Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Sommige paaie in Noordwes lewens-gevaarlik’
Een van die paaie in die Tswaing-omgewing in Noordwes wat in so ’n swak toestand is dat dit lewensgevaarlik is om daarop te ry. Foto: Verskaf

Die paaie in die omgewing van Sannieshof, Delareyville en Ottosdal in Noordwes is in so ’n swak toestand dat dit lewensgevaarlik geword het om daar te ry.

Plek-plek is dit heeltemal onbegaanbaar, sê SP Motswenyane, die DA se woordvoerder oor provinsiale openbare rekeninge in Noordwes.

“Motoriste kla oor skade aan hul voertuie.

“Die paaie word ook gebruik wanneer mense vinnig by ’n hospitaal moet kom. Boere in die omgewing het al self van die slaggate herstel. Die toestand van grondpaaie tussen sommige nedersettings is so sleg dat mense nie eens daarop kan ry of loop nie.”

Volgens Motswenyane het Johanna Mmule Maluleke, LUR vir openbare werke en paaie in Noordwes, reeds in Mei vanjaar beloof dat groot herstelwerk aan minstens agt paaie in verskillende dele van die provinsie gedoen sal word, en gesê dat ’n tenderproses reeds aan die gang is vir die herstel van ses ander paaie.

“Maluleke het ook beloof haar departement gaan hard probeer om in die huidige boekjaar (2018-’19) aanvaarbare paaie-infrastruktuur in die provinsie te skep.”

Motswenyane sê dit is belangrik dat die regering infrastruktuurontwikkeling soos paaie en vervoerstelsels prioritiseer omdat vervoer noodsaaklik is vir werkskepping, ekonomiese deelname en armoede-verligting.

Tsholofelo Mathibedi, Maluleke se woordvoerder, sê Noordwes se departement van vervoer is ernstig daaroor om alle paaie, ook dié in die Tswaing-omgewing, te herstel.

Een van die paaie in die Tswaing-omgewing in Noordwes wat vol slaggate is. Foto: Verskaf

“Ons geld is egter beperk en ons kan nie oral gelyktydig werk nie. Die toelaag vir paaie wat ons van die nasionale regering kry, is betreklik klein omdat dit bepaal word deur die grootte van die bevolking in ’n provinsie. Hoewel Noordwes se bevolking klein is vergeleke met sommige ander provinsies, is dit ’n uitgestrekte gebied met baie paaie.”

Mathibedi sê die voorwaardelike toelaag van

R960,6 miljoen wat Noordwes van die nasionale regering kry, mag net vir die instandhouding van paaie gebruik word en nie vir die herbou daarvan nie.

“ ’n Verdere R285,9 miljoen van die billike toewysing wat die nasionale regering aan ons gee, kan ook vir paaie gebruik word. Al die beskikbare geld in een geldjaar is egter nie genoeg om al die paaie dadelik te herstel nie.”

Mathibedi sê die tenderproses en aanwysing van kontrakteurs vir herstelwerk aan onderskeidelik die pad tussen Christiana en Schweizer-Reneke en die pad tussen Delareyville en Setlagole is reeds afgehandel.

“Die kontrakteurs moet nou net begin werk.”

Mathibedi sê die departement se eie kontrakteurs sal ook binnekort aan die pad tussen Delareyville en Schweizer-Reneke begin werk.

“Ons beloof om mettertyd al die slaggate in die provinsie te herstel. Ons wil die probleem met finansiering probeer verbeter deur mettertyd ’n provinsiale padagentskap te vestig, want dan kan ons geld leen vir die werk aan paaie.”

Ons beloof om mettertyd al die slaggate in die provinsie te herstel. Ons wil die probleem met finansiering probeer verbeter deur mettertyd ’n provinsiale padagentskap te vestig, want dan kan ons geld leen vir die werk aan paaie.

Meer oor:  Paaie  |  Noordwes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.