Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Staatskaping: Mense ‘te bang om te praat’
Themba Maseko, voormalige hoof van die regering se kommunikasiediens. Foto: GCIS

Mense kom uit vrees nie na vore met inligting oor die Guptas se onbehoorlike invloed op die regering nie, het Themba Maseko, die voormalige hoof van die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel (GCIS), Woensdag getuig.

Maseko het in Johannesburg getuig voor die kommissie wat staatskaping ondersoek, onder leiding van adj.hoofregter Raymond Zondo.

Maseko het na ’n brief verwys wat in 2016 deur ’n groep van 27 gewese direkteurs-generaal onderteken is waarin ’n openbare verhoor versoek is om staatskaping te ondersoek.

Op die vraag van Zondo of enige van die ondertekenaars en huidige senior regeringsamptenare gewillig sou wees om na vore te kom met bewyse, het Maseko gesê sy “eerlike mening” is die gebrek aan steun vir diegene wat vroeër na vore gekom het en die vrees dat hulle hul werk kan kwyt wees, weerhou mense daarvan om te praat.

“Ek is oortuig daarvan daar is heelparty senior amptenare, middelvlakbestuurders, wat te doen gehad het met individue wat die Gupta-familie insluit.

“Die rede waarom hulle nie na vore kom nie is omdat hulle bang is vir weerwraak, om hul werk te verloor en die land se onvermoë om diegene te steun wat bereid is om te praat.”

Zondo het vroeër gesê die reaksie op die kommissie se versoek dat mense inligting oor staatskaping moet gee, was “teleurstellend”.

Maseko het in 2016 ’n geskrewe klag by die ANC ingedien toe die organisasie sy lede gevra het om bewyse te verskaf dat die Guptas ’n onbehoorlike invloed op die regering gehad het. Niks het gebeur nie omdat Maseko die enigste mens was wat ’n klag ingedien het.

Dennis Bloem, woordvoerder van Cope, sê Maseko se vrese is nie ongegrond nie.

“Wat mnr. Maseko sê is die waarheid. Mense is bang om na vore te kom. Mense soos Maseko, Vytjie Mentor en Mcebisi Jonas is dapper mense wat hul lewens op die spel geplaas het.

“Die Guptas is wrede mense. Hulle soek die sleutels van die staatskoffers en hulle skommel ministers daaroor,” sê hy.

Pres. Cyril Ramaphosa en sy voorganger, Jacob Zuma, moet voor die kommissie gedaag word om te getuig oor wat hulle van staatskaping weet, wanneer hulle daarvan bewus geword het en wat hulle daaromtrent gedoen het, sê die DA Woensdag in ’n verklaring.

Uiteindelik was die voormalige en huidige presidente van die ANC, Ramaphosa en Zuma, in beheer van die regering toe staatskaping hoogty gevier het, sê John Steenhuisen, hoofsweep van die DA.

Protas Madlala, politieke waarnemer, sê senior amptenare in die regering kan inderdaad deur weerwraak in die gesig gestaar word indien hulle praat.

“Hulle is bang. Hulle kan hul werk kwyt wees en hulle sal alles doen om dit te beskerm.”

Meer oor:  Gcis  |  Themba Maseko  |  Staatskaping  |  Vrees  |  Intimidasie  |  Getuies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.