Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Soos ‘donderweer’ toe boom huis tref

’n Rustige nag het in ’n oogwink in iets wat soos ’n donderstorm geklink het verander, toe ’n sytak van ’n reuse-boom deur ’n huis se dak steek.

“Dit het geklink soos vreeslike donderweer,” het Hermanus Bruintjies (66) Dinsdagoggend voor die gesin se huis in Helenvale, Port Elizabeth, gesê.

Die woonbuurt is berug oor die bendeskietery wat daagliks, dag én nag, hier voorkom, en die onbekende dreungeluide het Hermanus omstreeks 02:30 vinnig uit sy bed laat spring.

Hermanus Bruintjies (66) wys hoe die groot sytak van die boom op sy huis in Helenvale geval het. Foto: Lulama Zenzile

“Ek het dadelik na die kinders se kamer toe gegaan om te kyk of hulle oukei is. Toe ek in die kamer kom, sien ek die tak wat deur die dak steek en ek het geweet ’n deel van die boom voor ons huis het afgebreek.”

’n Tak van dié boom het sowat vyf jaar gelede begin tekens toon dat dit gaan afbreek.

Hermanus sê hy het in ’n plaaslike koerant gemeld dat die boom ’n gevaar inhou, met die hoop dat iemand tot hul redding kom om die boom te verwyder.

“Gelukkig is nie een van die drie kinders of die baba, wat in die kamer slaap, beseer toe die boom val nie,” sê Lorna (39), Hermanus se vrou.

“Ons het almal dadelik uit die huis gekry, want ons het nie geweet wat volgende gaan gebeur nie. Ek was vreesbevange dat die hele huis ineen sal stort,” sê Lorna.

Teen sonop kon die Bruintjies-gesin die situasie in oënskou neem.

Elroy Japhta (links) en Previne Stuurman (regs) wys waar die tak Dinsdagoggend vroeg deur die huis se dak gesteek het. Foto: Lulama Zenzile

Dele van die huis, wat sewe mense huisves, se dak is deur die tak beskadig. Hulle vrees dat die mure beskadig is nadat die swaar tak op die dak geval het.

Agter die huis lyk dit asof daar oornag ’n bos gegroei het, soos die blare en takke die erf vol lê.

Hermanus sê almal in die buurt het altyd die boom se skaduwee geniet, maar nou is hulle alleen met die skade gelaat.

“Ons het geen ander heenkome nie, dit is ons enigste huis, ons sal hier moet slaap. Ek hoop net iemand kan die boom kom help verwyder.”

John Best, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in die Nelson Mandelabaai-metro, sê hoewel ’n boom in ’n erf die huiseienaar se verantwoordelikheid is, het hy voorgestel die wyksraadslid kontak die plaaslike rampbestuurspan om die gesin by te staan.

Meer oor:  Hermanus Bruintjies  |  Helenvale  |  Port Elizabeth  |  Donderstorm  |  Storms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.