Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Sprinkane op pad laat bakkie gly, vrou sterf

’n Vrou is die naweek dood in een van verskeie ongelukke op die N10 buite Upington weens ’n ernstige sprinkaanplaag in die Noord-Kaap.

Volgens sers. Omphile Masegela, polisiewoordvoerder, het ’n bakkiebestuurder Sondag sowat 25 km buite die dorp beheer oor sy voertuig verloor toe dit op die sprinkane op die pad gegly het. Die bakkie het gerol en ’n vroulike passasier is op die toneel dood verklaar.

Die bestuurder van die bakkie het Sondag beheer oor die voertuig verloor toe hy op sprinkane op die N10 gegly het.

Volgens ander motoriste is nog ’n voertuig beskadig en dit het langs die pad gestaan nadat die bestuurder glo ook beheer daaroor verloor het. Dié voertuig se insittendes is egter ongedeerd.

Ben Eksteen (47) van Straussburg het ook Saterdag beheer oor sy bakkie verloor toe hy oor die sprinkane gery het.

“Die bakkie se agterkant het begin swaai en toe ek my kom kry, het ons die pad verlaat en gerol.”

Ben Eksteen het Saterdag op die N10 beheer oor sy bakkie verloor toe die voertuig op sprinkane gegly het.

Hy sê die bakkie het drie keer gerol. ’n Vroulike passasier is ernstig beseer en na die Dr. Harry Surtie-hospitaal in Upington geneem. Eksteen en sy ander twee passasiers het slegs skrape opgedoen.

Masegela het motoriste gemaan om stadig te ry en op die uitkyk te wees vir die sprinkane.

“Die sprinkane maak die padoppervlak glad en ons vra motoriste om asseblief stadiger te ry en versigtig te wees.”

Inwoners wat gereeld die N10 gebruik, het Sondag gesê die pad is seepglad en dit voel asof ’n mens deur modder ry.

Jenine du Preez het die foto van die sprinkaanplaag in die omgewing van Augrabies geneem. Foto: Jenine du Preez

Martine Burger van Groblershoop sê sy het nog nie so ’n sprinkaanplaag beleef nie.

“Die laag dooie sprinkane op die pad is so diep dat daar al spore deur die pappery is.”

Marietjie van Rooyen, ook van Groblershoop en wat in die omgewing grootgeword het, sê dit is die eerste keer dat die sprinkaanplaag so erg is.

“Ek is 57 en het hier grootgeword. Ek het dit nog nooit so erg beleef nie,” sê sy.

Die Noord-Kaap gaan ná goeie reëns die seisoen onder ’n ernstige sprinkaanplaag gebuk.

Monique Bosch het Sondagoggend die foto van die sprinkaanswerms buite Grootdrink, sowat 60 km van Upington af, geneem. Foto: Monique Bosch

Lesers het Sondag foto’s en video’s van die sprinkaanswerms van so ver as Augrabies tot by Marydale en Kenhardt gestuur.

Sarel Burger, ’n boer van die Kalahari, sê hulle is raadop.

“Ons spuit daagliks en uit ons eie sakke, maar die volgende dag is daar net weer nuwe swerms. Nie eens my pa het al in sy leeftyd so ’n plaag beleef nie.”

Zandisile Luphahla, woordvoerder van die Noord-Kaapse landboudepartement, sê Mase Manopole, LUR vir landbou, het Upington besoek nadat sy klagtes oor die sprinkane daar en in die Namakwa-distrik ontvang het.

“Die Upington-kantoor beheer tans 20 distrikte waar die sprinkaanplaag heers. Die departement het kontrakteurs aangestel om te help om die plaag te beheer.”

Hy sê ’n inspeksie het getoon dat sommige distrikte ’n geweldige uitbreking beleef wat ’n groot uitdaging vir grondspanne inhou.

Twee helikopters is suksesvol ingespan, maar swerms wat vanaf Namibië kom, is ’n reuse-uitdaging, sê Luphahla.

’n Sprinkaanswerm wat op ’n bos in die omgewing van Kleinbegin, Kenhardt, saampak. Foto: Derik Steenkamp
Meer oor:  Noord-Kaap  |  Ongelukke  |  Plaag  |  Sprinkane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.