Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Solms-Delta se stigters is uit

Die professor en die Britse sakeman wat die stigters en mede-aandeelhouers van die bekende Solms-Delta-bemagtigingsprojek in die Franschhoek-vallei was, is nou sonder omhaal uit die projek geskop.

Richard Astor, Fanie Carolus, Nico Jansen en Mark Solms. Foto: Solms-Delta

Solms-Delta – wat eens voorgehou is as ’n wonderlike voorbeeld van hoe werkers ’n aandeel in die vrug van hul arbeid kan kry – is reeds in Julie verlede jaar in sakeredding geplaas nadat dit duidelik geword het die plaas kan nie meer hul skuldeisers betaal nie.

Die projek is in 2007 tot stand gebring deur prof. Mark Solms, ’n akademikus aan die Universiteit van Kaapstad, en die Britse miljoenêr Richard Astor. Dit bestaan uit drie plase, Delta, Lubeck en Deltameer. Delta behoort aan prof. Mark Solms, Lubeck aan Astor en Deltameer aan die werkers.

Astor en Solms het in 2007 verbande op hul eie grond uitgeneem om Deltameer in ’n vennootskap met hul werkers te koop en ’n trust, Wijn van de Caab, tot stand gebring waarin die werkers se belang gehou is.

Verbeterings en maatskaplike projekte wat miljoene rande gekos het, is aangepak, wat argeologiese opgrawings op die plaas, die opknapping van werkershuise, musiekprojekte en ’n deftige restaurant ingesluit het.

‘Dis ’n tragedie, ’n gemors!'

Nadat die projek se geld aan die einde van 2016 begin opraak het, het die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming toegetree en as deel van hul 50-50-beleid nog R65 miljoen in die plaas gestort om die werkers se aandeel van 33% na 45% te verhoog. Die departement het die afgelope week aan Rapport gesê R74,6 miljoen van belastingbetalersgeld is die afgelope 18 maande in die plaas gestort, waarvan R19,3 miljoen net aan lopende kapitaal en administrasie.

Desnieteenstaande het die plaas aangehou om ’n verlies te maak, hoofsaaklik weens swak wynverkope en swak bestuur, veral van die restaurant op die plaas. In Julie verlede jaar is die trustees gedwing om die projek in vrywillige sakeredding te plaas om te keer dat hul krediteure op hulle toeslaan.

Solms het destyds aan Rapport gesê die stap “is die begin van Solms-Delta se sukses”.

Nou het die departement van landelike ontwikkeling en die werkers klaarblyklik – om redes wat nie heeltemal duidelik is nie – vertroue verloor in Solms en Astor en alle bande met hulle verbreek.

Solms-Delta Foto: Julian Jansen

Die departement het die afgelope week aan Rapport gesê die sakereddingsproses “nader sy einde” en die departement het besluit om sy sakeverhouding met die 50%-vennoot (Astor en Solms) te beëindig.

“Die departement sal nou ’n nuwe sakemodel struktureer waarin die bevoordeeldes (die werkers) 100%-eienaars van die onderneming word.”

Kenners gaan help met ’n regrukstrategie en intussen het die departement onderneem om self die lone en salarisse van die werkers te betaal.

Solms, ’n sielkundedosent aan die Universiteit van Kaapstad en medeaandeelhouer, was Donderdag “stomgeslaan” toe hy die nuus dat hy uitgeskop word deur die media verneem.

“Dis ’n tragedie, ’n gemors!” het hy die afgelope week aan Rapport gesê.

Solms reken die rede vir die skielike rigtingverandering is die kabinetskommeling onder pres. Cyril Ramaphosa.

“Ek is seker die nuwe minister, Maite Nkoana-Mashabane, het seker gedink ek is ’n onbetroubare wit man. Allesbehalwe. As ’n vennootskap het ons probeer om die buitengewone nalatenskap van apartheid te takel. Dít maak ons uniek. Om nou ons handelsmerk te vernietig, is om ons beste kans te vernietig.

“Dalk het die nuwe minister ook nie die institusionele geskiedenis van ons ooreenkoms met die regering nie. Sy weet dalk nie van die beredenering, detail en gees van die ooreenkoms nie.

“So, die regering verstaan nie heeltemal die moontlike gevolge nie.”

Nico Jansen, ’n Wijn van de Caab-trustee en ’n verteenwoordiger van die werkers, sê ’n onsekere toekoms het hulle in die gesig gestaar met Solms-Delta se probleme. “Die departement het nou egter weer nuwe hoop aan die mense gegee.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.