Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Springbokke bring hulde aan Dougie Heymans
Dougie Heymans (58) is Maandagmiddag oorlede.

Die Springbokke het hulde gebring aan Dougie Heymans (58), Vrystaatse rugby-legende wat Maandag in die Mediclinic Bloemfontein aan Covid-19 dood is.

Die Springbokgroep is tans in Bloemfontein ter voorbereiding van hul toetse teen Georgië en die Britse en Ierse Leeus.

“Dougie was ’n jare lange, getroue staatmaker en vriend van die Springbokke. Hy het altyd na al ons behoeftes omgesien,” het die spanbestuur gesê. 

Heymans het seker gemaak dat Shimlapark op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat, waar die Bokke geoefen het, altyd goed in stand gehou is.

Rassie Erasmus, SA Rugby se direkteur van rugby, het saam met Heymans vir die Wittruie uitgedraf.

DB Prinsloo, direkteur van KovsieSport, sê Heymans se werketiek was foutloos.

“Hy het alle wedstryde, oefengroepe of gesellighede op Shimlapark hanteer. Jy kon die geriewe heeljaar deur ’n ring trek; dit was ’n toonbeeld van Dougie en sy werketiek,” sê Prinsloo.

Heymans was die assistentdirekteur by KovsieSport en hoof van rugby.

Rassie Erasmus en Dougie Heymans was spanmaats by die Vrystaat. Van links is, voor: Kat Myburgh, Charl Marais, Jannie de Beer, Werner Swanepoel, Jan-Harm van Wyk, Christo Potgieter en Chris Badenhorst; middel: Jorrie Kruger, Ryno Opperman, Rassie Erasmus, Naka Drotské, Brendon Venter, Os du Randt en MJ Smith; agter: Braam Els, Charl van Rensburg, Willie Meyer, Helgard Müller, André Venter, AJ Venter en Dougie Heymans.

Naka Drotské, oud-Bok-haker en -Cheetah-afrigter, sê dit is danksy Heymans dat hy as Springbok bekend geword het.

“Jy het my eendag op Shimlapark opgelaai en gesê ek is nou ’n haker.

“Ek het gevra: Maar wat van die skrums? Jou antwoord was om net te maak soos jy sê. Ek was 22 en jy 31. Ek het gemaak soos jy sê en is jou ewige dank verskuldig.”

Dougie Heymans en Naka Drotské.

Wimpie Jonker, ’n oud-koshuiskamermaat van Heymans, sê hulle het in die 39 jaar dat hulle mekaar geken het ’n noue vertrouensverhouding gehad.

Heymans en Jonker was in 1982 saam eerstejaars in Huis Olienhout op die Kovsiekampus.

“Hy was ’n geesdriftige en praktiese mens wat graag houtwerk gedoen het. Hy was uitstekend; ’n mens kon nie glo dat ’n ou sulke goed in sy garage kon maak nie.”

Dougie Heymans is geken aan sy kragtige skrums.

Jonker sê daar is baie staaltjies en stories, veral uit hul universiteitsdae, wat hy oor sy vriend kan vertel.

“Maar niks van hulle wat ek hier kan uitlap nie.”

Sy skielike afsterwe laat dié wat hom geken het sprakeloos, maar terselfdertyd met boeke vol stories en herinneringe.

Heymans word deur sy vrou, Ilse, hul dogter, Liane, en seuns, GJ en Hendré, oorleef.

Die begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

Meer oor:  Mediclinic  |  3De Vlaag  |  Dougie Heymans  |  Cheetah  |  Springbokke  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.