Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Spanning loop hoog op ‘Kontrak’

Nes Dewald Wasserfall hoop Ivan Roux om ook op 28 sy deurbraak as sanger ná jare se probeerslae te maak.

Die sanger Dewald Wasserfall (regs) saam met Ivan Roux, een van die deelnemers aan Die kontrak (VIA DStv kanaal 147). Dewald is die enigste mentor op die program wat nooit een van die mense wat hy afgerig het, moes groet nie. Foto: Deon Raath

Ivan (28) en Deidré Barnard (16) het albei vir Dewald (34) as mentor gekry op Die kontrak (VIA, DStv kanaal 147).

En albei is die afgelope Woensdag deur na die halfeindronde, wat Dewald ook die enigste mentor van vier maak wat geen deelnemer deur die loop van die program moes groet nie.

Saam met hulle is Demi Lee Moore (28) ook nog in die realiteitsmusiekkompetisie waar die wenner ’n kontrak vir ’n album van Coleske Artists kan wen.

Dié wenner word op 21 November aangekondig en sal dan ook deelneem aan die Afrikaans is Groot-konserte wat op Vrydag 23 November afskop.

Dewald sê hy is geweldig trots op sy sangers.

Ivan Roux hoop vir deurbraak.

“Dis ’n baie lekker gevoel en hulle het dit beslis nie sover gemaak omdat ek een of ander spesiale talent het nie. Hulle het net blerrie hard gewerk,” het hy aan Rapport gesê.

Volgens hom het hy reg van die begin af iemand gesoek om te mentor wat, nes hy, weet wat sukkel en hard werk is en al jare lank deur dik en dun vasbyt om te kan sing.

Dit het hy in Ivan gevind.

“Interessant genoeg was ek ook 28, nes Ivan, toe ek my eerste groot treffer gehad het. Ek weet Theuns Jordaan (wat as ’n kenner op die program te sien is) was ook 28 en ek weet van nog ’n paar sangers. Dis net Steve (Hofmeyr) wat dit al op 13 kon regkry,” skerts Dewald.

Ivan het nes Dewald ook vir jare in sy kerk, Hillsong in Wonderboom, Pretoria, se orkes gesing.

“Ek het al harde klippe gekou,” sê Ivan, wat altyd op die verhoog gesien word met ’n ketting om sy nek met van sy vrou, Marida (24), se ringe.

Hy sê dis om sy vrou, hul seuntjie, Damon (2), en dogtertjie, Skyler (10 maande), naby aan sy hart te hou.

“Ek sing al tien jaar en het ook in ’n stadium ’n salon gehad waar ek mans se hare saans gesny het.”

Terselfdertyd het hy musiek gemaak in kroeë en by verjaardagpartytjies waarheen hy met ’n bromponie moes ry omdat hy nie ’n motor kon bekostig nie.

“Dan moes ek my sound met my saamry, dit was nogal snaaks. My vrou moes my maar nou en dan help en heen en weer ry as die scooter te klein was.”

Nou hoop Ivan om sy groot deurbraak te maak. Dewald sê hy het baie hoop, want Ivan is baie gefokus en werk hard.

“Die res is net talent wat inskop en daarmee is Ivan én Deidré gebore.”
suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Dewald Wasserfall  |  Ivan Roux  |  Tv-Program
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.