Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Soete wraak vir die Bokke

Uiteindelik kry die wêreldkampioen en sy kaptein, Siya Kolisi, die nodige respek van ’n skeidsregter, soos die All Blacks jare lank ’n voordeel teenoor hul teenstanders op die rugbyveld gehad het.

Die terugbaklei begin! Makazole Mapimpi se drie in die eerste oomblikke van die tweede helfte. Foto: EJ Langner

Rassie Erasmus, SA Rugby se direkteur van rugby, het die afgelope week uiteindelik reggekry waarvoor hy al drie jaar veg: Met sy kontroversiële, uur lange video oor die blapse van die Aussie skeidsregter Nic Berry het hy die rugbywêreld oortuig om die Springbokke ernstig op te neem.

Sy video het sonder twyfel ’n yslike invloed gehad op die Kiwi Ben O’Keeffe se vertoning in gisteraand se sege van 27-9 oor die Britse en Ierse Leeus in die tweede toets in Kaapstad.

Erasmus veg altoos al van 2018 vir dieselfde voorreg wat die All Blacks deur die jare as wêreldkampioen geniet het en waarin 50-50-beslissings byna sonder uitsondering in hul guns beklink word.

Bygesê, enigeen wat sou wou stry dat die Bokke gisteraand net op gunstige 50-50-beslissings staatgemaak het om die wedstryd te wen, moet sy kop laat lees. Spelers soos Kolisi, Lukhanyo Am, Makazole Mapimpi, Handré Pollard en Franco Mostert was op hul skerpste beste.

Rede vir kopkrap. Rassie Erasmus wys verlede Saterdag se skeidsregter-blapse in sy video die afgelope week.

Kolisi het soos ’n reus op die veld beweeg en oral opgeduik. Trouens, dit was sy beste vertoning in jare in die Boktrui, indien nie sy beste tot nog toe nie. Met ’n amper bomenslike poging het hy kort voor rustyd die Bokke in die wedstryd gehou deur ’n seker Leeu-drie af te weer met ’n arm-onder-die-bal-duikslag op Robbie Henshaw. En Am en Mapimpi het soos in die Wêreldbeker-eindstryd gewys watter ongelooflike sterre hulle is deur die Bokke se terugvegpoging in die tweede helfte te lei.

Maar miskien was die eintlike ster van die dag Erasmus, wie se video ’n groot impak op die wedstryd gehad het. Hoewel die Leeus dit vanoggend moeilik sal erken, was rugby uiteindelik die groot wenner, want daarsonder sou O’Keeffe maklik die reeks kon bederf het deur in die eerste helfte te vinnig na die rooikaart in sy sak te gryp.

Suid-Afrika het in die eerste helfte, wat as gevolg van baie onderbrekings 62 minute geduur het (net so lank as Erasmus se video), verskeie gunstige 50-50-beslissings van O’Keeffe gekry.

In die 24ste minuut was Cheslin Kolbe gelukkig om net met ’n geelkaart gestraf te word toe hy – sonder om vir ’n hangskop in die lug mee te ding – die voete van die Leeus se skrumskakel, Conor Murray, onder hom uitgehardloop het.

In die 36ste minuut wou die Aussie by die TV-skeidsregter, Marius Jonker, weet of Faf de Klerk se duikslag op Murray op die Bokke se doellyn wettig was. Jonker het gemeen die spel kan voortgaan en daar hoef nie weer na die duikslag gekyk te word nie.

Verder was die resultaat van die Rassie-video daar vir enigeen wat wou hoor. Opmerklik was O’Keeffe se woordkeuse toe hy by Jonker wou weet of Henshaw net voor rustyd die bal agter die doellyn geplant het.

“My beslissing is dat die bal nie gedruk was nie,” het O’Keeffe vir Jonker laat weet – wat die Suid-Afrikaner gedwing het om met oortuigende getuienis vorendag te kom dat die drie wel wettig was.

Later, met Am se drie, was dit weer so. O’Keeffe het dit baie duidelik aan die TV-skeidsregter gestel dat hy glo dit is wel ’n drie.

Die wedstrydbeamptes se respekvolle optrede teenoor Kolisi het herinner aan die behandeling waarop die Kiwi-kapteins Kieran Read en Richie McCaw oor die jare kon staatmaak. Die telbord wys die resultaat.

Lanklaas is ’n toets op Suid-Afrikaanse bodem deur soveel drama voorafgegaan.

Die eerste skote het Donderdag geklap nadat die uur lange video – waarin Erasmus meer as 30 videogrepe van omstrede, verkeerde en onbestendige beslissings in die eerste toets bespreek – deur ’n gebruiker genaamd JJ op die platform Vimeo gelaai is. Dit het soos ’n veldbrand versprei.

Daar kan geen twyfel wees dat Erasmus goed geweet het waarmee hy besig is en sy optrede fyn beplan het nie. Voordat hy die videogrepe begin ontleed, praat hy 14 minute lank oor waarom hy die video maak.

Hy het die video aan onder andere Joël Jutge, Wêreldrugby se hoof van wedstrydbeamptes; Joe Schmidt, Wêreldrugby se direkteur van rugby; en Berry gestuur om sy ongelukkigheid te beklemtoon oor hoe sake voor, tydens en ná die eerste toets hanteer is.

Hy sê hoewel die Bokke nooit ’n blaser vir ’n nederlaag sal verkwalik nie, was hulle verlede Sondag gefrustreerd toe Berry teen 17:00 nog gesê het hy slaap toe Erasmus hom bel om oor van sy wedstrydbeslissings te gesels.

Wêreldrugby het in ’n verklaring oor Erasmus se video gesê hulle sal die aangeleentheid met SA Rugby opneem. As daar enige nagevolge vir Erasmus is, sal die Bokkamp hoop dat dit ’n tydjie neem voordat die internasionale rugbybase hul eendjies in ’n ry kry. Toe die Bokke in 2009 tydens die laaste Leeu-reeks beboet is omdat hulle wit armbande met die woorde “Justice for Bakkies” gedra het ná die skorsing van die Bokslot Bakkies Botha, het die tugverhoor eers maande ná die toer plaasgevind.

Twyfel bestaan steeds of daardie boete ooit betaal is.

Die rugbywêreld, ’n groot gedeelte van Suid-Afrika ook, was egter voor gisteraand se oorwinning deur Erasmus se video in twee geskeur.

Tog het ’n paar invloedryke rugbyfigure Erasmus ondersteun. Een van hulle is die voormalige Walliese skeidsregter Nigel Owens.

“Dit gebeur die heeltyd in rugby; die enigste verskil is dat die video in die openbaar is,” het Owens gister aan Sky Sports gesê.

Selfs Nick Mallett, ’n voormalige Bok-afrigter en nou ’n SuperSport-kenner, het net voor afskoptyd gesê dis eintlik Warren Gatland wat verlede week die eerste skote in die woorde-oorlog tussen die spanne afgevuur het. Hy het verwys na Gatland, wat onder meer die Suid-Afrikaner Jonker se aanstelling as die TV-skeidsregter bevraagteken het, grappies oor Erasmus as die waterdraer gemaak het en dat Faf de Klerk ’n rooikaart vir ’n duikslag in die kragmeting tussen die SA A-span en die Leeus moes kry.

Erasmus het egter ook onder kritiek deurgeloop. In die Britse Daily Mail het die oudskeidsregtersbaas van Wêreldrugby, Alain Rolland, geskryf dat hy nog nooit iets soos Erasmus se optrede gesien het nie.

“Een van die kernwaardes van ons spel is respek vir amptenare en Rassie het dit heeltemal verontagsaam.

“Hy het dit na ’n heel nuwe vlak geneem. Is die spel in oneer gebring?

“ Absoluut.”

Die Bok-hulpafrigter Mzwandile Stick het Vrydag weer die kollig terug op Gatland verskuif.

Stick het vinnig teen Gatland uitgevaar. Hy meen Gatland het Jonker se integriteit in twyfel getrek.

“Ek het nog nie gesien of gehoor dat hy (vir Jonker)verskoning vra nie.”

Hy sê Gatland het daarmee die waardigheid van die reeks skade berokken.

“Dit is waar dit begin het.”

Meer oor:  Makazole Mapimpi  |  Rassie Erasmus  |  Leeus  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.