling en die omgewing

Die erfenisbeskermingsone bepaal nie wie eiendom mag koop of huur nie en dit keer ook nie nuwe ontwikkelings nie. Daar sal wel bykomende ontwikkelingsreëls vir basiese sonering geld. Aansoeke vir ontwikkelings wat goedgekeur is voordat die erfenisbeskermingsone van krag geword het, sal ook volgens die wetgewing en bouregulasies beoordeel word wat gegeld het voordat die beskermingsone ingestel is.

Netwerk24 het vroeër berig in die proses van openbare deelname was 2 271 uit 2 298 (98,8%) deelnemers ten

gunste daarvan dat die Bo-Kaap ’n erfenisbeskermingsone word. Van die deelnemers was 650 self inwoners van die Bo-Kaap.

Meer oor:  Tafelberg Nasionale Park  |  Kaapstad  |  Bo-Kaap  |  Erfenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.