Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Sprekers het van Afrikaans gemaak wat dit vandag is’
Studente bid by die Universiteit van Pretoria se hoofkampus ná botsings tussen verskillende groepe oor die afskaffing, al dan nie, van Afrikaans by dié universiteit. Foto: Deaan Vivier

Afrikaans is nie ’n taal van onderdrukking nie, dit is die mense wat dit praat wat daarvan gemaak het wat dit nou is.

Dié woorde van die filosoof prof. Willie Esterhuyse is met luide applous op die Woordfees in Stellenbosch begroet.

Esterhuyse is van mening dat die wyse waarop wit mense opgetree het, veroorsaak het dat Afrikaans beskou word as ’n taal van onderdrukking.

“Dít maak my woedend,” het Esterhuyse gesê.

Esterhuyse het Maandagoggend aan ’n gesprek oor nasiebou en gedeelde geskiedenis in Suid-Afrika deelgeneem.

Prof. Arnold Smit van die Universiteit Stellenbosch se bestuurskool (USB) en dr. Ernest Messina, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut, het ook aan die gesprek, wat deur Max du Preez gelei is, deelgeneem.

Esterhuyse meen dit is die vredesproses wat nou belangrik is en vrede gaan net kom as ons onsself en mekaar leer ken.

“Jy moet ’n manier vind om met jou vyand te praat. En dít is waar jong mense belangrik is.”

Mentorskap, sê Smit, is iets wat eerder van die jonger garde moet kom omdat jong mense goed beleef wat ouer generasies nie aan blootgestel word nie.

Hy het onder meer na protesoptrede op kampus verwys.

Daar is mentorskap wat van onder af na bo ook moet gebeur.

Max du Preez Foto: Yunus Mohamed

“Een van die goed wat ons as ouer mense moet leer, is dat protes nie ’n hoflike ding is nie. Daar gáán ’n geskrou en rumoer wees. Dit is wat ’n protes is. Dis nie ’n piekniek nie,” het Du Preez bygevoeg.

Die behoefte aan die identifisering en erkenning van ’n gedeelde geskiedenis om nasiebou te bevorder, is telkens benadruk. Gekoppel hieraan is die gebruik van simbole en die noodsaaklikheid om nuwe, gedeelde simbole te skep.

Esterhuyse meen kollektiewe woede wat veral op kampus ervaar word, word nie net gegenereer deur die ervaring van diskriminasie nie, maar ook deur simboliek.

“As ’n mens dit nie reguit bespreek nie, word simbole snellers vir woede.

“Daar is dikwels nie begrip vir wat hierdie simbole vir verskillende groepe beteken nie.”

Esterhuyse het voorts gesê dat die begrip van vergeet en vergewe nie werk nie.

“Eerder vergeet en onthou. Maar dit gaan ook oor hoe ons onthou. Afrikaners wil net vergeet en vergewe hoor, want ons wil aangaan met ons lewe.”

Die oplossing lê in teruggaan na die basiese van menswees, sê Messina.

“Wanneer ons hartseer is, maak nie saak wie ons is nie, as ons huil is die kleur van ons trane dieselfde.”

Meer oor:  Woordfees  |  Stellenbosch  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.