Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Swembad? Boeties grou dit sommer self!
Die twee boeties het fluks gegrawe en mekaar aangemoedig as een op ’n dag dalk nie lus was nie.
Philip (11) en Janco Weldhagen (9)

As jy iets in die lewe wil hê, moet jy daarvoor werk. Niks in die lewe is verniet nie.

Dit is met dié lewensles wat Philip (11) en Janco Weldhagen (9) se ouers hulle reeds van ’n vroeë ouderdom geleer het dat dié twee kannetjies besluit het om hul eie swembad te grawe.

Die twee boeties van Bainsvlei, Bloemfontein, smeek al jare­ lank om ’n ingeboude swembad om hulle in die somer te lawe. Hul ouers, Jaco en Nerika­, het voet by stuk gehou dat ’n swembad nie gebou sou word voordat hul jonger sussie, Anje, vyf jaar oud is nie.

Toe Anje vroeër vanjaar vyf word, was die manne dus gereed om hul ouers te herinner aan die ooreenkoms. Die Weldhagens kon toe nie anders as om in te stem nie.

Die manne het aangebied om self te begin spit aan hul droomswembad en voor die twee ywerige droomjaers die situasie in eie hande kon neem, het Jaco die afmetings vir die swembad uitgemerk en mooi verduidelik hoe dinge gedoen moet word.

Philip sê dit is nie dat hulle ontevrede was met die opslaanswembad wat hulle tot dusver gebruik het nie, maar Janco het ’n gat deur die swembad geskiet met ’n pyl en boog en dit het die saak vir hulle ’n bietjie moeilik gemaak.

Jaco sê toe die manne sowat 1,5 m diep gegrawe het, het hy hulle jammer gekry en toe self ook begin hand bysit. Só het die projek ’n gesinsoefening geword.

Daar is ywerig weggespring en begin grawe.

“Ons het blase op ons hande gehad, maar ons het nie opgegee nie. Later het ons maar handskoene aangetrek,” sê Philip trots.

Jaco sê toe die manne sowat 1,5 m diep gegrawe het, het hy hulle jammer gekry en toe self ook begin hand bysit. Só het die projek ’n gesinsoefening geword.

“Saans as dit ’n bietjie koeler was, het ons almal buite om die gat vergader, musiek gespeel en soms selfs gebraai. Elkeen het sy kant gebring. Selfs Anje het met haar speelgoedkruiwa ’n paar hopies grond weggery,” sê Nerika.

Ná ’n maand se grawe was die gat gereed vir die swembad om geïnstalleer te word. Philip wys hoe diep dit is.

Janco sê hy en Philip het mekaar ook gemotiveer as een van hulle dalk nie lus was om te grawe nie.

“Ons het mekaar dopgehou en as ons sien die een se kruiwa is voller as die ander s’n, het ons mekaar lekker gespot, dan het ons weer ’n bietjie harder gewerk,” sê hy.

Hulle het sowat ’n maand lank elke dag gegrawe.

Nerika sê dit is vir hulle belangrik om hul kinders te leer dat ’n mens moet werk vir wat jy wil hê.

“Hierdie twee is in Grey Kollege en daar is baie kinders wat gewoon kry wat hulle wil hê, maar dit is nie hoe die grootmenswêreld werk nie.”

Ná dié projek is die twee manne reeds weer hard aan die werk aan hul volgende droom. Hulle wil graag ’n potspel- en ’n tafeltennistafel hê. En met dié dat die gesin nou ’n heerlike kobaltblou swembad het, het Nerika self ’n droom vir ’n kuierstoep gehad.

Philip en Janco dra dus elke middag ná skool fluks bakstene van die voortuin na die swembadarea aan waar die bouproses reeds aan die gang is.

Een van die dae het hulle hul potspel- en tafeltennistafel.

Meer oor:  Swembad  |  Drome
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.