Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Soweto-inwoners betoog teen grondbesetters in hul buurt

Inwoners van die middelklasbuurt Protea Glen in Soweto het die afgelope week in hul ontwerpersklere, Converse-tekkies en skaapvelpantoffels die strate ingevaar om buitebande te gaan verbrand omdat grondgrypers hulle op ’n oop stuk grond in die omgewing tuisgemaak het.

“Ons soek nie swart-op-swart-geweld nie en ons sê nie die mense moet geskiet word nie, maar die polisie moet hulle verwyder. Ons wil nie hê hulle moet grond beset nie, want wat hulle doen, is onwettig,” sê Toni Mo­lefe, voorsitter van die Protea Glen-­krisiskomitee.

Inwoners van Protea Glen, ’n gegoede buurt in Soweto, het Maandag die strate ingevaar in hul ontwerpersklere, Converse-tekkies en skaapvelpantoffels om buitebande te brand uit protes teen grondbesettings wat besig was om oorkant hul buurt plaas te vind. Foto: Christopher Moagi
Foto: Hendrik Hancke
Siphiwe Kunene (heel links), ñ stigterslid van South Africans United Against Crime en van sy lede saam met AfriForum se hoof van veiligheid, Ian Cameron.Foto: Hendrik Hancke

Hy is die administrateur van die WhatsApp-groep wat inderhaas gestig is om die inwoners vir die protes te mobiliseer.

Luidens inligting op Wazimap wat in die 2011-sensus versamel is, besit meer as die helfte van Protea Glen se huishoudings hul eie motors, 58% het werk, 64% het toegang tot die internet, 67% besit hul eie huise en betaal verbande af en die gemiddelde huishoudelike inkomste in dié buurt is amper vier keer meer as die Gautengse gemiddeld.

Teen Maandagoggend toe die inwoners die strate invaar, was hul lys van klagtes lank: van sjebiens, onwettige aansluitings van water en elektrisiteit en vrese dat “selfs ons vroue gesteel” gaan word.

Molefe, wat by die betoging opgedaag het in sy wit BMW met Converse-tekkies, jeans en ’n Barcelona-gholfhemp, sê hy werk vir die staat. Hy het aan City Press gesê die polisie het ’n week lank net staan en toekyk toe die grondgrypers begin om die oop stuk grond oorkant hul buurt in erwe te verdeel. Die grond wat die plakkers van die naburige Naledi in hul visier het, is in private besit, maar die inwoners weet nie wie die eienaar is nie.

“Ons het besluit dis tyd om op te tree sonder om gewelddadig te raak.”

Toni Molefe, voorsitter van die Protea Glen-krisiskomitee.
Thomas van Dalen, AfriForum se opleidingsbestuurder vir gemeenskapsveiligheid.
Ná AfriForum se inligtingsessie Vrydag het hul lede en dié van die nieregeringsorganisasie SAUAC die strate van Soweto ingevaar om bewusmaking te doen.Foto: Hendrik Hancke
Al dansende het lede van South Africans United Against Crime hul AfriForum besoekers Vrydag in Soweto verwelkom.Foto: Hendrik Hancke
Ian Cameron, AfriForum se hood van veiligheid besig om lede van SAUACtoe te spreek tydens hulle besoek aan Soweto die afgelope Vrydag.Foto: Hendrik Hancke

Daar is geen dienste op die stuk grond wat die grypers wil vat nie. “Toe ons die mense vra waar hulle water en elektrisiteit gaan kry, het hulle gesê: ‘Ons gaan dit by julle vat’ en dit is tog onwettige aansluitings!”

Hy voel die grond moet gebruik word om Hop-huise op te rig, maar dat dit op die regte manier gedoen moet word. “Dit kan nie net ’n plek wees waar mense gaan plak nie,” het Molefe gesê.” Hy en sy bure is egter nie noodwendig teen grondonteiening sonder vergoeding gekant nie.

“Ons ondersteun onteiening sonder vergoeding, maar dit moet rég gedoen word. Moenie Protea as ’n toetsprojek gebruik nie. As hulle grond wil vat, moet hulle eers na Julius Malema en Floyd Shivambu se huise toe gaan. Laat hulle Dali Mpofu se huis vat. Ons moenie die eerste slagoffers wees nie.”

Elders in Soweto het ontevrede inwoners uit ’n onverwagte oord hulp gekry met hul stryd teen misdaad. Lede van AfriForum het Vrydag in Thokoza Park
lede van die plaaslike buurtwag, South Africa United Against
Crime (SAUAC), touwys gemaak oor hul regte en magte wanneer hulle misdaadpatrollies doen.

SAUAC is ’n buurtwag met 300 lede wat in spitstye patrollies doen in Soweto en omliggende gebiede.

“Die vorige keer wat ek hier in Soweto was, het ek in ’n oorlog kom veg. Nou is ek hier om te help,” het Thomas van Dalen (56), AfriForum se opleidingsbestuurder vir gemeenskapsveiligheid, Vrydag gesê.

“Ons almal bly in die land, ons moet mekaar help teen misdaad. Misdaad ken nie kleur nie.”

Hy sê hy verwag dat daar mense sal wees wat dink dis vreemd dat AfriForum in Soweto help.

“Ek weet ons gaan seker kritiek van buite af kry. Hulle gaan sê dit is nie óns mense nie, maar wie is dan ons mense? Is elke Suid-Afrikaner wat keelvol is vir misdaad, nie tog maar ons mense nie?” sê Van Dalen.

Hy voel baie sterk daaroor dat dit tyd is vir Suid-Afrikaners om met mekaar te begin praat.

“Ek glo in dialoog. ’n Mens maak nie dinge reg deur af te breek of te baklei nie. Jy doen dit deur met mekaar te praat.”

Meer oor:  Soweto  |  Protea Glen  |  Grondgrypers  |  Betoog  |  Inwoners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.