Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Soektog na ‘Nieuwe Haarlem’ in Tafelbaai geloods
’n VOC-kaart van Tafelbaai – in die nasionale argief in Den Haag – dui met ’n groot kruis aan waar die Nieuwe Haarlem kan wees wat in 1647 hier gestrand het. Kaart: Verskaf deur Bruno Werz

Die eerste opnames het begin op soek na die legendariese skip die Nieuwe Haarlem wat in 1647 naby Tafelbaai gestrand het.

Dit was dié skip se stranding wat regstreeks daartoe gelei het dat ’n permanente verversingstasie vyf jaar later aan die Kaap gevestig is. Daar word ook gesoek na die plek waar die oorlewendes gekampeer het.

Dr. Bruno Werz, ’n maritieme argeoloog en uitvoerende hoof van die Afrika-instituut vir Mariene en Onderwaternavorsing, -ontdekking en -opleiding (AIMURE), vertel dat ’n opname verlede week gedoen is, en Billy Steenkamp, ’n geofisikus, is besig om die resultate te ontleed.

Werz het jare gelede ook ’n kaart wat deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) geteken is in die Nederlandse argiewe in Den Haag opgespoor. Op dié kaart is ’n kruis waar die skip se wrak moontlik kan wees. Hoewel dit nie heeltemal akkuraat is nie, gee dit ’n goeie idee.

Die Nieuwe Haarlem van die VOC het op 25 Maart 1647 naby Tafelbaai gestrand.

Volgens Werz dui die navorsing daarop dat die skip op die strand geloop het. Hulle sal dus nie hoef te duik nie – die wrak is onder die hoogwatermerk onder die sand.

Kort ná die ramp is 58 van die oorlewendes deur ander skepe opgepik wat hier aangedoen het, maar 62 het besluit om agter te bly en na die goedere om te sien wat hulle gered het. Hulle was onder leiding van Leendert Jansz wat ook ’n dagboek van sy tyd hier gehou het.

Hulle het met die plaaslike Khoi in aanraking gekom en volgens Werz blyk dit dié mense het vriendskapsbande met die mans gesmee. Die groep het ’n kamp en ’n tydelike fort gebou.

Die verslag wat Jansz met hul terugkeer geskryf het, was gunstig en het gehelp dat Jan van Riebeeck ’n paar jaar later ’n verversingstasie hier op die been kon bring.

Die verslag wat Jansz met hul terugkeer geskryf het, was gunstig en het gehelp dat Jan van Riebeeck ’n paar jaar later ’n verversingstasie hier op die been kon bring. Dit is aanvanklik die “Taverne van die see” genoem, vertel Werz.

’n Jaar later het die VOC se retoervloot, onder leiding van Wollebrandt Geleynsz de Jongh, die oorlewendes opgepik.

Werz het verduidelik dat hulle reeds min of meer weet waar die wrak en die kamp naby Milnerton is en dat hulle na albei soek. Die volgende stap is om aansoek te doen vir ’n permit om ’n verdere opname te doen. Daarna sal ’n omgewingsimpakstudie gedoen word. Indien dit goedgekeur word, sal toetsopgrawings gedoen word – mits die nodige geld bekom kan word.

* Lees meer by aimure.org.

Meer oor:  Jan Van Riebeeck
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.