Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Steve oor inenting: ‘Ek lees jy kan doodgaan’

Steve Hofmeyr is weer perdfris nadat Covid-19 hom weke lank platgelê het, maar hy sal nie binnekort toustaan vir die entstof nie.

Steve het dié foto’s van homself gedurende sy stryd teen Covid-19 op Facebook geplaas.

Die sanger (57) het sy neus opgetrek vir die inspuiting toe ’n aanhanger hom aanmoedig om ’n inenting te kry.

“Steve Hofmeyr, dink daaraan dat jy ook ander mense beskerm teen die virus indien jy die inenting sou neem, en dink net daaraan hoeveel smart en lyding spaar jy hulle,” skryf Jacqueline Roodt in die kommentaar-afdeling van Hofmeyr se Facebook-inskrywing.

“Jy weet waardeur jy gegaan het, so, al doen jy dit net vir dié rede dan is dit ’n baie goeie rede. GROOT ASB. Kom ons doen almal ons deel en kyk of ons daardeur die lewe kan terugbring na normaal.”

Hofmeyr het voorheen gesê hy is “na die bodem van (die) hel” en het die “benoudste tye van sy lewe” beleef weens Covid-19. Hy het dit ook beskryf as die “grootste terugslag op die slegste tyd” van sy lewe. “Dit is ook die tweede keer dat ek ekstra tyd gegun word ná ’n mediese krisis,” skryf hy.

Nee, ek is steeds nie teen inenting nie.

In 2009 het die sanger ’n noodoperasie vir ’n geperforeerde dikderm ondergaan en nege maande later het hy twee bloedklonte gehad – eers in sy been en kort daarna in sy long.

Hofmeyr het op Roodt se plasing gereageer deur die doeltreffendheid van die entstof te bevraagteken. Hy het meer as 630 000 Facebook-volgelinge.

“Jacqueline Roodt, ek hoor jy kan ’n draer of superspreader wees mét inenting. Ek lees jy kan doodgaan ook.”

Hofmeyer verklaar nie waar hy dié inligting kry nie, maar kenners wys op data wat aandui dat inentings effektief is.

Statistieke oor ’n tydperk van sewe dae (in die week van 14 tot 20 Augustus vanjaar) in die Wes-Kaap wys dat mense wat hulself nie laat inent nie, hulself blootstel.

Volgens data wat dr. Saadiq Kariem, bedryfshoof in die Wes-Kaapse departement van gesondheid, bekend gemaak het, was 98,3% van sterftes by diegene ouer as 60 onder mense wat nie ingeënt is nie.

Altesame 96% van mense in dié ouderdomsgroep wat in die hospitaal opgeneem is, is nie ingeënt nie.

Hofmeyr meen hy het nou “tyd” om oor ’n inenting te besluit. “Nee, ek is steeds nie teen inenting nie. Ek is wel versigtig oor die Covid-entstof se ‘no liability’-klousule en wonder hoe gevaksineerdes steeds superspreaders kan wees. Hoe pla dit jou nie? Ek het vandag, goddank, natuurlike immuniteit en daarom ’n halfjaar grasie om te besluit oor my eerste inenting. Ek sal laat weet,” skryf hy.

Prof. Shabir Madhi, dekaan van Wits se fakulteit gesondheidswetenskap en ’n professor in entstofkunde, sê die virus dra net so goed oor van ingeëntes as oningeëntes, maar mense se kanse halveer om in die eerste plek besmet te word as hulle ’n inenting gekry het.

“Dit wissel volgens die entstof. Byvoorbeeld as iemand wat volledig ingeënt is met Pfizer 50% minder geneig is om besmet te word, sal die virus dus nie oorgedra word nie,” sê Madhi aan Rapport.

Volgens hom kry mense deurbraakinfeksies (waar ’n ingeënte persoon positief toets) en hulle het ’n hoë viruslading, maar skud die virus vinniger af as diegene wat nie ingeënt is nie. Dit beteken hulle is vir ’n korter tydperk aansteeklik.

Madhi is bekommerd oor enstofhuiwering. Dit beteken Suid-Afrika kan meer gereeld oplewings in Covid-19-gevalle verwag wat die terugkeer na ’n meer normale stand van sake sal vertraag.

“ ’n Groot aantal natuurlike infeksies wat plaasgevind het, kan help om vlakke van hospitalisering af te bring as daar weer ’n oplewing is.”

Volgens Madhi moet die land nie na kudde-immuniteit streef om na “normaal” terug te keer nie.

Die hoogs aansteeklike Delta-variant, wat infeksies in Suid-Afrika oorheers, bring mee dat 85% van die bevolking beskerming moet hê teen ligte of matige infeksies.

Die beskikbare entstowwe bied nie sulke hoë vlakke van beskerming teen infeksie met die Delta-variant nie, maar dit bied steeds uitstekende beskerming teen ernstige siekte en sterftes, sê Madhi.

Meer oor:  Steve Hofmeyr  |  Covid-19  |  Inenting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.