Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Monument word grootskerm vir konsert

Die Voortrekkermonument se vooraansig gaan vir die eerste keer as grootskerm vir ’n unieke aanlyn konsert gebruik word.

Die FAK bied op 16 Junie ’n konsert aan om die dag te gedenk waarop die verskroeide-aarde-beleid ten tyde van die Anglo-Boereoorlog aangekondig is: 16 Junie 1900, presies 120 jaar gelede. Meer as 22 000 kinders het weens dié beleid in konsentrasiekampe gesterf en duisende plase en dorpe is verwoes.

Steve Hofmeyr is die eerste sanger in die Hier staan ons-konsertreeks. Foto: Deaan Vivier

Dié vertoning is die eerste in reeks waarin Jak de Priester as gasheer optree. In elke konsert verwelkom hy ’n ander gas. Steve Hofmeyr is die eerste gaskunstenaar.

Mense wat ’n kaartjie vir R50 koop, kry ’n skakel na die konsert wat op 16 Junie om 19:00 beskikbaar is.

“My visie is dat hier oral mense moet sit sodat dit ’n nuwe “live” venue kan wees. So vir my om deel te wees daarvan is wonderlik,” sê De Priester.

“Dit is die eerste van ’n wonderlike ding wat in die toekoms kan gebeur.”

De Priester sal ook self vir ’n paar liedjies agter die mikrofoon inskuif en het die temalied “Hier staan ons monument” vir die konsertreeks geskryf.

“My werk as gasheer is om met die gaskunstenaar ’n onderhoud te voer. Ons gaan gesels asof ons in ’n sitkamer iewers sit, maar dit is moeilik met geen gehoor nie,” sê hy.

‘n Foto van Gé Korsten word op die Voortrekkermonument geprojekteer terwyl Steve Hofmeyr Korsten se bekende treffer “Liefling” sing. Foto: Deaan Vivier

Hofmeyr beplan om sowat tien minute af te staan aan gewilde FAK-liedjies soos “My Sarie Marais” en “Suikerbos”. Hy sal ook van sy bekendste liedjies soos “Feeslied” en “Redgebed” sing, terwyl De Priester hom sal uitvra oor sy musiekloopbaan.

“Dit sal my baie lank neem voordat ek ’n Engelse liedjie op die trappe van die Voortrekkermonument gaan sing,” skerts hy.

“Ek hoop dit is die begin van ’n kettingreeks van konserte wat hier kan gebeur om ons monument ’n bietjie suurstof in te blaas,” sê Hofmeyr.

Die verhoog vir die Hier staan ons-konsertreeks word opgestel by die Vrouebeeld by die ingang van die Voortrekkermonument.

Joe Engels, eienaar van Xtreme Productions, wat die konsertreeks moontlik maak, sê daar is twee enorme projektors wat die beeld van die konsert op die monument projekteer. Foto’s en musiekvideo’s word ook gedurende die konsert op die monument vertoon.

“Sowat sewe kameras word gebruik om die konsert af te neem en dan is daar nog drie kameras wat die projeksie-gedeelte doen,” sê hy.

Daar is nie ’n beperking op die getal vertonings in die reeks nie en verskillende konserte sal deurentyd bekend gemaak word.

“Wanneer die inperking opgehef word, sal buitelugkonserte gehou word waar mense die vertoning op die monument se vooraansig kan bywoon,” sê Johan Janse van Vuuren, projekbestuurder van die FAK.

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, het vroeër gesê die doel van die konsertreeks is om “deur erkenning aan ons Afrikaanse legendes en die herdenking van belangrikste historiese dae ook geld in te samel vir die FAK-Geskiedenisfonds wat ten doel het om Afrikanermonumente te help”.

Die Voortrekkermonument is onder groot finansiële druk weens die staat van inperking en daarom sal ’n groot gedeelte van die eerste konsert se wins uit kaartjieverkope aan dié monument geskenk word, sê Janse van Vuuren.

Cecilia Kruger, besturende direkteur van die monument, sê die FAK se inisiatief beteken vir hulle geweldig baie.

“Ander organisasies het al op ander maniere bygedra. Ons krisistyd is totdat die toerismemark weer oopmaak,” sê Kruger.

Kaartjies kos R50 en is by https://plankton.mobi beskikbaar. Mense wat ’n kaartjie koop, sal ’n skakel na die konsert kry wat op 16 Junie om 19:00 beskikbaar is.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.