Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Steve wil weer pa word
Steve Hofmeyr (51) sê hy het nie meer so ’n besige leefstyl soos toe hy jonger was nie. Foto: Mary-Ann Palmer

Steve Hofmeyr (51) wil vir die sesde keer pa word.

“Kyk, ja, ons werk nou aan ons oorstoot-drie in beseringstyd. Janine (sy vrou) het nie kinders nie, so ons gaan een maak,” sê Steve.

Hy en Janine (37) sal in Januarie twee jaar getroud wees.

“Dit vat wel ’n bietjie langer om swanger te raak as wat ons gedink het. Maar ons het albei gegaan vir toetse en ons is vrugbaar en reg vir ’n kind.

“Janine is ma-materiaal, regtig. Dis al wat sy wil hê. As ons te lank sukkel, sal ons hulp kry. Ons gaan nie ophou nie,” sê Steve.

Rapport het die afgelope week eksklusief by ’n restaurant in Midrand met die sanger gepraat oor sy ander nuwe “baba”, sy country-musiek-CD, If You Could Read My Mind, wat in net ’n week goue status verwerf het.

“Ons sal uit ons velle van blydskap wees as ons ’n dogtertjie kan kry,” sê Steve, reeds pa van vyf.

“Ek het baie kinders, maar die eerste drie, Charissa (27), Armand (25) en Devon (21), was buite-egtelik en het in verskillende huise grootgeword. Sebastian (13) en Benjamin (11), my en Natasha (Sutherland) se kinders, het wel voor my grootgeword en kom bly steeds elke week van Sondag tot Dinsdag by my en Janine. Dan is ek ’n soccer daddy. Vroeg op, ­Janine maak vir hulle kos en dis ’n m**rse geryery. Ek doen geen konserte op daardie dae nie.

“Ek kom uit ’n huis met vyf seuns en is mal oor groot families. Hoe meer mense hoe beter.”

Hy dink nie hy is te oud om weer doeke te ruil nie.

“Ek het nie meer daai besige leefstyl soos toe ek jonger was nie. Ek kan nou terugsit en die momentum geniet. Ek het die persoon gekry met wie ek die res van my lewe wil spandeer en ek is gelukkig dat sy jonk genoeg is om my jonk te hou.

“En sy is gelukkig dat ek oud genoeg is om nie meer popster te wil speel nie.

“Dis jammer dat mense moes seerkry in die pad wat ons gestap het om by mekaar uit te kom. Maar ons hoort bymekaar.”

Steve en Natasha is geskei nadat sy jare lange buite-egtelike verhouding op die lappe gekom het. “Ons maak ’n goeie huis.

“Janine moet ma staan vir ’n klomp kinders wat nie hare is nie en doen dit m**rse goed. Sy ground my.

“Ons het huisdiere geword. Dis lekker. Janine is die boekhouer en ek die kreatiewe persoon. Ek is ’n luidrugtige, opinionated grootbek en sy glad nie. Ek like dit.

“Nou is daar net plek vir een grootbek in die huis – myne,” sê Steve en lag terwyl plooie om sy blou oë saamtrek.

“Van 40 af leef ’n mens in ontkenning en kan daarmee wegkom tot op 51. Dan is alles downhill.

“Maar ek het vrede daarmee, ook met die ekstra gewig. Al wat my nou kan red, is ’n maagvirus.

“Dis net sleg dat ’n mens se oë so vinnig ingee.

“Ek het van daardie goedkoop leesbrilletjies oral in die huis – die toilet, kar, slaapkamer, kombuis, televisiekamer . . . Die kinders weet al as hulle vir my iets op hul fone wys, moet hulle dit op die regte afstand hou,” sê Steve.

Hy is tevrede met sy 28ste CD in 26 jaar. “Ek was skrikkerig, want daar is geen Afrikaans op nie, en ‘Die Stem’ is ook nie daar nie. Dis ’n vreemde ding vir ’n ou soos ek om te doen. Ek is nou op hierdie wonderlike kulturele trip. En skielik doen ek ’n konsep-CD. Maar dis ’n ding wat al 30 jaar by my spook. Ons almal het ’n stukkie country in ons. Dis soos Huisgenoot – almal sê hulle lees dit nie, maar hulle koop dit skelm. Selfs Janine koop dit skelm, dan steek sy dit vir my weg.”

Ou gunstelinge soos The Gambleren Rhinestone Cowboy kan op die CD gehoor word.

Hy wil in 2017 weer ’n oorspronklike Afrikaanse CD uitreik.

“Ek het al so 20 liedjies geskryf. Dis weer tyd.” En wie weet, dalk is daar dan ook ’n liedjie vir die nuwe pienkvoet in pappa ­Steve se lewe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.