Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Spoedvrate dalk gratis uit tronk!

Spoedvrate het dalk ’n “kom-gratis-uit-die-tronk”-kaartjie gekry omdat daar wetlike probleme is met ’n laser-spoedmeter wat landwyd gebruik word.

Die ProLaser 4-spoedmeettoestel van die Amerikaanse vervaardiger Kustom Signals.

Die vervolgingsgesag in die Vrystaat het pas alle strafsake teruggetrek teen spoedoortreders wat in sy provinsie met die ProLaser 4-spoedmeettoestel gevang is.

Die spoedvrate – wat teen minstens 160 km/h gejaag het – is onder meer gevang op die N3 en N1.

Dit is juis in die Vrystaat waar hoë spoed in Januarie as ’n voorkeurmisdaad verklaar is sodat oortreders nie met ’n skulderkenningsboete kan wegkom nie, maar ’n swaar boete sal moet betaal of tot drie jaar tronkstraf kan kry. Hul rybewyse en permitte word vir maande opgeskort én hulle kry ’n misdaadgeskiedenis.

Maar nou kan vervolgings landwyd wat spruit uit die gebruik van ProLaser 4 in die gedrang kom.

‘Dit kan ’n toetssaak wees met landwye impak.’

Die kantoor van die direkteur van openbare vervolging (DOV) in die Vrystaat het die afgelope week aan Rapport bevestig daar is opdrag gegee dat staatsaanklaers alle hangende spoedsake terugtrek tot kwessies oor ProLaser 4 uitgestryk is. “Ons kan nie sê hoe lank dit sal neem nie, want dis die verkeersdepartement wat met die ProLaser se tekortkominge te doen het,” sê Phaladi Shuping, DOV-woordvoerder. Hy kan ook nie sê hoeveel sulke sake teruggetrek word nie.

Dié stap kom nadat landdros Terence Green van Villiers, ’n dorp langs die N3-hoofweg, in Mei ’n motoris vrygespreek het wat met die ProLaser 4 gevang is. Zaheer Khan is daarvan aangekla dat hy teen 171 km/h op dié pad gejaag het, maar die staat kon nie sy skuld bo redelike twyfel bewys nie.

Die ProLaser 4 word in Amerika deur Kustom Signals vervaardig. Dit word deur die maatskappy Truvelo in Suid-Afrika versprei, wie se personeel in Amerika opgelei word om die toestel te kalibreer en te herstel.

Green het in sy uitspraak gesê die ProLaser 4 word landwyd deur wetstoepassers gebruik en ’n skuldigbevinding raak die lewe van baie mense. Dus moet die toestelle se akkuraatheid en betroubaarheid bo verdenking wees. Die staat het egter nie in Khan se saak bewys dat die ProLaser 4 al die nodige toetse ondergaan het en goedkeuring gekry het by ’n onafhanklike, geakkrediteerde laboratorium kragtens wetgewing of Suid-Afrikaanse nasionale standaarde nie, is bevind.

Daar was ook geen getuienis dat die betrokke toestel waarmee Khan gevang is deur Truvelo verseël is nadat dit gekalibreer is nie.

Boonop is die weergawes van die sagteware en hardeware vir dié model wat op 20 April 2018 gebruik is, nie bekend nie. Dis onbekend of daar enige veranderings of herstelwerk aan die toestel was.

Green sê dis hoog tyd dat alle mense en instellings die bepalings en standaarde vir meetinstrumente toepas soos wat die Wet op Regsmetrologie uitstippel.

Simon Zwane van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) sê hulle stel weens dié uitspraak saam met die relevante instellings, soos die reguleerders van toestelstandaarde, ondersoek in na die probleem om leiding aan die wetstoepassingsowerhede te gee. Hy sê dis nie bekend watter verkeersowerhede dié model gebruik nie.

Farrel Payne, direkteur van die Wes-Kaapse verkeersdienste, sê hul provinsiale verkeersdienste gebruik die ProLaser 4, maar hy sê hul toerusting het die goedkeuring wat die wet vereis.

Verskeie munisipaliteite in die land het kwotasies aangevra om die ProLaser 4 te bekom of in hul jaarverslae aangetoon dat hulle dit aangeskaf het. Dit sluit Polokwane, Mosselbaai, Mandeni (KwaZulu-Natal), Maquassi Hills (Noordwes), Ephraim Mogale, Makhudu­thamaga, Maruleng en Lephalale (almal in Limpopo) in.

Adriaan Janse van Rensburg, strafregprokureur van Bloemfontein, sê dis kommerwekkend dat die staat se huis blykbaar nie in orde is nie. “ ’n Persoon is nie veronderstel om vervolg te word as die toestel wat gebruik word nie aan wetlike vereistes voldoen nie.”

Dis veral onrusbarend as hy skuldig bevind word, want dan hou dit ’n misdaadgeskiedenis in.

Robert van Wyk, strafregprokureur van Pretoria, sê daar gaan beslis hofaansoeke kom deur mense wat skuldig bevind is weens ProLaser 4, hetsy hulle skuld beken of ontken het.

FC Schulling, strafregprokureur van Kroonstad, sê hy het baie kliën­te wat met ProLaser 4 gevang word. “Dieselfde regsbeginsel geld vir alle toestelle: dit moet onafhanklik getoets word. Die hele toepassing van ProLaser 4 was nog nooit lekker nie.”

Hy sê sy kliënt Jean Mostert is in die Kroonstad-distrikhof met R8 000 beboet nadat bevind is die ProLaser 4 het akkuraat 167 km/h gemeet. Maar die staat kon nie bewys met watter motor gery is nie. Die verkeersbeampte wat vir die staat getuig het, het die verkeerde registrasienommer beetgehad.

Mostert is in Maart op appèl in die hooggeregshof vrygespreek.

Peter Jay, strafregprokureur van Pretoria, sê die staat behoort in ’n hoër hof te appelleer teen Green se uitspraak, want dit kan ’n toetssaak wees met landwye impak.

Meer oor:  Villiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.