Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Spoorlyn eers ná 17 j. voltooi

Teen April 2021, meer as 17 jaar nadat Eskom met die werk begin het, sal die Majuba-spoorlyn uiteindelik klaar wees.

Van die meer as 800 vragmotors per dag wat al vir meer as vyftien jaar lank elke duisende tonne steenkool by die Majuba-kragsentrale naby Amersfoort aflewer. Foto: Deon Raath

Aanvanklik is die koste van die spoorlyn van 68 km op R1,5 miljard bereken, maar wanneer die eerste treintrokke by splinternuwe kantelaars omgedop word om hul pikswart vrag op die ondergrondse voerband na die Majuba-kragsentrale se steenkoolwerf te voer, sal die rekening op R5,9 miljard staan.

En dit sal steeds nie die einde wees van die duisende vragmotors wat die paaie op elke dorp op Mpumalanga se Hoëveld die afgelope 15 jaar snuifgetrap het nie. “Nie elkeen van die steenkoolverskaffers wat aan Majuba lewer, het toegang tot spoorlyn-laaigeriewe by die myn waarvandaan hulle steenkool myn nie. In sulke gevalle sal die kole per pad na die naaste sylyn gebring word. Dit sal daarvandaan per spoor na Majuba vervoer word,” het Eskom in antwoord op vrae van Rapport gesê.

Majuba verbrand 14 miljoen ton steenkool per jaar. Die bou daarvan was egter Eskom se grootste blaps voordat hy Medupi en Kusile aangepak het. Die kragstasie sou reg langs ’n steenkoolmyn gewees het, maar die begroting vir die eksplorasie van die myn is erg besnoei. Majuba is effens kleiner as Medupi en Kusile, maar steeds ’n enorme kragsentrale wat 4 107 MW elektrisiteit kan opwek.

Behoorlike tenders vir die verskaffing van steenkool per pad is verlede jaar eers aangevra.

Maar toe die eerste eenheid in 1993 moet begin krag opwek, het ’n wrede ontnugtering gewag: Die steenkoolsoom was ’n sogenaamde konkelgat-soom. Daar is plek-plek vir ’n paar meter steenkool en daarna weer niks, tot ’n paar meter verder waar die soom hervat. Uit ’n koste-oogpunt was die steenkool heeltemal onontginbaar.

Die gebruik van die eerste eenheid is toe tot 1996 uitgestel. ’n Paar kilometer suidwes van Majuba loop die Johannesburg-Durban-spoorlyn verby. ’n Sylyn is daarvandaan na Majuba gebou. Die lyn het ’n dravermoë van 8 miljoen ton steenkool per jaar, maar die kole moet met ’n ompad van Mpumalanga na Johannesburg aangery word en daarvan na Majuba – op die land se besigste vragspoorroete. Daar is nooit 8 miljoen ton per jaar op dié manier aan Majuba gelewer nie, maar genoeg om die eerste opwekkingseenheid aan die gang te hou. Die afhandeling van die ander vyf eenhede is opsetlik vertraag weens die steenkoolprobleem, maar toe dit ná die eeuwisseling duidelik word Eskom stuur op ’n kragtekort af, is die ander eenhede voltooi en in bedryf gebring.

Die aanry van steenkool per pad het Eskom se belangrikste swart ekonomiese bemagtigingsprojek geword. Thulani Gcabashe, destydse uitvoerende hoof van Eskom, het dit begin deur die stig van kleiner steenkoolmaatskappye in swart besit aan te voor en kontrakte met hulle te sluit om steenkool per pad aan Majuba te lewer. Sy opvolger, Jacob Maroga, het nog aggressiewer sulke kontrakte gesluit.

Werkers besig aan die Majuba-spoorlyn digby die kragsentrale wat hopelik in April volgende klaar gaan wees – meer as 17 jaar nadat die werk aan die lyn begin het.

Vandag word tussen 800 en 1 000 vragte steenkool van 30 ton elk per vrag met vragmotors by Majuba se steenkoolwerf afgelewer. By tye staan die vragmotors kilometers ver tou by die ingang tot op die deurpad wat sowat vier kilometer buite Majuba tussen Amersfoort en Perdekop verbyloop. Die dorpspaaie op Amersfoort, Morgenzon, Ermelo, Trichardt, Bethal, Hendrina, Evander, Carolina, Breyten, Kriel, Ogies en selfs Belfast is voos gery. Munisipaliteite in hierdie dorpe kan eenvoudig nie voorbly met herstelwerk nie en het moed opgegee.

Deurpaaie tussen dié dorpe was in ’n stadium ook bykans onrybaar, maar sedert omgewingsheffings in April 2011 ingestel is, finansier dit nou herstelwerk wat deur Sanral onderneem word.

Talle vervoerkontrakteurs het ontstaan. Hulle het ’n drukgroep, die Coal Transporters Forum, gestig en verlede jaar ’n hofsaak teen Eskom begin om te keer dat kontrakte vir die koop van son- en windenergie onderteken word.

Wat die spoorlyn betref, dit sou in 2009 klaar gewees het, maar eers was daar probleme om die grond te koop van boere oor wie se plase die lyn loop. Daar was ook probleme om die hanteringsgeriewe in Majuba se steenkoolwerf vir die nuwe spoorlyn aan te pas. Dit het jare geduur en verlede jaar is die hoofkontrakteur selfs in sakeredding geplaas.

In Desember verlede jaar het die vervoerband waarop steenkool uit treintrokke na die steenkoolwerf gevoer word, aan die brand geslaan en uitgebrand, sodat Majuba selfs nie meer van die Durban-Johannesburg-spoorlyn steenkool kan ontvang nie. Behoorlike tenders vir die verskaffing van steenkool per pad is verlede jaar vir die eerste keer gevra. Volgens Eskom het dit die vervoerkoste van steenkool met 30% laat daal, wat ’n aanduiding gee van die enorme verliese wat tot dusver gely is.

Meer oor:  Majuba  |  Majuba-Spoorlyn  |  Eskom  |  Steenkool  |  Elektrisiteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.