SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Algemeen
Solidariteit pak regering by VN

Johannesburg. – Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering pak mekaar Maandag in ’n sitting van die Verenigde Nasies (VN) se Komitee vir die Uitwissing van alle Vorme van Rassediskriminasie oor rassekwotas in die werkplek.

’n Verslag wat sowat ’n jaar gelede deur Solidariteit by die VN ingedien is, gaan uiteindelik nou aangehoor word, het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die vakverbond, Sondag gesê.

Hermann het in Genève, Switserland, gesê die VN-komitee moet raad gee en aanbevelings doen oor die regering se “wiskundige benadering” tot regstellende aksie.

Sowel die Renate Barnard-saak as dié van die bruin werknemers van die departement van korrektiewe dienste word ten volle bespreek.

Barnard en Freddie Engelbrecht, wat betrokke was by die saak van werknemers van korrektiewe dienste, is in die afvaardiging wat vandag voor die komitee verskyn.

Hermann sê verteenwoordigers van 18 lande dien in die komitee, wat vandeesweek die sake van minderhede van ses lande aanhoor.

Ons wys op die gevaar dat Suid-Afrika ’n meerderheidsdemokrasie onder die dekmantel van regstellende aksie word.

Solidariteit en AfriForum het intussen ook ’n aanvullende verslag oor rassekwotas in sport ingedien nadat Fikile Mbalula, minister van sport en ontspanning, vroeër vanjaar besluit het dat Suid-Afrikaanse sportfederasies nie groot internasionale byeenkomste mag aanbied nie omdat hulle nie aan sekere rasvereistes voldoen nie.

Hermann sê in sy aanbieding oor minderhede: “Ons wys op die gevaar dat Suid-Afrika ’n meerderheidsdemokrasie onder die dekmantel van regstellende aksie word.

“Daar is ’n fyn lyn tussen ‘jy mag nie hier werk nie’ en ‘jy mag nie hier woon nie’. Die bruin gemeenskap het reeds gehoor hulle moet trek as hulle toegang tot werk wil hê. Die werklike toets is steeds of minderhede beskerm kan word,” sê Hermann.

Oor sport sê hy om voorregte en regte weg te neem om sodoende rasse-uitkomste op te dwing, is nie die bedoeling van die Suid-Afrikaanse Grondwet, die VN-konvensie of internasionale sportkodes nie.

’n Afvaardiging van die departement van internasionale betrekkinge en samewerking is ook in Genève en sal vandeesweek sy voorleggings oor die kwessie aan die VN-komitee kan doen.

Hermann wys daarop dat die Suid-Afrikaanse regering die Konvensie vir die Uitwissing van alle Vorme van Rassediskriminasie bekragtig het en moet elke twee jaar verslag lewer oor wat hy doen om dié konvensie uit te voer.

“Burgerlike organisasies kan dan skaduverslae indien om kwessies uit te lig waaroor die regering swyg,” het Hermann verduidelik.

Meer oor:  Solidariteit  |  Verenigde Nasies  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.