Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Stert wat by toilet uitsteek’ toe kobra s’n

’n Gesin van Modimolle in Limpopo gaan ’n ruk lank nie met ’n geruste hart toilet toe kan gaan nie nadat ’n slangvanger Woensdag ’n wipneuskobra uit ’n toilet in hul plaashuis moes verwyder.

Darius Lessing (4) van Modimolle het Woensdag op ’n slang in sy ouerhuis se toilet afgekom. Foto: Natan Lessing

Natan Lessing sê sy vierjarige seun, Darius, het vir hom en sy vrou, Neriché, gesê hy kan nie gaan piepie nie, “want die slang se stert steek by die toilet uit”.

Die Lessing-egpaar het Darius van kleins af van die gevaar van slange geleer.

Ná Darius se verduideliking van “die slang se stert” is Lessing self na die toilet toe waar hy die bruin vel van die slang gesien het wat by die spoelrand uitgesteek het. Hy het met ’n draad en ’n braaitang probeer om die opgekrulde slang uit die toilet te kry.

“Dit is vir ons vreeslik, want ’n mens lees altyd net van sulke goed in tydskrifte en koerante. ’n Mens dink nooit dit kan met jou gebeur nie.”

Lessing sê toe hy die slang se lyf sien, het hy besef “dit is nie die soort slang waarmee ’n mens moet sukkel nie”.

Hy het Theunis Victor, ’n plaaslike slangvanger, gebel om te kom help slang vang. Dit is die tweede keer dat Victor ’n slang op die gesin se plaas op pad na Vaalwater vang.

Dit is nie vreemd vir die Lessings om slange op die plaas en in hul huis te kry nie. Daar was al voorheen “huisslange”.

Victor het bykans ’n uur gespook om die slang uit die toilet te kry.

Nadat hy die slang agter sy kop beetgekry het, het hy lank gesukkel om die dier se wriemelende lyf uit die toilet te kry.

Die wipneuskobra wat Woensdag in ’n toilet op ’n plaas buite Modimolle gekry is.
Theunis Victor, ’n slangvanger van Modimolle, het dié wipneuskobra Woensdag agter sy kop beetgekry waar hy in ’n toilet geskuil het.

Lessing sê hulle het naderhand skottelgoedseep bo in die toiletbak gegooi om te help om die slang se lyf gladder te maak.

“Ons het intussen ook ’n goiingsak onder in die toiletbak gegooi sodat die slang nie in die water met die afvoerpyp langs kon verdwyn nie,” sê Lessing.

Ná ’n uur se gesukkel het Victor die slang uit die toilet gekry en na sy huis toe gevat. Die slang is langer as ’n meter.

“Hy het ’n foto vir my gestuur en daarop kan ’n mens sien dit is eintlik nogal ’n mooi slang,” sê Lessing.

Hy sê hy en sy vrou het ná die nare ondervinding onthou dat die toilet die afgelope paar dae gesukkel het om behoorlik te spoel.

“Die slang was moontlik ’n paar dae in die toilet vir al wat ons weet.”

Wipneuskobras hou van warm en bedompige plekke en kom algemeen in Limpopo voor.

Die slang se gif is neurotoksies en tas die senuweestelsel aan. Die slang het ook sitotoksiese gif wat weefsel aantas. Die wipneuskobra se kleure wissel van bruin, geel tot swart. Daar is ook gedeeltes wat soos stroke lyk en ’n ander kleur is as die grootste gedeelte van die slang se lyf.

Lessing sê Darius is ’n regte plaaskind en baie bedrywig. “Dit lyk nie of wat gebeur het hom baie pla nie. “

Meer oor:  Natan Lessing  |  Limpopo  |  Modimolle  |  Wipneuskobra  |  Slang
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.