Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Standbeeld-kwessie: ‘Kruger moet skuif’
Die Kruger-beeldegroep op Kerkplein wat onlangs onder van­dale deur­geloop het. Foto: Felix Dlangamandla

Dit is nie ’n kwessie van of die standbeeld van Paul Kruger van Kerkplein geskuif moet word nie, maar eerder deur wie en wanneer, sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).

Die vraag of die Kruger-standbeeld geskuif moet word het onlangs weer onder die vergrootglas gekom nadat die groep beelde met rooi spuitverf bygedam is.

Dit kom ook in die lig daarvan dat die standbeeld van pres. M.T. Steyn Saterdag by die Universiteit van die Vrystaat (UV) verwyder is.

“Wat die FAK basies sê, is dat ons nou ’n venstertydperk het om op ’n vreedsame en ordelike manier met rede daaroor te gesels. Die beeld van Paul Kruger loop gereeld deur onder vandalisme,” sê Langner.

Hy sê Pretoria is nie meer slegs ’n Afrikaner-stad en -simbool nie.

“Die FAK dink dit is tyd vir ’n openbare diskoers om te bespreek of Kruger nog ’n plek in Pretoria het waar hy nou staan of is dit nodig dat hy na ’n veiliger plek moet skuif?”

Wat nou gebeur, is die eerste verkennende gesprekke. Kruger gaan skuif, die vraag is net deur wie en hoe.

Langner stel voor dat die standbeeld na die monumentkoppie by die Voortrekkermonument geskuif word omdat dit kultuurhistories by dié erfenisterrein inpas.

“As daar eers oproer is of die standbeeld word platgeslaan of gevandaliseer is dit geweldig vernederend. Dit is dan ’n wen-verloor-situasie waar ons nou eerder ’n wen-wen-situasie kan kry.”

Langner sê die wet bepaal dat daar ’n proses van openbare deelname moet wees oor die verskuiwing van ’n standbeeld en daar is nog nie formeel deur enige organisasie aansoek gedoen om die standbeeld van Paul Kruger­ te verskuif nie.

“Wat nou gebeur, is die eerste verkennende gesprekke. Kruger gaan skuif, die vraag is net deur wie en hoe.”

Hy sê oor die wêreld heen is standbeelde tans brandpunte.

“Beelde is emosionele sake en ’n mens gaan nie van die emosie daaragter loskom nie. ’n Mens moet ook erkenning gee aan die gevoel van verlies in terme van die verskuiwing van beelde.”

Hy sê daar is ’n rede waarom die beeld van Paul Kruger op Kerkplein staan en as dit geskuif word, is daar ’n kultuurhistoriese verlies wat daarmee saamgaan.

Cecilia Kruger, hoof van die Erfenisstigting, sê daar word onder normale omstandighede aanbeveel dat sulke soort monumente en standbeelde op die plek waar hulle opgerig is, bewaar word. Sy sê 90% van dié beelde word opgerig binne ’n sekere konteks.

“As die beelde verwyder word, verwyder jy die konteks en die betekenis. In die geval van die Paul Kruger-standbeeld bly ons steeds by ons amptelike standpunt dat hy daar gelos moet word sodat dit sigbaar is as verteenwoordiging van die Afrikaner en sy geskiedenis.”

Kruger sê oudpres. Kruger word baie nou verbind met die geskiedenis van Kerkplein. Sy sê as die vandalisme steeds voortgaan, kan die standbeeld steeds iewers in die stad geplaas word of selfs by die Voortrekkermonument.

Volgens Kruger is die verskuiwing van die standbeeld nog nie amptelik uitgeklaar nie.

“Teoreties gesproke sou die Voortrekkermonument se terrein binne konteks van die beeld kon wees omdat Paul Kruger ’n kind was gedurende die Groot Trek. In later jare was hy ook die president van die ZAR. ’n Mens sou ’n konteks kon skep vir hom wat nie vergesog is nie.”

Sy sê die Erfenisstigting het goeie samewerking met die afdeling van die Tshwane-metro wat werk met biblioteke en erfenis.

Dié afdeling het onlangs ’n brief, wat Beeld onder oë gehad het, aan die stigting gestuur om hom te bedank vir die skoonmaak van die Kruger-beeldegroep. In die brief word ook genoem dat hy met die Tshwane-metropolisie onderhandel om die standbeeld te beveilig.

“Die eerste prys bly om die standbeeld te hou waar dit is en later ander beelde by te voeg, maar ook om dit nie te onttrek uit die publieke oog nie.”

Kruger sê dit sal ook nie maklik wees om die beeld te skuif nie omdat dit uit ’n hele kompleks van beelde bestaan, onder meer die Boerekrygers. Sy sê sowat sewe jaar gelede is daar ’n kwotasie van R10 miljoen ontvang om dit wel te skuif.

Meer oor:  Erfenisstigting  |  Danie Langner  |  Kerkplein  |  Pretoria  |  Paul Kruger  |  Standbeede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.