Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Steve bespreek kwessies met verregse Duitse LP

Steve Hofmeyr sal na verwagting Vrydagoggend die verregse Duitse politikus en LP Petr Bystron in Centurion ontmoet.

Bystron is die speaker van die politieke party Alternative für Deutschland (AfD) en 'n lid van die Duitse regering se komitee oor buitelandse beleid.

Hy en Hofmeyr sal luidens ’n verklaring deur dié party Vrydag kwessies bespreek soos “die posisie waarin Suid-Afrikaanse boere hulle bevind, plaasmoorde en die bedreiging van grondonteiening”.

Die AfD beskryf Hofmeyr, wat ook die rol van Lukas van Staden in die internasionaal bekroonde rolprent Treurgrond vertolk, as een van die voorste woordvoerders vir die “inheemse Boerevolk, wat onder wye diskriminasie deurloop”.

Steve Hofmeyr in Treurgrond.Foto: Argief

Hulle loof Hofmeyr verder omdat hy sy standpunte wyd op Twitter en in die pers verdedig en meld dat sy aanhangers in 2017 ’n poging aangewend het om geld in te samel sodat hy pres. Donald Trump van Amerika kon gaan toespreek.

Hofmeyr het homself van dié veldtog gedistansieer nadat die groep Boere Krisis Aksie (BKA) op hul Facebook-blad, Kommandosorg, die groep wat wou hê hy moet met Trump oor “wit volksmoord” gaan praat, gekritiseer het.

Volgens BKA het John Rudman, wat aan die stuur van die veldtog was, ’n kriminele rekord en was die geldinsameling moontlik ’n swendelary.

Luidens AfD se verklaring is hulle die enigste Duitse politieke party wat die verknorsing waarin die Boere-nasie hom bevind, ter harte neem.

Die party het in April 2018 ’n amptelike vraag aan die Duitse regering gestel “om te hoor wat hy beplan om oor die krisis te doen en of Suid-Afrikaanse vlugtelinge geregtig is op asiel in Duitsland”.

Hulle kla egter dat die regering van Angela Merkel, Duitse bondskanselier, se antwoord hierop “opsetlik vaag” was.

Hofmeyr sê hy is lankal ’n groot aanhanger van AfD en is bevoorreg om een van hul toonaangewende kenners oor buitelandse beleid te ontmoet terwyl hy in Suid-Afrika is.

Die sanger sê hy hoop van harte Europese nasies sal druk begin uitoefen op die Suid-Afrikaanse regering om “die afskuwelike misdade wat teen ons mense gepleeg word”, te keer.

Bystron sê die feit dat daar in die 2017/18 finansiële jaar 581 plaasaanvalle in Suid-Afrika was en grondonteiening sonder vergoeding strook nie met Europese waardes nie.

“Duitsland het in 2016-’17 bystand van €314,5 miljoen aan Suid-Afrika verskaf. As die Suid-Afrikaanse regering nie menseregte waarborg nie, sal ons seker maak dit gebeur nie weer nie.”

Bystron, wat in 1988 as ’n vlugteling uit die voormalige Tsjeggo-Slowakye in Duitsland aangekom het, is volgens AfD ’n bekende politieke skrywer en tans een van die gewildste politieke leiers op Twitter.

Meer oor:  Steve Hofmeyr  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.