Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Speurhoof Vearey glo gepos oor Afrikaaps, faksies

Jeremy Vearey, voormalige speurhoof van die polisie in die Wes-Kaap, sê hy is reg vir ’n geveg om sy pos terug te kry.

Jeremy Vearey Foto: Brenton Geach

Vearey is van wangedrag aangekla en einde verlede maand afgedank omdat hy die polisie en die naam van die nasionale kommissaris, genl. Khehla Sitole, in oneer gebring het. Een van die redes was die gebruik van die frase “moer hulle” in ’n Facebook-inskrywing waar polisieoptrede ter sprake gekom het.

Vearey hou vol dat sy seniors die Facebook-plasing heeltemal verkeerd verstaan het. Hy sê sy seniors – wat nie Afrikaans magtig is nie – het dit vertaal as “f**k them” en nie in gedagte gehou dat dit in Kaapse Afrikaans nie ’n swetswoord is nie.

Die FB-plasing waarin hy die frase gebruik het, was met verwysing na die dissiplinêre aanklagte teen die voormalige misdaadintelligensiebaas Peter Jacobs. Vearey, wat ’n nabye kollega en vriend van Jacobs is, het hom destyds in die tugverhoor verteenwoordig.

Jacobs en vyf kollegas is geskors weens bewerings oor onreëlmatighede in die verkryging van persoonlike beskermende toerusting (PPE) deur ’n geheime diensrekening.

Mense na aan Vearey sê sy Facebook-inskrywing moet gelees word as ’n poging om Jacobs moed in te praat. “Moer hulle” in dié konteks beteken dus “vat hulle vas”.

’n Skermgreep van Jeremy Vearey se plasing wat volgens hom buite konteks gesien word. Foto: Facebook

Daar word aangevoer dat dié frase in die tugverhoor verkeerd vertolk is omdat dit deur Facebook se vertaalfunksie vertaal word as “f**k them”.

Rapport se bron sê Vearey voer aan dat “moer hulle” in Kaapse Afrikaans ’n standaard- idiomatiese uitdrukking is en wyd gebruik word – onder meer in ’n advertensie deur die restaurantgroep Nando’s in 2011 wat die Springbok-rugbyspan aanspoor.

Om dit anders te interpreteer is ’n doelbewuste wanvoorstelling, sê die bronne.

Vearey is verder daarvan beskuldig dat sy Facebook-plasings neerkom op kritiek teen die polisie en sy bevelvoerders.

“Daar is nie beperkings op vryheid van spraak in die polisie nie. Daar is perke in terme hoe ver jy mag gaan. [Maar] dit bring nie die polisie in oneer as hy iemand sterkte toewens met hul saak nie,” voer Vearey se ondersteuners aan.

Vearey het Rapport se versoek om kommentaar na sy vakbond, Popcru, verwys. Hy het wel die afgelope week in ’n onderhoud met eNCA gesê sy vervolging en skuldigbevinding is bedenklik.

Volgens Vearey is sy afdanking en die manier waarop senior kollegas soos Anwa Dramat, Gary Kruser en Zelda Holthauzen die polisie verlaat het, niks anders nie as “etniese suiwering” wat gemik is op mense wat hy “Camissa-Afrikaners” of “sogenaamde kleurlinge” genoem het.

Nog ’n bron wat na aan die saak is, meen daar was ’n doelbewuste komplot om van Vearey ontslae te raak.

Hulle bevraagteken die feit dat die polisie gebruik gemaak het van ’n spesiale verhoorprosedure – wat gewoonlik gebruik word vir baie ernstige aanklagte teen polisielede, soos gewapende roof en verkragting – om van Vearey ontslae te raak. Die prosedure is daarop gemik om baie vinnig van ’n polisielid ontslae te raak en laat nie die kruisondervraging van getuies toe nie.

Volgens die bronne is die afdanking die resultaat van generaals wat onder mekaar veg.

Vearey, ’n voormalige Umkhonto we Sizwe-lid, is een van die polisielede wat betrek word by ondersoeke wat die afgelope paar jaar ’n verleentheid vir oudpres. Jacob Zuma en die mense wat hy aangestel het, geword het.

Die SAKP in die Wes-Kaap het hom ook die afgelope week by Vearey geskaar.

Die party het Veary se vervolging ’n “heksejag” genoem en gesê die pogings om van hom ontslae te raak het begin toe die speurders wat hy gelei het, ’n korrupsienetwerk in die polisie blootgelê het.

Dit het volgens die SAKP bande tussen die polisie, bendeleiers op die Kaapse Vlakte en sommige politici ontbloot.

Die ondersoekspan se grootste sukses was die skuldigbevinding van oudkol. Christiaan Lodewyk Prinsloo in 2016 weens die verkoop van duisende wapens wat vir vernietiging ingehandig is.

Die wapens het hul weg na bendes op die Kaapse Vlakte gevind.

Die SAKP sê dit is ook dieselfde ondersoek wat uiteindelik later tot die sluipmoord op die speurder lt.kol. Charl Kinnear gelei het.

Intussen het Popcru gesê hy het appèl aangeteken teen Vearey se afdanking en dit na die Sektorale Bedingingsraad vir Veiligheid en Sekuriteit verwys.

Die saak sal na verwagting op 1 Julie aangehoor word.

Brig. Vishu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê die polisie beskou die departementele kwessie van Vearey as afgehandel.

“Die SAPD-bestuur sal nie via die media reageer of kommentaar lewer oor die kwessie nie.”

Meer oor:  Jeremy Vearey  |  Peter Jacobs  |  Wes-Kaap  |  Afdanking  |  Sapd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.