Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Soli Philander oor aanhouding: ‘Die selle is walglik’

Die sel waarin die komediant en akteur Soli Philander (59) Saterdag by die Kaapstad-polisiekantoor aangehou is, is “walglik vuil en het vreeslik gestink”.

“Die komberse stink, alles stink. Ek het eintlik gedink ’n mens moet ’n organisasie stig waar vrywilligers die selle skoonmaak.”

Philander is Saterdagoggend in Distrik Ses in hegtenis geneem vir aanranding en weens die oortreding van ’n beskermingsbevel teen hom. Hy is die middag op waarskuwing vrygelaat en moet Maandag in die hof verskyn.

Soli Philander
Die akteur en komediant Soli Philander (59). Foto: Argief, Wesley Martin
Die komberse stink, alles stink. Ek het eintlik gedink ’n mens moet ’n organisasie stig waar vrywilligers die selle skoonmaak.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het die klagte teen Philander bevestig en daarop gewys dat die selle elke oggend skoongemaak word.

Maar Philander sê hy gee nie om wat enigiemand sê nie – dit is aaklig in ’n polisiesel. Die plek was vuil en het gestink.

Hy sê die beskermingsbevel teen hom spruit uit ’n stryd in die Distrik Ses-gemeenskap oor die eienaarskap van ’n gemeenskapsentrum van die Marion-instituut.

Die klag van aanranding kom ná ’n onderonsie Donderdagaand met ’n man wat in die sentrum woon en wat volgens Philander ander mense toegang tot die gebou weier.

Ek verteenwoordig nou die kinders in die gemeenskap wat daardie gebou beter kan gebruik. Ek is verlig dat die kind veilig is. Nou wil ons ons gebou terughê!

Hy het ook ’n beskermingsbevel teen dié man wat die gebou na bewering beset, en sê Donderdagaand het hy en die man fisiek baklei, waarna hy (Philander) by trappe afgeval het.

“My lyf is nog seer, my stem is hees, ek het ’n paar kneusplekke, maar ek is oukei.

Philander sê hy het onlangs bewus geraak van ’n vierjarige meisie wat saam met dié man en die kind se ma in die gemeenskapsentrum bly.

Hy is baie bekommerd oor die kind se welstand, en beweer daar word dwelms in die gebou gebruik.

Hy het die departement van maatskaplike ontwikkeling gekontak en Sharna Fernandez, LUR, het gehoor gegee aan sy pleidooie om die kind te verwyder uit die gebou wat glo in ’n baie vervalle toestand is.

Fernandez sê hulle het Saterdagoggend gehoor van die situasie en begin ondersoek instel.

“Die kind is na ’n plek van veiligheid geneem.”

Die gebou van die Marion-instituut in Chapelstraat, Distrik Ses, waaruit ’n vierjarige meisietjie verwyder is. Foto: Google Maps

Fernandez sê maatskaplike werkers doen in sulke gevalle ’n risikobepaling om vas te stel of daar ’n onmiddellike gevaar vir die kind se veiligheid is. Indien wel, kan die kind verwyder en na ’n plek van veiligheid gebring word.

Die Marion-instituut was volgens Philander voorheen ’n belangrike sentrum waar veral vroue en kinders van Distrik Ses toevlug kon kry in tye van nood. Die gebou is meer as 100 jaar oud en het volgens Philander oor die afgelope dekade vervalle geraak.

“Die koperpype is gesteel, die houtvloere val in, die dak lek, die mure is gemuf. Daardie plek is in ’n haglike toestand.

“Ek verteenwoordig nou die kinders in die gemeenskap wat daardie gebou beter kan gebruik. Ek is verlig dat die kind veilig is. Nou wil ons ons gebou terughê!”

Daar is Sondagmiddag ’n optog by die gebou gehou deur veral jong kinders in die gemeenskap, gelei deur Philander. Talle mense het ook ’n petisie onderteken wat vra dat die gebou aan die gemeenskap teruggegee word.

Philander sê hy sal Maandag in die hof wees.

Meer oor:  Soli Philander  |  Aanhouding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.