Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Steve se seun maak glo moles in klub voor aanranding

Devon Hofmeyr is glo gevra om die Platteland- dans- en diskoklub in Centurion te verlaat kort voordat hy Donderdagaand laat buite die klub erg aangerand is.

Vriende en familie van Devon, Steve Hofmeyr se seun, het Vrydagmiddag dit nog oorweeg om die polisie se hulp te vra om die twee mans wat Devon glo beetgepak het, vas te trek.

Christo de Villiers, ’n mede-direkteur by Devon se Atlas7-veiligheidsonderneming, het gesê Devon is nog in die hoësorgeenheid van ’n hospitaal in Centurion waar hy vir ’n gebreekte kakebeen en bloeding op die brein behandel word. “Die bloeding is gelukkig nie baie ernstig nie en Devon is by sy positiewe. Hy is orraait.”

De Villiers sê dis nog nie duidelik presies wat aanleiding gegee het tot die voorval Donderdag rondom middernag by Platteland nie. Claudio de Jonge, een van die bestuurders daar, het Vrydagmiddag gesê hy het nie self die voorval sien gebeur nie.

Devon en Steve Hofmeyr.

“Op die beeldmateriaal lyk dit asof Devon en nog mense in die klub in ’n onderonsie betrokke was, maar dis nie duidelik waaroor dit gegaan het nie. Ons klub se veiligheidswagte het Devon toe gevra om die klub te verlaat.”

Devon is blykbaar erg beseer in die bakleiery wat hierna buite die klub voortgegaan het. De Jonge sê die klub gaan die beeldmateriaal nie openbaar maak nie omdat dit deel sal uitmaak van ’n moontlike polisie-ondersoek.

Polisiewoordvoerders in Pretoria het medianavrae Vrydagmiddag van bakboord na stuurboord verwys, maar geen woordvoerder vir Centurion kon bereik word nie.

Devon en ’n vriend is in April vanjaar ook gevra om die kykNET Ghoema-toekenningsgeleentheid te verlaat. Dít nadat hy en die vriend tydens die geleentheid in die Sun Arena in Pretoria opgestaan en gesê het dis ’n leuen dat die Afrikaanse taal en kultuur by die Ghoemas gerespekteer word, en dat dit in der waarheid gesensureer word. Dit was in die lig van die Ghoema-organiseerders se omstrede besluit om Steve se benoeming vir beste musiekvideo vir Die land te onttrek.

Devon en nog vriende het ook ’n plakkaat gemaak wat hulle vasgehou het terwyl gaste by die Ghoema-geleentheid aangekom het. Op die plakkaat was ’n foto van Steve, die VF Plus se logo en die woord DIE LAND/STOP SENSUUR!

Meer oor:  Devon Hofmeyr  |  Steve Hofmeyr  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.