Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Solms se goeie droom versuur
Tjailatyd: Plaaswerkers keer terug ná ’n dag se werk in die wingerde. Foto: Julian Jansen

Die mense in die taxi’s lag hulle uit as hulle hoor ons werk op Solms-Delta, die “bemagtigingsplaas”, sê die mense van dié spogplaas in die Franschhoek-vallei.

“Dan vra hulle wanneer ons dividende kom, want hulle lees in die koerante en sien op die TV daarvan.”

. . . aan die begin te veel klem gelê op maatskaplike verantwoordelikhede.  
Craig MacGillivray

Sedert die nuus dat die plaas op die rand van bankrotskap staan, skaam hulle hul nog meer en handhaaf hulle maar ’n lae profiel in die dorp, sê die werkers oor die nuus dat Solms-Delta sedert Julie in sakeredding geplaas is.

“Ons bid nou, sonder ophou,” sê een van hulle die afgelope week aan Rapport.

Die Solms Delta-“sprokie” het in 2007 begin toe prof. Mark Solms en sy sakevennoot, die Britse entrepreneur Richard Astor, ’n 33%-belang in die landgoed aan hul werkers oorgedra het. Verlede jaar is dié belang, met die ondersteuning van die nasionale bemagtigingsfonds en die nasionale departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming, na 45% verhoog. Destyds is dié transaksie gesien as ’n wonderlike voorbeeld van bemagtiging en in pas met die regering se sogenaamde 50/50-program wat boere aanmoedig om die helfte van hul plaas aan hul werkers te gee.

Prof. Mark Solms Foto: City Press

Die plaas is ook bekend vir sy kore en orkes en ’n jaarlikse oes-en-musiekfees wat reuse-skares na die plaas lok.

Nou blyk dit dat dié bemagtigingstransaksie – ondanks ’n stewige inspuiting belastinggeld – op ’n reuse-hoop skuld gebou is en dat die plaas sukkel om genoeg kontant te genereer om sy rekeninge te betaal.

Plaaswerkers sê die slegte nuus is twee weke gelede, douvoordag, aan hulle oorgedra: Die Solms-Delta-wynlandgoed en die maatskappy Solms-Wijn De Caab, die eienaar van die restaurant op die plaas, is in sakeredding geplaas – ’n formele proses om dreigende bankrotskap te probeer afweer.

Alison Timme van PricewaterhouseCoopers is aangestel om die proses te hanteer en het reeds op 7 Augustus ’n vergadering met al die skuldeisers gehou.

Werkers met wie Rapport op die plaas gaan gesels het, het verkies dat hul name nie gepubliseer word nie uit vrees dat hul werk in gedrang kan kom.

“Ons wil bitter graag weet waar is ons geld (dividende). Ons het geteken om aandeelhouer te wees,” sê ’n werker buite die wynkelder.

Craig MacGillivray, uitvoerende hoof.Foto: Facebook

’n Ander blameer Solms vir slegte boerderybesluite.

“Prof moes nooit destyds die perskeboorde uitgehaal en nog wingerde geplant het nie,” sê ’n afgetrede werker by die tuinhek van sy plaashuis. Sy bure se dogter werk by die Fyndraai-restaurant op die plaas. Hy sê sy is erg bekommerd oor haar werk daar.

Uit die dokumente en beëdigde verklarings oor die sakereddingsproses op die plaas se webblad is dit duidelik dat werkers rede het om bekommerd te wees oor hul werk.

Solms-Delta se uitvoerende hoof, Craig MacGillivray, verklaar onder eed dat hy glo die plaas het aan die begin te veel klem gelê op maatskaplike verantwoordelikhede “tot die nadeel van winsgewendheid”.

Hy sê die gevolg was dat daar te veel personeellede en oorhoofse uitgawes was.

’n Plaaswerker met wie Rapport gesels het, beaam dit: “Daar is te veel bestuurders op Solms-Delta. Hier is manne wie se vroue ook bestuurders is! Dis dáár waar besnoei moet word, nie by óns (werkers) nie.”

Alison Timme behartig die sakeredding.Foto: Linkedin

Intussen, verduidelik ’n ander plaaswerker, lyk dit of die belastingbetaler sal moet instaan om die plaas weer winsgewend te kry.

“Prof het (Woensdag) gesê ons moet vasbyt, hy gaan by die regering vir R3 miljoen vra om die wa deur die drif te trek. In Oktober gaan Richard (Astor) ’n plan maak. Prof het gesê ons gaan nié ons werk verloor nie.”

In ’n openhartige onderhoud het Solms aan Rapport verduidelik dat dit “tyd én geduld” vra om Solms-Delta weer op dreef te kry.

Hy sê die projek het drie groot uitdagings gehad: hulle moes nuwe wingerde vestig, ’n R46 miljoen-lening afbetaal, terwyl hulle ook onmiddellike voordele aan die werkers wou gee soos beter behuising, mediese sorg en uitstekende opvoeding vir kinders.

“So, einde verlede jaar het daar finansiële beperkinge na vore gekom. Die werkersaandeel is na 45% verhoog.

“Ons het geld bestee, nou is óns benadeeld!”

“Die regering se geld het nie vinnig genoeg ingekom nie, met die gevolg dat ons regrukstrategie (van werkerbemagtiging) nie vinnig genoeg kon geskied nie.”

Hy sê daar was ’n kans dat hul skuldeisers teen hulle sou begin optree, en daarom het hulle besluit om die onderneming vroegtydig in sakeredding te plaas.

Volgens Solms voer hy samesprekings met die regering vir ekstra geld. Oor die werkers wat oor “dividende” mor, sê Solms: “Eendag, dalk oor 18 maande, as daar winste is, dán.”

In sy verklaring sê MacGillivray dat Solms-Delta en die restaurantonderneming ’n “dramatiese kostebesnoeiingsoefening en regrukplan” van stapel gestuur het.

Daar is geen hangende aansoek vir die likwidasie van die maatskappy nie en geen krediteur het nog met so ’n aansoek gedreig nie.

Meer oor:  Solms-Delta
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.