Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sorgsentrum onder loep ná dood van 86-jarige

’n Bejaarde vrou is dood kort nadat sy uit ’n sorgsentrum vir Alzheimer- en demensie-lyers in Groot-Brakrivier in die Suid-Kaap verwyder is waar sy na bewering mishandel is.

Die 86-jarige vrou is op 16 September dood.

Sy was sedert 20 Januarie vanjaar ’n inwoner van die fasiliteit en kon self eet, loop, aantrek en praat, volgens haar dogter.

Die bestuurder het glo gesê syself is ’n gekwalifiseerde en geregistreerde suster.

Op 10 Mei om 08:20 het die dogter ’n stemboodskap ontvang dat haar ma omstreeks 06:00 die oggend in die badkamer geval en vermoedelik haar heup gebreek het.

Met die vrou se aankoms om 09:00 was ’n ambulans steeds nie ontbied nie. Die bestuurder het glo nie lugtyd op haar selfoon of die ambulans se nommer gehad nie.

Die dogter het self ’n ambulans ontbied.

Haar ma is na die Mosselbaaise provinsiale hospitaal geneem. Op 12 Mei is sy na die George-hospitaal oorgeplaas en het ’n operasie ondergaan. Op 17 Mei is sy ontslaan met medisyne en moes sy ook inspuitings teen bloedklonte kry. Sy is terug na die sorgsentrum.

Toe die dogter ’n dag daarna haar ma besoek, is sy meegedeel dat die bestuurder haar ma morfien toegedien het.

Die bestuurder het glo tekens van ’n klein drukseer op die bejaarde se stuitjie opgemerk. Volgens haar was dit onder beheer.

Toe die dogter ’n dag daarna haar ma besoek, is sy meegedeel dat die bestuurder haar ma morfien toegedien het. Die morfien was ’n ander pasiënt s’n. Die dogter wou ’n dokter ontbied, maar die bestuurder het glo geweier.

Op ’n keer het die dogter ook gesien dat die bestuurder haar ma aan die nek knyp sodat dié haar mond moet oopmaak om te eet.

Die dogter moes die bestuurder ook daagliks herinner aan die inspuiting teen bloedklonte omdat sy (die bestuurder) daarvan vergeet het. Volgens die bestuurder het die druk-seer intussen ook “verdwyn”.

Met ’n besoek aan ’n fisioterapeut op 13 Junie het die dogter gesien haar ma se drukseer is erger en dit ruik sleg. Die bestuurder het glo ook aan die fisioterapeut gesê haar ma het ’n rugoperasie ondergaan, terwyl dit ’n heup-operasie was.

Op 27 Junie is die dogter meegedeel dat die drukseer so erg is dat die bestuurder ’n gekwalifiseerde persoon ingekry het om wondversorging te doen. Die dogter wou ’n dokter ontbied, maar die bestuurder het glo geweier.

’n Dag later het die bestuurder glo laat weet dat sy self dooie weefsel weggesny het en peroksied op die seer gegooi het.

Die bestuurder het die dogter blykbaar verseker dat die drukseer genees is en voorgestel “dat sy papaja, knoffel en bone koop om die wond mee te behandel pleks van om geld te mors op ’n dokter”.

Sentrum nie geskik nie

Joshua Covenant Chigome, die woordvoerder van Sharna Fernandez, Wes-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, sê by navraag ingevolge die Ouer Persone-program word ’n verslag van die plaaslike regering ingewag oor die voldoening aan die verordeninge. Inwoners se familielede is gekontak om hulle in te lig dat die betrokke sentrum nie geskik is vir die versorging van swak, ouer mense nie, ingevolge ’n oudit wat gedoen is oor die standaarde vir dié soort fasiliteite.

Die betrokke fasiliteit is nie geregistreer nie en word ook nie aanbeveel deur die verpleeg-spesialis wat die ouditverslag saamgestel het nie.

Volgens Chigome is dit ’n proses om ’n fasiliteit toe te maak wat nie aan die vereiste standaarde voldoen nie. Daar moet eers ’n deeglike ondersoek plaasvind.

Met verskeie besoeke is daar aan die dogter gesê dat die drukseer genees is, maar die bestuurder het glo geweier om dit aan die dogter te wys.

In Julie het die dogter ’n sny aan haar ma se regterkantste oogbank gesien. Dit was ook geswel. Daar is glo aan haar gesê dat haar ma uit haar bed geval het, maar dat dit nie “ernstig” is nie.

Intussen het die bestuurder en die pasiënte van die sorgsentrum na ’n ander perseel verhuis.

Op 19 Augustus het die bejaarde vrou van pyn in haar linkerbeen gekla. ’n Versorger het glo aan die dogter gesê die pyn is weens knypers (clips) wat te laat ná ’n operasie verwyder is en wat ’n abses gevorm het. Die bestuurder het glo verskeie kere gesê sy “is nie vandag lus om clips uit te haal nie”.

Later het die dogter verneem dat versorgers glo self die abses gedreineer het. Die wond is nie vir die dogter gewys nie omdat dit glo toegeplak is nadat ’n “dokter” reeds daarna gekyk het.

Volgens versorgers het die vrou ook nie in Mei glo in die badkamer geval nie, maar op die vloer langs haar bed. Die bestuurder van die sentrum is glo ook nie ’n gekwalifiseerde of geregistreerde suster nie.

Die bejaarde is op 29 Augustus uit die sentrum verwyder. ’n Klag is by die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling ingedien.

Die vrou en dogter se name word op versoek weerhou.


Meer oor:  Groot-Brakrivier  |  Sorgsentrum  |  Sterfte  |  Bejaardes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.