Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Soldate in Kaap ‘mors van geld’

Roegchanda Pascoe, voorsitter van die veiligheidsforum in Manenberg op die Kaapse Vlakte, beskou die ontplooiing van soldate om misdaad onder beheer te bring as ’n mors van geld.

“Niks het verander nie,” sê Pascoe.

“Die mense is nog net so bang soos toe die weermag in Julie hier ontplooi is.” Sy beskou die weermag se teenwoordigheid as niks anders as ’n politieke speletjie nie.

“Dit het niks hier reggemaak nie,” sê Pascoe.

Manenberg, sowat 17 km vanaf die middestad, was die eerste gebied waar die weermag op 18 Julie sy troepe ontplooi het.

Altesame 1 320 troepe het sedertdien ondersteuning aan die polisie verskaf om bendegeweld in die omgewing te beveg as deel van Operasie Lockdown, wat R23,3 miljoen kos. Die weermag se ontplooiing van twee maande loop Maandag ten einde.

Soldate patrolleer die strate van Manenberg. Foto: Jaco Marais

Volgens die polisie is meer as 1 000 mense in dié tydperk in hegtenis geneem in tien gebiede op die Kaapse Vlakte, waar misdaad hoogty vier. Dit sluit in Manenberg, Bishop Lavis, Michells Plain, Delft, Elsiesrivier, Nyanga, Khayelitsha, Mfuleni, Philippi en Kraaifontein. Die meeste moorde het in dié gebiede voorgekom.

Volgens Pascoe is Manenberg steeds ’n uiters gevaarlike plek. “Die ambulanse kan nie eens sonder polisiebegeleiding hierheen kom nie. Die ontplooiing kos miljoene, maar dit was ondoeltreffend. Meer mense sterf,” sê Pascoe.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het versoek dat die weermag se ontplooiing vir minstens ses maande verleng moet word, aangesien die gebiede wat deur misdaad geraak word, nie ’n aansienlike afname in geweldmisdaad toon nie.

Winde het bygevoeg dat die polisie nie genoeg hulpbronne het om die misdaad alleen te bestry nie, en het ’n beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om die provinsiale regering toe te laat om meer betrokke te wees as die verlenging goedgekeur word.

Lirandzu Themba, woordvoerder van Bheki Cele, minister van polisie, het vroeër die week gesê ’n besluit is nog nie geneem om die weermag se ontplooiing op die Kaapse Vlakte te verleng nie.

Die verskillende veiligheidsagentskappe sal volgens Themba eers die situasie op die grond moet beoordeel en besluit wat die behoefte is.

“As die ontplooiing verleng word, word presidensiële notules opgestel en die parlement dienooreenkomstig ingelig,” het sy bygevoeg.

Francina Lukas, waarnemende voorsitter van die provinsiale gemeenskapspolisiëringsraad, het gesê dat hoewel ’n indrukwekkende aantal verdagtes aangekeer is, die soldate se ontplooiing nie gedoen het wat dit moes nie – om die moordsyfer af te bring.

“Die hoofdoel was om spesifieke gebiede te stabiliseer, maar ons het nie veel stabilisering gesien nie,” sê Lukas.

Volgens haar ondersteun die raad die verlenging van die weermag se ontplooiing en dat soldate in ’n “ondersteunende hoedanigheid” moet aanbly.

“Ek dink nie die weermag kan ooit die polisie se werk doen nie. Hul taak is om die land en sy grense te beskerm. Die polisie moet toegelaat word om hul funksie te vervul, maar ons moet besef dat hulle nie die oorlog teen misdaad alleen kan wen nie.”

Lukas wil hê dat buurtwagte behoorlik opgelei en as die polisie se vennote in misdaadvoorkoming beskou word.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, sê terwyl hy ook die oproep vir die verlenging van die weermag se teenwoordigheid in die geïdentifiseerde gebiede ondersteun, is die wyse waarop hulle ontplooi is, nie ten volle benut nie.

“Ons het (die SANW) as ’n vredesmag nodig, terwyl die SAPD ondersoeke, inhegtenisnemings en aanklagte verrig. Die weermag moet daar wees as die polisie nie daar is nie,” het Smith bygevoeg.

“Ek hoop die weermag gaan voort, maar verander van strategie en werk onafhanklik.”

Volgens hom was die “groot teleurstelling” van die ontplooiing van die weermag die gebrek aan misdaadintelligensie.

“Dit is soos om bakstene en sement te gebruik, maar sonder ’n plan van hoe jy wil bou,” sê Smith.

Meer oor:  Sanw  |  Kaapse Vlakte  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.