Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Staking sal voortduur as regering nie luister

As die regering teen Woensdag nog nie op gegriefde begrafnisondernemers se eise gereageer het nie, sal hulle hul landwye staking voortsit en steeds verhoed dat enige lyke vanuit staats- of private hospitale of private huise verwyder word.

Raisibe Pole-Nkosi, president van die African Funeral Practitioners Organisation (Afpo), het Maandag dié dreigement gemaak en bygevoeg dat hulle sal verhoed dat enige begrafnis landwyd gehou word vir die duur van die staking van Maandag tot Donderdag.

Families van oorledenes moet volgens haar intussen die polisie versoek om die lyke te verwyder.

Afpo is een van 17 swart verenigings en forums van begrafnisondernemings wat deel is van die Unification Task Team (UTT) van die Nasionale Vereniging van Begrafnisondernemings, wat die staking organiseer.

Die UTT het vroeër in ’n verklaring gesê dat die staking revolusionêr is omdat hulle standpunt inneem om “die oorgeërfde wetgewing van apartheid te beveg wat net die belange van witmonopoliekapitaal en ’n paar swart elite beskerm” wat die status quo ten koste van die swart meerderheid verdedig.

Ons is nie seker hoeveel ondernemings hier aan die staking deelneem nie, maar tot dusver het dit nog geen beduidende uitwerking gehad nie.

Pole-Nkosi het bygevoeg dat die staking kom nadat verskeie van hul griefskrifte vroeër deur die regering geïgnoreer is.

“Ons vra nie baie nie. Ons eis net dat die uitkontraktering van ons lykshuisgeriewe erken en gewettig word.

“Verder eis ons dat versekeringsmaatskappye nie toegelaat moet word om ook as begrafnisondernemers sake te doen nie, want hoe kan ons dan regverdig meeding?

“Ons is ook gegrief oor die feit dat die regering wil hê ons moet die private persele wat ons vir lykshuise gebruik, laat hersoneer. Dit is te duur.”

Volgens haar is hul lede ook nie oor die Covid-19-regulasies vir die bedryf gekonsulteer nie en word hulle gedwing om self persoonlike beskermende toerusting aan te koop vir kliënte as dié lyke in hul lykshuise wil besigtig. “Ons kry geen staatshulp daarmee nie.”

Begrafnisondernemers is volgens Pole-Nkosi ook omgekrap omdat hulle by staatsbegrafnisse uitgesluit word “waar spesifieke ondernemings rooi tapyte daarvoor verhuur teen byvoorbeeld R1,2 miljoen, terwyl ons dit vir R1 200 kan verskaf”.

Sy waarsku as die regering nie teen Woensdag op hul eise reageer nie, sal die staking voortduur.

Intussen het dr. Phophi Ramathuba, LUR vir gesondheid in Limpopo, gesê dat daar teen Maandagmiddag nog net drie voorvalle was waarvan die departement bewus is waar begrafnisondernemers in dié provinsie nie lyke soos gewoonlik gaan afhaal het nie.

“Ons is nie seker hoeveel ondernemings hier aan die staking deelneem nie, maar tot dusver het dit nog geen beduidende uitwerking gehad nie.”

Baie niestakende ondernemings het volgens haar steeds vrye toegang tot hospitale (en ander instellings) om lyke te gaan haal. “Hierdie ondernemings het ook dikwels kontraktuele verpligtinge teenoor mense wat doodgaan, wat hulle moet nakom,” sê Ramathuba.

Die nasionale departement van gesondheid kon Maandag nie vir verdere kommentaar bereik word nie.

Popo Maja, woordvoerder, het wel Sondag in ’n verklaring gesê verskeie vergaderings is al met die stakendes oor die aangeleentheid gehou.

Hy het gesê dat die staking egter “baie kommerwekkend is omdat dit ’n openbare gesondheidsrisiko inhou”.

“Ons sal nie die nievoldoening aan wetgewing in hierdie sensitiewe bedryf toelaat nie. Die departement is gewillig om voort te gaan om in gesprek te tree met begrafnisondernemers vir ’n vriendskaplike oplossing.”

Meer oor:  Raisibe Pole-Nkosi  |  Lykshuis  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.