Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Staat sê: ‘Hier’s te veel swart vroue!’

’n Familieonderneming in Kempton Park wat luukse Belgiese sjokolade maak, is deur die departement van arbeid uitgetrap omdat hulle te veel swart vroue in diens het en opdrag gegee om meer swart mans aan te stel.

Kees Beyers het sy sjokoladefabriek meer as 30 jaar gelede begin toe hy 20 jaar oud was. Hy het 438 permanente werknemers in diens. Foto’s: Elizabeth Sejake

Beyers Chocolates het meer as 400 werknemers, driekwart van hulle swart vroue, in diens. Dié beslote korporasie maak nie net sjokolade onder sy eie naam nie, maar vervaardig en verpak ook sjokolade vir lugdienste, hotelle en groot winkelgroepe onder ander handelsmerke.

Baie van dié vroue werk in die verpakkingsafdeling, waar hulle delikate handewerk verrig soos die toedraai van sjokolade en die strik van linte.

Ná ’n onlangse besoek van ’n arbeidsinspekteur is hulle egter gewaarsku dat swart vroue in hul fabriek “oorverteenwoordig” is en moet verminder in ooreenstemming met die provinsiale demografie in Gauteng, waar net 36,2% van inwoners swart vroue is.

“As ons dit nie doen nie, dreig die departement om ons arbeidshof toe te vat,” het die oorblufte eienaar, Kees Beyers, die afgelope week gesê.

‘Dis alles delikate werk waarmee mans sukkel.’

Die absurde situasie is vir die eerste keer deur die DA se tussentydse leier, John Steenhuisen, aan die groot klok gehang ná ’n besoek aan die fabriek.

Beyers, wat in België gebore is, het sy sjokoladeonderneming meer as 30 jaar gelede begin toe hy net 20 jaar oud was. Hy het destyds vir sy suster in Suid-Afrika kom kuier en so baie van die land gehou dat hy besluit het om hier te bly. Beyers sê hoewel die departement nooit openlik gesê het dat hy van sy vroulike werknemers – van wie sommige al sedert reg van die begin af vir hom werk – moet afdank nie, is die implikasie duidelik.

“Hoe moet ons dit dan anders doen? Ek weier om enige van my lojale werkers af te dank.”

Linte moet gevou en gebind word.

Volgens Lize Arnott, die maatskappy se mensehulpbronbestuurder, moes hulle in 2018 dokumente indien sodat die diensbillikheid geëvalueer kon word. Die departement het talle aanbevelings gemaak en in November verlede jaar ’n vergadering belê om dit verder te bespreek. Die maatskappy se diensbillikheidskomitee, waarop werknemers van alle vlakke verteenwoordig is, was ook teenwoordig.

Hier is hulle meegedeel dat die departement ’n probleem het met hul oorwegend vroulike arbeidsmag.

“Dit was nie net vir ons ontstellend om te hoor nie, maar dra ook nie die diensbillikheidskomitee se goedkeuring weg nie,” sê Arnott.

Beyers sê dat die meeste van die swart vroue in die verpakkingsafdeling van die sjokoladefabriek werk.

“Dis ’n wêreldwye neiging dat dit hoofsaaklik vroue is wat dié tipe werk doen. Nie omdat ons nie mans wil aanstel nie, maar omdat dit fyn werk is. Linte moet gevou en gebind word en dis alles delikate werk waarmee mans sukkel en wat hulle oor die algemeen nie wil doen nie.

“Sekere soort arbeid is doodeenvoudig net meer geskik vir vroue, terwyl daar ook werk is wat net mans kan doen. Dit kan tog nie net geïgnoreer word nie.”

Arnott sê nadat hulle die arbeidsinspekteur Thabo Masenya genooi het om saam met hulle deur die fabriek te stap sodat hy die aard van hul onderneming en die vroue se werk beter kan verstaan, het hy “aanvallend geraak en ons gedreig met die arbeidshof”.

“Hy het boonop gesê dat ons gesien word as ’n nie-transformerende maatskappy ten spyte van al die opheffingswerk wat ons doen,” sê Arnott.

Masenya het ook die fabriek voor stok gekry omdat hulle ’n swart Zimbabwiese ingenieur (wat lid is van hul senior bestuur) in diens het, terwyl die verteenwoordiging van buitelandse burgers 0% moet wees volgens die provinsiale demografie.

Waarom kry buitelanders werkpermitte as hulle nie aangestel mag word nie, vra sy.

Beyers was tydens die vergadering oorsee, maar sê dat die departement hom gerus arbeidshof toe kan neem, aangesien die aanbeveling totaal onlogies is.

Tshepo Mokomatsidi, hoofdirekteur van arbeid in Gauteng, het Masenya se opdragte bevestig.

“Dis aanbevelings, maar dit beteken nie dat hy swart vroue moet afdank om plek te maak vir ander groepe nie. Hy kan dit met natuurlike personeelomset doen,” het hy gesê.

Hy verwerp egter Beyers se verweer dat vroue die werk wil doen omdat dit fyn werk is. “Dis ’n aanname wat hulle maak,” het Mokomatsidi gesê. Hy het Rapport gevra om Beyers met hom in aanraking te bring, sodat hy self aan die probleem aandag kan gee.

Arnott sê omdat hulle ’n gelukkige werksmag het, is hulle personeelomset baie laag. Dit is dus heeltemal onprakties om te verwag dat hulle hul demografiese syfers deur natuurlike personeelomset kan verbeter.

Sy sê die maatskappy het boonop ’n opleidingsprogram waar sowat 40 mense per jaar opgelei word in voedselvervaardiging en verpakking.

“Ten spyte van vele pogings om meer mans te kry om aansoek te doen, is die kandidate oorwegend swart vroue. Mans stel eenvoudig nie daarin belang nie,” sê Arnott.

Die arbeidsinspekteur se standpunt is ook klaarblyklik teenstrydig met ’n uitspraak van die konstitusionele hof in Julie 2016, toe die hof ten gunste van sewe amptenare van die departement van korrektiewe dienste (DKD) bevind het.

Die DKD moes dié amptenare bevorder en terugwerkend vergoed nadat Solidariteit die departement hof toe geneem het oor hul regstellendeaksieplan wat bepaal dat alle posvlakke die nasionale rasdemografie moet weerspieël, ongeag die feit dat die meerderheid mense in die Wes-Kaap bruin is.

Meer oor:  Kees Beyers  |  Kempton Park
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.