Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sport: ‘Onrusbarende’ planne pla Solidariteit

Nog nooit was daar so ’n blatante poging om sport te nasionaliseer nie.

Só sê die vakbond Solidariteit in sy voorlegging aan die parlement oor die Wysigingswetsontwerp op Sport en Ontspanning wat Vrydag ingedien is.

Die wetsontwerp bepaal onder meer dat die minister van sport, kuns en kultuur spankeuses van nasionale spanne moet kan dikteer, terwyl byna alle magte van die huidige sportbeheerliggame oorgedra word aan ’n adjunkdirekteur-generaal in dié departement.

’Meriete eers op die lange duur oorweeg.’

Rapport het op 22 Desember verlede jaar vir die eerste keer oor dié planne berig.

“(Deur) hierdie onwelkome maatreëls wat die departement vir homself opgestel het om kwotas af te dwing, kan die minister nou, onder andere, finansiering van nasionale organisasies ophef of onttrek, die geleentheid om nasionale kleure te kry aan sportmanne en -vroue ontneem, en ’n embargo op Suid-Afrika plaas om internasionale geleenthede aan te bied.

“Dit is onrusbarend en gaan maak dat internasionale sportliggame hul wenkbroue lig,” lui Solidariteit se voorlegging.

“Oor die kwotastelsel is die departement se standpunt mee­doënloos.

“Dit sê blatant dat die kwotastelsel nog ’n rol het om te speel en dat soos tyd aangaan sal meriete eers op die lange duur oorweeg word.”

Volgens Werner Human, adjunkhoof van Solidariteit, wil die minister “kaptein en afrigter van elke sportsoort in Suid-Afrika” wees.

Veral hierdie drie punte pla Solidariteit:

* Die voortgesette pogings deur die ANC om by wyse van wetgewing hul mag, beheer en sentralisasie te konsolideer;

* Die gebruik van die wetsontwerp om alle atlete en persone binne die sportberoep, -liggame en -verenigings te intimideer deur die minister se magte uit te brei sodat hy sy politieke wil kan uitvoer, terwyl ’n kommissie saamgestel word waarvoor enige atleet of liggaam gedaag kan word sou hulle nie na die wense van die minister optree nie; en

* Die aanwys van ’n sport­tribunaal wat onder meer sportlui en -liggame se geskille sal kan ondersoek.

In Julie verlede jaar het Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, in sy begrotingstoespraak benadruk die demografie van nasionale spanne moet verander “vir nasiebou om te verbeter”.

In Junie het hy in antwoord op ’n parlementêre vraag van Bhekiziz­we Luthuli, IVP-LP, gewaarsku unies kan gestraf word as hulle nie hul teikens haal nie.

Mthethwa se voorganger, Tokozile Xasa, het vroeër aan Rapport gesê die moontlike “straf” sluit in die onttrekking van finansiering en erkenning van sportbeheerliggame; ’n beletsel op die aanbied van internasionale toernooie en ook op die toekenning van na­sionale kleure.

Hierdie dreigemente word nou in die nuwe wetsontwerp vervat.

Mthethwa het op 18 Februarie op ’n vergadering van die portefeuljekomitee oor sport erken daar is prosedurele probleme met hoe die wetsontwerp oorgeneem is deur die sesde parlement.

Die departement van sport, kuns en kultuur, sowel as die nasionale vergadering se regspanne, het nou ’n regsmening gevra vas te stel hoe die wetsontwerp moet voortgaan.

Meer oor:  Nathi Mthethwa  |  Kwotas  |  Solidariteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.