’n Spuitkannetjie wat in die vuur gegooi is en ontplof het, het die buurtwag en polisie op hol gehad weens die “geweerskoot” wat ’n man die Vaalview-kleinhoewes in Vanderbijlpark in die gesig getref het.
Die voorval het Maandagaand omstreeks 23:00 gebeur.
’n Inwoner, wat nie sy naam genoem wil hê nie, sê die polisie en buurtwag het aanvanklik gereageer op ’n skietvoorval, nadat bure ’n “geweerskoot” gehoor het.
’n Lid van die buurtwag, wat ook anoniem wil bly, sê die nooddiens het gesê die sny op die man se gesig, waar ’n stuk blik hom gesny het, is ’n koeëlwond.
Volgens ao. Simon Mofokatsana, polisiewoordvoerder in Vanderbijlpark, het die man uitgegaan om die honde te gaan voer en begin om vuur te maak in ’n tipe boma. Volgens voorlopige inligting was hy alleen buite toe hy die blikkie reukweerder in die vuur gooi en dit in stukke spat.