Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Spiertier gryp glo student aan keel

’n Bloemfonteinse kragopteller wat daarvan beskuldig word dat hy in ’n padwoedevoorval ’n Vrystaatse sielkundestudent deur haar oop motorvenster aan die keel gegryp het, bepleit steeds sy onskuld, maar ooggetuies vertel ’n ander verhaal.

Guy Conry (48), ’n professionele kragopteller en ’n fiksheidsinstrukteur, erken wel dat sy optrede verlede Sondag onvanpas was. Foto: Verskaf

Guy Conry (48), ’n professionele kragopteller en fiksheidsinstrukteur, erken dat sy optrede verlede Sondag onvanpas was. Conry en sy vrou, Mariaan (35), wat waarnemende onderhoof is by die plaaslike nywerheidskool Rosenhof, was verlede Sondag van die Mimosa-winkelsentrum in die Rosestad onderweg toe hul pad gekruis het met dié van Thobekile Mbhele (19), wat sielkunde by Kovsies swot.

“Ons het in Dan Pienaar-rylaan gery en die pad waarin die dametjie was, het by ons baan aangesluit. Sy het sonder om te kyk ingedraai en my vrou moes uitswaai en het amper in ’n ander voertuig vasgery,” het Conry aan Rapport vertel. Hy het sy humeur verloor, uit sy rooi Volvo gespring, na Mbhele se motor gestorm, sy kop deur die oop venster aan die bestuurder se kant gedruk en volgens sy eie vertelling op haar begin skree.

Hy ontken egter dat hy haar aangerand het.

Ek het nie gesien dat hy haar slaan nie.  
Richard Molefe

“My arms is vol geskryf, ek is vol spiere en gebless met ’n gesig wat net my ma kan liefhê. Ten spyte van my voorkoms is ek nie daai ou nie. Ek het niemand geslaan nie. Ek is verskriklik jammer, ek was out of line,” sê Conry.

“Niemand het niemand aangerand of geslaan nie. Daardie vrou het ’n vollengte pienk onesie aangehad. Eers toe ek my kop by haar venster insteek, kon ek sien sy is ’n vrou. As ek dit geweet het, sou ek nie uit my kar geklim het nie,” sê Conry.

“Ek het op haar geskreeu en toe teruggeloop na my kar toe. Dis toe dat my vrou sien die dametjie neem ons af met haar foon. Sy het toe uitgespring en haar foon uit haar hand gestamp. Daarna het ek Mariaan gaan haal en ons het gery.”

Guy en Mariaan Conry hou vol nie een het ’n hand gelig nie. Guy (regs) is ’n professionele kragopteller en fiksheidsinstrukteur. Foto: Verskaf

Mbhele sê aan Rapport sy is getraumatiseer. “Ek weet nou nog nie wat ek gedoen het om hierdie mense só kwaad te maak nie. Ek het by die verkeerslig gestop, en toe ek weer sien, was die man by my venster,” sê Mbhele.

Sy hou vol Conry het meer gedoen as net skree.

“Hy het sy bolyf by my karvenster ingedruk en my met een hand aan die keel gegryp. Terwyl hy my gewurg het, het hy my met die ander hand geslaan. Ek weet nie hoeveel houe nie; nie meer as vyf nie.”

Sy sê daar is foto’s van haar kneusplekke en ook ’n mediese verslag.

Mariaan Conry (35) waarnemende onderhoof by die Rosenhof-skool in Bloemfontein word na ’n padwoede-voorval verlede Sondag saam met haar kragopteller-man, Guy (48) deur ’n klag van aanranding in die gesig gestaar. Foto: Skermgreep

“Op regsadvies kan ek dit nie nou aan die media verskaf nie, maar dit sal in die hof gebruik word.”

Twee ooggetuies, Richard Molefe (18) en Selo Maseko (21), wat saam in ’n gryskleurige Hyundai i10 uit die teenoorgestelde rigting op pad was, sê hulle het die hele voorval sien gebeur.

“Ons het vir Selo by die Tempe-drankwinkel gaan oplaai en was op pad Makro toe. In Dan Pienaar het ons skuins oorkant die vrou by die verkeerslig gestop en toe stop die rooi Volvo agter haar,” sê Molefe.

Hy het geskreeu: ‘Wil jy nog hê?’

Conry het aggressief gereageer op iets wat hulle nie sien gebeur het nie.

“Die man het na die vrou toe gestorm en haar deur haar oop venster aan die keel gegryp. Hy het haar vir ’n paar sekondes al skreeuende rondgeruk, maar ek het nie gesien dat hy haar slaan nie.”

Conry het, volgens Molefe, op pad terug na die rooi Volvo nog ’n paar woorde vir Mbhele gehad.

Thobekile Mbhele (19), ’n sielkunde­student aan die Universiteit van die Vrystaat, sê sy is steeds getraumatiseer ná die voorval. Foto: Twitter

“Halfpad na sy kar toe het hy gestop en vir haar geskreeu: ‘Wil jy nog hê?’ Die vrou is so klein en sy was nog in haar slaapklere. Hoe kon hy dit oor sy hart kry om haar so te wurg?”Sy vriend, Selo Ma­seko, beaam sy weergawe van gebeure.

“Ek het gesien hy skree op haar terwyl hy haar wurg, maar ek het nie enige houe gesien nie.”

Kol. Thabo Covane, ’n polisiewoordvoerder, sê hulle ondersoek ’n klag van aanranding.

“Die egpaar is skriftelik gewaarsku om op 8 Oktober in die landdroshof in Bloemfontein te verskyn.”

Meer oor:  Padwoede  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.