Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Stappe oorweeg teen verkeersman wat ‘wittes haat’

Motoriste in die Vrystaat oorweeg regstappe teen ’n provinsiale verkeersbeampte wat verkeersoortreders met die tronk dreig en glo sê dat hy wit mense haat.

Volgens drie motoriste is hulle deur vermoedelik dieselfde verkeersbeampte op die N8 tussen Kimberley en Bloemfontein voorgekeer en met die tronk gedreig.

’n Skermgreep uit beeldmateriaal waarin Brian Ward gesien word toe hy Donderdag op die N8 naby Petrusburg in die Vrystaat deur 'n verkeersbeampte voorgekeer is. Foto: Skermgreep

Al drie erken hulle het die padreëls oortree, maar meen daar was geen rede om hulle met die tronk te dreig nie.

In die jongste voorval is die betrokke verkeersbeampte Donderdag op kamera vasgelê toe hy Brian Ward (28) van Kimberley naby Petrusburg voorgekeer het.

Ward sê hy was van Bloemfontein na Kimberley onderweg toe die beampte hom om 14:40 van die pad afgetrek het.

Hy sê sy kollega wat saam met hom in die motor was, het die video sonder die beampte se medewete opgeneem.

In die video sê die verkeersbeampte Ward het oor ’n dubbele ononderbroke wit streep gery, asook oor ’n geverfde eiland.

Ward erken hy het oor die dubbele streep gery, maar nie oor die geverfde eiland nie.

Hierop waarsku die verkeersbeampte hom om nie met hom te stry nie en dat hy hom sal toesluit. Hy beveel Ward om uit die motor te klim en sê hy is weens roekelose en nalatige bestuur onder arres. Hy lees dan Ward se regte vir hom voor.

Die beampte beveel hom dan om hom tot by die Petrusburg-polisiekantoor te volg en sê hy mag nie sy gesag uitdaag nie.

Terwyl Ward sê: “Ek vra om verskoning”, sê die beampte vir Ward om in sy motor te klim en dat hy “siek en sat is vir wit mense wat vir hom ’n houding gee”.

Volgens Ward het hy sowat 1 km agter die beampte aangery voordat die beampte stilgehou, hom na sy motor geroep en hom ’n boete van R1 000 opgelê het.

Hillary Mophethe, Vrystaatse woordvoerder van die departement van polisie, paaie en vervoer, sê verkeersbeamptes kan volgens wet hul diskresie gebruik om ’n motoris in hegtenis te neem.

Sy sê dit gebeur soms dat die motoris nie in hegtenis geneem word nie en net ’n boete opgelê word, maar dit hang van die situasie af.

Nóg ’n motoris het glo in April 2017 dieselfde verkeersbeampte op video opgeneem.

Terence Shone (36) van Kimberley sê hy is tussen Petrusburg en Bloemfontein voorgekeer.

Shone sê hy het ’n vragmotor op ’n ononderbroke streep verbygesteek en oomblikke later flikkerende blou ligte in sy truspieël gesien.

’n Vroue-verkeersbeampte het ’n boete uitgeskryf, waarna Shone die boete gevat en dit onder sy bakkie se rubbermat op die bak ingedruk en weggery het.

Sowat 2 km verder is Shone deur dieselfde verkeersmotor afgetrek, maar dié keer het die betrokke verkeersbeampte uitgeklim.

Ward sê hulle sal die naweek met nog mense vergader wat deurgeloop het, waarna hulle op ’n plan van aksie sal besluit.

“Ek was omgekrap oor die boete en het verskoning gevra en erken ek het ’n fout gemaak. Maar die verkeersbeampte het volgehou dat ek disrespekvol is en dat wit mense arrogant is.”

Op die video word gehoor hoe die verkeersbeampte sê hulle moet Shone toesluit.

Sekondes later kan gehoor word hoe die beampte sê hy haat wit mense en hy verdra hulle net op die pad weens “dié houding wat wit mense vir hulle gee”.

Mophethe het sowel Shone as Ward se video’s gesien en beaam dat die uniform van die beampte dié van ’n provinsiale verkeersbeampte is.

Sy het die beampte geloof vir sy werk deur die motoris te groet, die motoris se oortreding uit te wys en die regte prosedure te volg deur die motoriste se regte voor te lees, soos van ’n verkeersbeampte vereis word.

By navraag oor die rassistiese aanmerking het Mophethe gesê dit was die verkeersbeampte se persoonlike mening en die departement kan nie namens hom antwoord nie.

Sy het wel gesê die saak sal ondersoek word en vir konsultasie aan die hoofdirekteur van verkeersbestuur gegee word.

Nog ’n man (36) van Kimberley, wat anoniem wil bly, sê hy is op 1 Mei, sowat 48 km buite Kimberley, deur dieselfde verkeersbeampte wat in die video gesien word, voorgekeer.

Die man sê hy het ’n motor op ’n ononderbroke wit streep verbygesteek omdat hy gemeen het dat dit veilig was.

Die man sê hy het aan die beampte probeer verduidelik hoekom hy die padreëls oortree het, maar die beampte het slegs gesê dié is sy pad, hy is die wet en hy hou nie van wit mense nie.

Die man beweer die verkeersbeampte het gedreig om hom toe te sluit, maar het van plan verander.

Al drie motoriste sê hulle beoog stappe teen die beampte.

Ward sê hulle sal die naweek met nog mense vergader wat deurgeloop het, waarna hulle op ’n plan van aksie sal besluit.

Mophethe het intussen ’n beroep op motoriste gedoen om ontevredenheid op die departement se webwerf aan te meld sodat die sake ondersoek kan word.

Meer oor:  Vrystaat  |  Rassisme  |  Verkeersman  |  Ondersoek  |  Tugstappe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.