Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Steve sê hy sal nooit ‘relax’ oor plaasmoorde
Die gehoor Dinsdagaand in Hartenbos waar Steve Hofmeyr opgetree het. Foto: Claudi Mailovich

Steve Hofmeyr gaan nie terugsit oor boere wat vermoor word totdat die statistieke beter lyk nie.

Só het die sanger en aktivis Dinsdagaand voor honderde vakansiegangers by ATKV-Hartenbos gesê in reaksie op politici se antwoorde aan hom dat hy net “moet relax” oor die hoë moordsyfer van boere.

“Moenie vir my sê wanneer om te relax oor hoeveel van my eie mense vermoor word nie. Ek sal nooit luister nie,” het Hofmeyr te midde van applous gesê.

Hy het in ’n emosiebelaaide toespraak aan die gehoor verduidelik wat die impak op Afrikaners is wanneer ’n boer vermoor word nadat hy misdaadstatistieke aan hulle voorgehou het.

“Want elke keer as ’n boer vermoor word, verloor jy die voorreg van ’n vleisbraai, ’n brandewyn-en-Coke en ’n Van der Merwe-grappie in jou eie taal,” het Hofmeyr gesê.

“Verloor jy die voorreg van nagereg en sê jy tot siens vir Hertzogkoekies en Jan Ellis-poeding.

“Verloor jy ’n vers in Afrikaans. ’n Bybelvers, verloor jy ’n psalm, ’n gesang wat lui: Ek sien ’n nuwe hemel kom.

“Elke keer as daar ’n boer vermoor word, verloor jy ’n klein stukkie jy en ’n klein stukkie taal en ’n klein stukkie godsdiens.”

Hoewel Hofmeyr nie die hele Die Stem gesing het nie, het hy gesê dat ’n mens die “voorreg (verloor) om op ’n rots te staan en te sê: Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra.”

“Ons sal lewe ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika,” het die skare dié strofe saam met Hofmeyr gesing.

Sy lys het aangegaan oor wat die impak is en het geraak aan wat as heilige koeie gesien word in die tradisionele Afrikaner-landskap: Die FAK, Voortrekkererfenis en moedertaalonderrig.

“Om die waarheid te sê, 2015, sal jy onthou word as die jaar dat ons ons laaste Afrikaanse universiteit prysgegee het,” het Hofmeyr gesê.

Hy het meestal in Engels gesing en het skertsend verwys na sy selfverklaarde status as die “mees geboikotte wit man”.

Hy het ook sy ondersteuning vroeg in die vertoning vir Karlien van Jaarsveld uitgespreek toe hy die liedjie Sweet Caroline vir ’n oomblik verafrikaans het.

Met die uitstapslag het mense geduldig en skuifel-skuifel met slapende kinders oor hul skouers uitbeweeg.

'n Man se stem het deur die aandlug gedra soos ’n mens buite die terrein verby ’n gebou met wit mure gestap het waaroor die ou Suid-Afrikaanse vlag gedrapeer is: “Die ou kan maar president word. Hy sal beter as (pres. Jacob) Zuma doen.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.