Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Staat waarborg nog R5 mjd. vir SAL

Die regering het verlede week ’n waarborg van R5 miljard aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gelewer waarmee die lugdiens oorbruggingsfinansiering by banke kan leen – dieselfde week waarin bekend gemaak is dat die SAL die afgelope jaar ’n verlies van R5,7 miljard gely het.

Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies, het Vrydagaand aan Rapport bevestig dat die tesourie pas die waarborg aan die SAL gelewer het.

“Dis ’n onderneming waarmee hulle onmiddellik R5 miljard by banke kan gaan leen omdat hul kontant opgeraak het. Die regering waarborg die lenings ten volle,” het hy gesê. “Ons het onderneem om die SAL in die lug te hou totdat sy volledige herfinansieringsplan afgehandel is. Die portefeuljekomitee oor finansies weet ons het dié onderneming gegee. Ons het dit op ons vorige vergadering in Maart aan hulle gesê.”

Die nuwe waarborg kom bo en behalwe ander waarborge van R6 miljard wat die SAL reeds tot sy beskikking het, maar op sterkte waarvan kommersiële banke geen lenings wou toestaan nie omdat daar geen duidelik regrukstrategie vir die lugdiens was nie.

Die regering het ook verlede jaar R10 miljard in die lugdiens ingepomp, wat die totale kapitaalinspuiting sedert 2011 op R55 miljard te staan bring.

Vuyani Jarana, uitvoerende hoof van die lugdiens, het vroeër die week aan Business Day gesê die SAL gaan nog R21,7 miljard as herfinansiering nodig hê om teen 2021 winsgewend te wees. Sedertdien is gegis dat die regering nog waarborge aan die SAL gelewer het. Die geld sal as kapitaalinspuitings en lenings in die lugdiens gepomp word. Die fyner besonderhede daarvan word uitgewerk deur ’n toesigkomitee waarvan Gungubele die voorsitter is.

“Ons sal dit teen Oktober met die mediumtermynbegroting bekend maak,” het Gungubele Vrydagaand aan Rapport gesê kort voordat hy op ’n buitelandse besoek vertrek het.

Jarana sou die jongste kwartaalverslag Woensdag in ’n geslote vergadering van die portefeuljekomitee oor finansies bekend maak. Die DA-verteenwoordigers in die komitee, David Maynier en Alf Lees, het egter geweier dat die vergadering met geslote deure gehou word.

Thandi Tobias, waarnemende voorsitter, het hulle toe opdrag gegee om die dokumente waarin die reg­rukplan uiteengesit word, aan die komitee terug te gee, maar Maynier en Lees het geweier, waarop Tobias die parlement se sekuriteitspersoneel ontbied het om die dokumente by die twee DA-lede af te neem. Die twee is by die komiteekamer uit voordat die sekuriteitspersoneel opgedaag het. “Daar is niks in hierdie dokumente wat sensitief is nie en die meeste van die inligting is reeds bekend,” sê Maynier.

Hy en Lees is die middag na Gungubele se kantoor ontbied. Kort daarna, teen omstreeks 17:00, het die tesourie die voorlegging bekend gemaak wat Jarana die oggend met geslote deure aan die portefeuljekomitee sou lewer.

Daarvolgens het die SAL nog ’n rampspoedige kwartaal beleef tot einde Maart omdat sy verkope skerp daal en hy ’n verlies van R996 miljoen gely het weens die sterker rand. Sy totale verlies in die kwartaal was R1,8 miljard, wat sy verlies vir die jaar tot einde Maart op R5,7 miljard te staan bring.

Sy inkomste op binnelandse vlugte het met 21% gedaal en met 11% op sy internasionale vlugte.

Volgens die voorlegging het die passasiersvermoë van die SAL se mededingers in Suid-Afrika baie vinniger toegeneem as wat hy verwag het. Die winsgewende roete tussen Johannesburg en Kaapstad het glo ook ’n versadigingspunt bereik. Jarana het ook nog nie veel gevorder met die regrukplanne, soos die verkoop van vyf wyerompvliegtuie nie, maar het vier van sy Boeing 737’s aan Mango oorgedra.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.