SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Algemeen
Steve Hofmeyr: ‘Dit gaan eintlik sleg met my’
Steve Hofmeyr en Demi-Lee Moore sing ’n duet by die Dankie Steve-konsert by die Voortrekkermonument, waar die FAK hom vereer het met ’n toekenning vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek die afgelope 30 jaar.Foto: Deaan Vivier

“Dit gaan eintlik sleg met my, mense – maar hel, ons het ’n God, ons het ’n kultuur en ons het mekaar.”

Dít was die sanger Steve Hofmeyr se woorde op die verhoog toe hy Donderdagaand met ’n FAK-prestige-prys vir die bevordering van Afrikaanse musiek vereer is.

Die Dankie Steve-konsert is voor sowat 2 000 mense in die Voortrekkermonument se amfi-restaurant in Pretoria gehou.

’n Video wat Hofmeyr se lewe en loopbaan opsom, is op groot skerms gewys.

Die laaste ruk hang daar ’n wolk van omstredenheid oor Hofmeyr met maatskappye soos MTN, Toyota en MultiChoice wat hom boikot oor sy standpunte.

“Ek dink baie mense lees my verkeerd – ek wil eintlik net sing,” sê Hofmeyr.

“Ek vra min. Ek vra weer om ’n sanger te word wat nie saans huil oor die lot van sy mense nie. Voor ek doodgaan, wil ek weer ’n boerseun wees wat sy volksliedjies mag sing en sy vlag mag wapper.

“Ek is nie ’n goeie boekhouer nie – ek is so sleg om my woorde te tel.”

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, oorhandig ’n toekenning aan Steve Hofmeyr by die Dankie Steve-konsert vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek oor die afgelope drie dekades.Foto: Deaan Vivier

Die konsert is gehou om Hofmeyr vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek oor drie dekades te vereer.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het in sy toespraak spottenderwys gesê Bruce Beyers het ’n suksesvolle loopbaan begin as ’n Afrikaanse sanger en akteur onder die skuilnaam Steve Hofmeyr.

Hofmeyr het jare gelede dié rol vertolk in die rolprent Agter elke man.

“Ons weet hensop, oorgee, onderdanig, jabroer, kniebuig, kuddedier, massamens en lafaard was nooit deel van Bruce Beyers se mondering nie en is nog minder deel van Steve se woordeskat,” sê Langner.

“Op ’n unieke manier verteenwoordig Steve die onverskrokke waagmoed, besliste dryfkrag en voorop-die-wa hardkoppigheid van Afrikaners. Hy gee inhoud aan woorde soos vasstaan, opstaan, sterk staan.

“Dit is die kulturele ruggraat van Afrikaners. Dit is die gees en karakter wat ons in Steve sien en wat soveel Afrikaners inspireer en moed gee.

“Vir die napraters, beswaardes, onderdrukkers, veroordelaars, beterweters, regeringspapegaaie en selfaangestelde sensuurraad sê tannie Stienie (in Agter elke man): Los ons Bruce uit!

“Die ‘ou lady’ mag sommiges kwaad maak, maar wie is ons om met tannie Stienie te stry? Ons sê ook ‘los ons Steve uit!’ ”

Steve Hofmeyr in ’n goeie luim by Donderdag se Dankie Steve-konsert. Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Fak  |  Steve Hofmeyr
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.