Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Somizi gaan stappe doen oor k-woord op Twitter
Somizi Mhlongo. Foto: Refilwe Modise

Somizi Mhlongo, die Idols-beoordelaar en TV-werklikheidster, beplan om klagte aanhangig te maak teen die vrou wat hom Dinsdag op Twitter die k-woord genoem het.

“Ek dink nie ek het ’n ander keuse nie. As ’n openbare figuur het ek die verantwoordelikheid om rassiste vir hul optrede verantwoordbaar te hou,” het hy Dinsdagaand by navraag gesê.

’n Storm het Dinsdag op sosiale media losgebars nadat ene Lia Meyer getwiet het: “Isn’t @somizi like a homosexual k****tjie?”

Meyer sê ’n kuberkraker het haar Twitter-rekening binnegedring en sy is nie vir die twiet verantwoordelik nie. Later het sy al haar twiets uitgewis en haar Twitter-rekening gesluit.

“Daar is altyd ’n verskoning; nou is dit ’n kuberkraker. Ons sal dieper ondersoek instel en seker maak dat die waarheid uitkom,” sê Mhlongo.

As ’n openbare figuur het ek die verantwoordelikheid om rassiste vir hul optrede verantwoordbaar te hou.

Hy sê hy is nie kwaad nie, eerder teleurgesteld.

“Jy praat nie net met my nie, maar met ’n groot groep mense, nie net swart mense nie maar ook gay mense. Daar is nie ’n plek vir sulke mense (soos Meyer) in Suid-Afrika nie. Ons kan hierdie voorval nie ligtelik opneem nie, dit moet op ’n sekere punt tot ’n einde kom.”

Pogings om met Meyer kontak te maak, het misluk. Volgens ’n bron na aan haar is sy platgeslaan en onder verdowing.

Die twiet het sterk reaksie in die sosiale media gekry. Mhlongo het sy volgelinge in ’n twiet gevra om na Meyer te help soek omdat die “tronk op haar wag”. Sy twiet is teen Dinsdagaand meer as 3 800 keer gedeel.

* Mhlongo was in 2015 self in die sop oor die kommentaar wat hy oor die #ZumaMustFall-veldtog gelewer het.

Hy het by ’n saamgestelde foto op Instagram uitgevaar teenoor sommige wit Suid-Afrikaners se betrokkenheid by die optogte as ’n front om hul “racist bulls**t” weg te steek.

“Just coz u got away with apartheid doesn’t mean we can’t see u using this Zuma campaign as a shield to hide yo racist bulls**t,” het hy geskryf.

Hy het die inskrywing verwyder en op sy sosialemedia-platforms om verskoning gevra. Hy het gesê dit is die aksies van rassistiese wit Suid-Afrikaners waarteen hy kapsie maak en nie wit Suid-Afrikaners in die algemeen nie.

Meer oor:  Somizi Mhlongo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.