Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sol Plaatje-beeld op Kruger-plaas onthul
Maj. John Pennefather kyk in afwagting terwyl voorbereidings gedoen word om die Sarel (Rooi Bul) Oosthuizen-kanon af te vuur. Pennefather het die kanon Saterdag onthul by die Kedar Lodge op ’n deel van Paul Kruger se plaas, Boekenhoutfontein, buite Rustenburg. Foto: SUSAN CILLIERS
Robert Forsyth (regs), eienaar van die Kedar Lodge buite Rustenburg, en maj. John Pennefather by die Sarel (Rooi Bul) Oosthuizen-kanon, wat Saterdag deur Pennefather by die lodge onthul is. Foto: SUSAN CILLIERS
Adam Madebe (regs), beeldhouer, en Nico Wessels (links), argitek, by die Sol Plaatje-standbeeld wat Saterdag onthul is by die Kedar Lodge buite Rustenburg. Die lodge is op ’n deel van Paul Kruger se plaas, Boekenhoutfontein, geleë. Foto: SUSAN CILLIERS
Die Sarel (Rooi Bul) Oosthuizen-kanon kort nadat dit Saterdag by die Kedar Lodge naby Rustenburg onthul is. Foto: SUSAN CILLIERS
Adéle Forsyth by die Sol Plaatje-standbeeld pas nadat sy dit Saterdag by die Kedar Lodge naby Rustenburg onthul het. Forsyth is getroud met Robert, eienaar van die lodge. Foto: SUSAN CILLIERS

’n Standbeeld van Sol Plaatje op Paul Kruger se plaas moet almal daaraan herinner dat die Anglo-Boereoorlog nié net ’n “witmensoorlog” was nie.

So het Robert Forsyth, eienaar van die Kedar Lodge buite Rustenburg, Saterdag by die onthulling van die standbeeld daar as deel van Erfenismaand-vieringe gesê.

Nico Wessels was die argitek en Adam Madebe die beeldhouer.

Die Kedar Lodge is geleë op ’n deel van Paul Kruger se plaas, Boekenhoutfontein.

Die Sarel (Rooi Bul) Oosthuizen-kanon, ’n Britse wapen wat in die Anglo-Boereoorlog in die vroeë 1900’s gebruik is, is ook Saterdag onthul. Maj. John Pennefather, wat die kanon onthul het, was lid van ’n plaaslike militêre studiegroep wat veldslae van die Anglo-Boereoorlog in die Rustenburg-omgewing nagevors het.

Die Sol Plaatje-standbeeld en die kanon is nou deel van Forsyth se indrukwekkende private versameling standbeelde en items uit die Anglo-Boereoorlog wat in die Paul Kruger-museum by die lodge te sien is.

Daar pryk reeds standbeelde van Jan Smuts, Mahatma Gandhi, Paul Kruger en Kgosi Mokgatle. Mokgatle was in die 19de eeu koning van die Bafokeng-stam in die Rustenburg-omgewing.

Forsyth, ook uitvoerende voorsitter van die Recreation Africa Group, het Saterdag gesê: “Ons is passievol daaroor om Suid-Afrika se ryk geskiedenis en erfenis te bewaar.”

Hy het gespot Boekenhoutfontein was Paul Kruger se “Nkandla” omdat hy en sy familie daar privaat ontspan het.

“Dis ’n wonderlik gepaste plek om ons erfenis te bewaar. Die Anglo-Boereoorlog was ’n moeilike tyd in ons geskiedenis, maar hopelik kan ons iets daaruit leer.”

Forsyth sê Plaatje was sy tyd ver vooruit.

In sy 20’s, in die Anglo-Boereoorlog, het hy met sy fiets van konsentrasiekamp na konsentrasiekamp gery en mense se verhale geboekstaaf. Sy dagboek oor gebeure gedurende die oorlog in die Mahikeng-omgewing is sover bekend die enigste wat ’n swart perspektief op die oorlog gee.

Plaatje was ’n intellektueel, skrywer, linguis en joernalis. Hy was sewe tale magtig, het van Shakespeare se werke in Tswana vertaal en as hoftolk opgetree. Plaatje was ook die eerste sekretaris-generaal van die South African Native National Congress, voorloper van die ANC.

In sy boek Native Life in South Africa het hy geskryf oor die Naturelle-grondwet van 1913, wat swart grondbesit erg ingeperk het.

Britse kanonloop 266 jaar oud

Die Sarel (Rooi Bul) Oosthuizen-kanon is ’n oorspronklik Britse kanon waarvan die loop 266 jaar oud is. Die kanon is gebruik in ’n veldslag in Julie 1900 by Dwarsvlei in die Rustenburg-omgewing.

Sarel Oosthuizen, ook bekend as “Rooi Bul” weens sy rooi hare en dapperheid, was bevelvoerder van dié slag. Die kanonloop is in die slag vernietig en die Britte het die kanon net daar gelos.

Oosthuizen het sowat drie weke ná die veldslag gesterf aan wonde wat hy daartydens opgedoen het. Die kanon was sowat 50 jaar in die Oosthuizen-familie se besit voordat iemand dit gekoop en gerestoureer het. Robert Forsyth het dit onlangs van dié eienaar gekoop.

Meer oor:  Paul Kruger  |  Sol Plaatje  |  Swart  |  Oorlog  |  Wit  |  Rasse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.