Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sportiewe VS-tienermeisie sterf raaiselagtig in Plet
’n Sportiewe tiener van Bultfontein, Berné Swanepoel (16), is Dinsdagmiddag onverklaarbaar en skielik in Plettenbergbaai oorlede.Foto: Verskaf

As die afgelope 24 uur so rof was, weet sy nie hoe lyk ’n leeftyd wat voorlê nie, sê die ma van ’n sportiewe Vrystaatse tienermeisie wat Dinsdagmiddag skielik raaiselagtig in Plettenbergbaai oorlede is.

Corné Swanepoel vertel haar dogter, Berné (16), was ’n gesonde, positiewe kind. “Ek kan nie dink hoekom die Here dit gedoen het nie . . .”

Haar man, Jaco, en die gesin het net voor die inperkingstyd uit Bultfontein na Wittedrif by Plettenbergbaai verhuis.

“Dit was vir ons ’n nuwe begin. Ons het ná ses jaar se droogte noustrop getrek en wil hier ’n gastehuis oopmaak,” sê Swanepoel.

Hulle het ’n lieflike huurhuis gekry en is in die gemeenskap verwelkom.

Ons het uitgesien na ons nuwe lewe hier.
Corné Swanepoel
Die Swanepoel-gesin. Van links is Berné, Corné, Jaco en Barend. Foto: Verskaf

“Ons het uitgesien na ons nuwe lewe hier. Sodra die plaas verkoop is, wil ons die gastehuis hier oopmaak.”

Die gesin se troetelnaam vir Berné is Fiela. Sy het ook ’n broer, Barend (15).

“Fiela was nou in graad 11 en ons wou hê sy moes reeds hier wees wanneer die skole oopmaak.”

Berné wou Dinsdagmiddag fliek kyk.

“Sy het gesê ek moet haar roep, sy gaan ’n fliek kyk. Ons oefen elke dag om 17:00. Toe ek by haar kom, kon ek sien daar is fout,” sê Swanepoel.

Die gesin het met Berné na die Mediclinic in Plettenbergbaai gejaag waar sy dood verklaar is.

Swanepoel sê niemand weet waaraan Berné oorlede is nie. Hulle wag vir die nadoodse verslag.

Daar word vermoed dit het iets met haar hart te doen.

“Sy het Vrystaat-kleure in gimnastiek en het ook in atletiek en dans uitgeblink.”

Sy was baie lief vir sport en het aan alles onder die son deelgeneem. Sy was egter nie lief vir akademie nie, sê Swanepoel.

“Sy het haar ingeskryf vir Face of the Year; nou moet ek hulle bel om haar te onttrek.”

Die gesin is erg geskok.

“Ons vier het alles saam gedoen. Ons het altyd gesê ons sien saam kans vir die wêreld. Ons is ’n baie hegte gesin. Nie een van ons was hierop voorberei nie.”

Die Swanepoels is dankbaar vir die ondersteuning wat hulle ontvang.

“Ons kry ongelooflike steun uit die plaaslike gemeenskap; mense dra vir ons kos en blomme aan en staan ons by.

Ook uit Bultfontein kry ons baie ondersteuning.”

Die gesin wil Berné veras en ’n afskeid vir haar op die plaas in Bultfontein reël.

Hul familie is in die Vrystaat, sê Swanepoel. Haar ouers, Jan en Bertie Brits, bly in Bothaville en wou graag die gesin kom bystaan, maar kan nie nou in die inperkingstyd reis nie.

Berné se ander ouma, Anita Swanepoel, bly in Plettenbergbaai.

Berné se kêrel, Heinrich Fouché, ’n matriekleerling aan die Hoërskool Bultfontein, het intussen ’n permit gekry om by die Swanepoels te wees.

“Hulle het gesê hulle gaan eendag trou.”

Die Hoërskool Bultfontein het as huldeblyk ’n video op Facebook geplaas.

https://www.facebook.com/bulties/posts/2625915140957028

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.